Witvlerkvleikuiken se SA broeiplek nou beskerm

Die witvlerkvleikuiken in vlug. (Foto: Warwick Tarboton/BirdLife SA)

Die enigste broeiplek van die kritiek bedreigde witvlerkvleikuiken (Sarothrura ayresi) in Suid-Afrika geniet nou uiteindelik ook internasionale beskerming.

Die Internasionale Bewaringsunie (IUCN) het die witvlerkvleikuiken as kritiek bedreig gelys. Daar is na raming sleg 250 volwasse voëls in die wêreld oor omdat vleilande ernstige degradasie en vernietiging in die gesig staar. Buiten Suid-Afrika kom die witvlerkvleikuiken slegs in Ethiopië voor.

Die Middelpunt-vleiland sowat 14 km buite Dullstroom in Mpumalanga is dié voëlsoort se enigste bevestigde broeiplek in die land en dit is vroeër vandeesmaand as Suid-Afrika se 29ste Ramsar-terrein aangewys.

Daar is meer as 2 000 Ramsar-terreine wêreldwyd in 160 lande. Suid-Afrika was een van die eerste kontrakterende partye wat die verdrag om die wêreld se vleilande te beskerm tydens die Ramsar-konvensie wat in 1971 in Ramsar, Iran, onderteken het. Suid-Afrika het sedertdien 29 vleilande as Ramsar-terreine verklaar.

ʼn Groep bekommerde burgerlike wetenskaplikes het juis die Middelpunt-vleilandtrust in 1994 gestig omdat hulle witvlerkvleikuikens gereeld hier opgemerk het en wou poog om die toestand van die vleiland te verbeter.

Witvlerkvleikuikens is klein, grondlewende voëls wat hul teenwoordighede slegs verklap deur ʼn spookagtige gehoe-hoe-roep. Die voëls spog met gestreepte, bruinerige vere en ʼn roeskleurige kop, bors en stert. Hulle het ʼn vlerkspan van sowat 16 cm en weeg 30 tot 35 g. Hul breë wit sekondêre vliegvlere is net tydens vlug sigbaar.

Die Dullstroom-forelplaas, die eienaar van die Middelpunt-vleiland, ondersteun BirdLife Suid-Afrika se wetenskaplike navorsing op die terrein om die voëls se fisiologie beter te verstaan. Dit is juis deur hierde moniteringsopnames dat die eerste broeirekord van die witvlerkvleikuiken in die somer van 2018 in die Suidelike Halfrond aangeteken is.

BirdlLife SA tree sedert 2015 as die koördineerder op van die Conservation of African Eurasian Migratory Waterbirds (AEWA) se witvlerkvleikuiken internasionale werkgroep en was ʼn belangrike skakel om die hulp van die departement van bosbou, visserye en die omgewing sover te kry om die nodige formele beskerming vir die Middelpunt-vleiland te bewerk sodat dié voëls op die lang termyn beskerm kan word.

Nog ʼn veer in BirdLife SA se hoed

BirdLife SA het onlangs ook twee pryse verower by die gesogte Responsible Tourism-toekennings wat by die World Market Africa in Kaapstad toegeken is.

Hierdie jaarlikse toekennings word oorhandig aan projekte en organisasies regoor Afrika wat werk aan maatskaplike en omgewingsvolhoubare toerisme.

Die bewaringsorganisasie se gemeenskapsvoëlgidsprojek het ʼn goue toekenning vir diversiteit en inklusiwiteit ontvang. Die projek, wat meer as 200 mense uit plaaslike gemeenskappe as professionele voël- en natuurgidse laat oplei het, is tans ook besig om Suid-Afrikaanse voëls se name in plaaslike tale te lys.

Andrew de Blocq van BirdLife SA aanvaar die goue toekenning vir diversiteit en inklusiwiteit vir die bewaringsorganisasie se gemeenskapsvoëlgidsprojek. (Foto: Verskaf deur World Travel Market Africa 2023)

Die silwer toekenning vir natuur-positiewe toerisme was ʼn kopknik vir BirdLife SA se pogings om toerisme en bewaring te verbind deur die gemeenskapsvoëlgidsprojek, die Ingula-vennootskap (wat bestaan uit BirdLife SA, die Middelpunt-vleilandtrust en Eskom) by die Ingula-natuurreservaat en die Wakkerstroom- toerisme- en onderwyssentrum, wat omgewingsopvoeding plaaslik ondersteun.

“Ons doen nie ons werk om pryse te ontvang nie, maar dit is bemoedigend wanneer ons pogings deur ons eweknieë in die bedryf erken word. Ons hoop die publisiteit vir ons projekte sal verder tot die voordeel van die gemeenskapvoëlgids sterk en ander inspireer om soortgelyke projekte aan te pak.

“BirdLife SA glo toerisme en bewaring moet plaaslike gemeenskap insluit want dit is die manier om te verseker dat voëls, biodiversiteit en natuurlike habitatte beskerm sal word,” het Andrew de Blocq, BirdLife SA se avitoerisme-projekbestuurder gesê. Hy was in Kaapstad om die pryse namens die organisasie te ontvang.

Voëlkenners en -liefhebbers vergader binnekort op die Tuinroete

Dr. Melissa Whitecross is die landskapbewaringsprogrambestuur by BirdLife SA en organiseerder van vanjaar se “Flock to the Wilderness”-geleentheid. (Foto: BirdLife SA)

BirdLife SA se jaarlikse “Flock to the Wilderness”-geleentheid is gewis een van die hoogtepunte op die plaaslike voëlkykkalender. Sowat 150 voëlkyk-entoesiaste van regoor die land, insluitende ʼn paar buitelanders, sal van Woensdag 24 Mei tot Sondag 28 Mei op die Tuinroete toesak om te netwerk en die jongste navorsing oor voëls te bespreek.

Die hart van die program vind by die Wilderness-hotel plaas.

Dr. Melissa Whitecross, landskapbewaringsprogrambestuur van BirdLife SA, het met Maroela Media oor vanjaar se “Flock to the Wilderness”-konferensie gesels. Klik op die speler om na die volledige onderhoud te luister waar Whitecross verduidelik wat alles vir vanjaar se geleentheid beplan word en hoekom die konferensie juis op die Tuinroete aangebied word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.