Wolprodukte vir jou uit die hart van Namakwaland

Gerber & Co

“My oupa Eli was maar drie jaar oud toe hy reeds deurnag skape moes oppas. ʼn Tent is tussen die skape opgeslaan en elke twee ure in die bitterkoue van Namakwaland moes hy opstaan om seker te maak daar is nie rondloperjakkalse nie. Dis ʼn groot taak vir ʼn klein seuntjie, maar sy ouers was arm boere.”

Só vertel Stefan Gerber, skaapboer en eienaar van Gerber & Co, ʼn maatskappy wat luukse merinowolprodukte verskaf.

“Die skape was al wat hulle gehad het, en die Namakwaland-woestyn is nie vir sissies nie. Tog floreer die geharde Namakwa-merinoskape in hierdie veeleisende toestande en bied steeds van die wêreld se beste wol.”

Oupa Eli het groot hoogtes in die reg en politiek bereik, maar sy hart het in Namakwaland agtergebly. Hy het al sy sukses laat vaar en teruggekeer na sy wortels om sy gemeenskap op te hef.

Namakwaland is van die armste dele in die land met ʼn werkloosheidkoers van 86% en droogtes wat tot sewe jaar lank kan voortduur.

Gerber & Co se fokus is vandag nog steeds om oupa Eli se droom te bly verwesenlik: om seker te maak die gemeenskap word opgehef en dat die gemeenskap ook kan baat by dié wêreldgehalte produkte. Dié maatskappy het binne ses maande reeds 10 voltydse en 36 deeltydse poste geskep. Stefan sê in hierdie geval staan die “Co” in die naam nie vir “Company” nie, maar “Community”.

Gerber & Co

“Oupa Eli se boodskap was eenvoudig: waar daar wol is, is daar ʼn weg. Sy lewe is onwrikbaar gebou op ‘tough love’, en daarom is dit ook die slagspreuk van ons maatskappy. Vandag weef ons ʼn nuwe toekoms vir ons streek, want net so gehard soos wat dit is, is ons lief vir ons woestyn.”

Gerber & Co se 100% organiese merinowolprodukte word met die hand geweef van skape wat met die hand geskeer word. “Elke kledingstuk beteken meer werk, meer vaardighede, meer hoop.”

Jou Gerber & Co-trui sal baie meer harte warm maak as net jou eie.

*Gerber & Co se produkte is by Kamers Vol Geskenke in Pretoria te koop van 4 – 9 Desember 2018 by Cornwall Hill College in Irene.

Besoek die maatskappy se Facebook-blad, Instagram en webwerf vir meer inligting of maak ʼn draai by die padstal in Bitterfontein in die Wes-Kaap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.