Wonderfamilie kweek volgende generasie se entrepreneurs

Die Malan-gesin. (Foto: Verskaf)

Op ʼn plaas in die Sterkrivier-omgewing in Limpopo woon ʼn familie wat tussen twee volwassenes en drie kinders tien ondernemings tussen hulle deel.

Onder leiding van hul ma, Tanya Malan (42), is Niah (13), Durandt (11) en Abi (9) besig om met planne te woeker vir sakeondernemings wat ʼn verskil aan Suid-Afrika kan maak. “Hulle wil nie net werk vir hulself skep nie, maar ook vir ander,” sê Tanya .

Durandt het sy eie aanlynwinkel geskep, Durandt Heirloom Seeds, waar hy tans 850 variëteite saad verkoop. Die term erfenissaad beteken dat die saad nog “oorspronklik” is, nie deur genetiese modifikasie beïnvloed is nie en organies gekweek word. Durandt het al op negejarige ouderdom met die onderneming begin en het in 2018 met die louere weggestap as die Afrivriendelik-kinderentrepreneur van die jaar.

Dié onderneming is tans ingeskryf vir die Unseen Heroes-kompetisie, waar ʼn entrepreneur ʼn advertensiebord langs die M1-snelweg in Johannesburg vir twee maande as prys kan losslaan. Die koste van só ʼn advertensiebord beloop tans sowat R160 000. Die kompetisie word deur sme.africa en Sasfin Bank aangebied. Die entrepreneur met die meeste stemme teen 3 Desember, sal die advertensieruimte op die bord wen. Durandt se onderneming is tans in die tweede plek.

Durandt Malan. (Foto: Verskaf)

“Dit sal wonderlik wees as Durandt wen. Kan jy dink as ʼn 11-jarige dit wen, hoe inspirerend dit sal wees vir ander kinders,” sê Tanya.

ʼn Klein sakeonderneming wat beskuit bak, Fruitmans Pantry, is tans bo-aan die ranglys. Daar is ook ʼn werwingsgroep, ʼn klere-ontwerper, ʼn niewinsgewende organisasie, ʼn sonkraginstalleerder en ʼn beleggingsmaatskappy onder die tien top-kandidate.

Verder het Durandt onlangs, met die geld wat hy reeds uit sy onderneming verdien het, vir homself ʼn tegnologies gevorderde hommeltuig gekoop waarmee hy sy tweede sakeonderneming wil aanpak. Met dié hommeltuig beoog Durandt om boere in die omgewing te help om hul vee te tel of wild aan te jaag na ʼn boma.

Durandt het ook een werknemer, ʼn vrou wat haar studie in politieke wetenskappe afgehandel het. Sy is tans verantwoordelik vir die opdatering van die aanlynwinkel.

“Die kinders eksperimenteer met verskillende ondernemings, en al is dit nie suksesvol nie, is dit oukei. Soms kan jy sien dat daar iets besig is om van ʼn idee te kom, maar partykeer sê jy, jy het geleer en sit dit een kant en kyk na die volgende ding. Solank hulle doen waarvoor hulle lief is, dit is ons doel. As jy vir my seun vra, sal hy sê daar is nie werk in die land nie, hy wil besighede hê sodat hy ʼn werkskepper kan wees en sal aanhou probeer,” vertel Tanya.

Niah, wat ook aan die Afrivriendelik se entrepreneur van die jaar kompetisie in 2017 deelgeneem het, en vyfde plek verwerf het, het haar eie natuurlike velsorgreeks, Boeremeisie Beeldskoon, ontwikkel. “Sy was die enigste kinder-entrepreneur tussen al die sakeondernenmings wat deur volwassenes ontwikkel en bestuur is.”

Niah Malan. (Foto: Verskaf)

Niah het die onderneming verkoop en verdien tans tantieme. Sy bestuur ook Help ʼn Onnie, waar sy flitskaarte vir onderwysers en gesin wat tuisonderrig, ontwerp en verkoop.

“Niah is my kunstenaarkind, sy is lief vir kuns en sy hou daarvan om te werk met klei en te teken. Ons skryf ons eie kinderboeke, wat sy dan illustreer,” sê Tanya.

Kleinsus Abi tower met die natuur. “Abi is ons klein kruiedame, die volgende Margaret Roberts. Sy het reeds haar eie winkeltjie, Abi se Kruiewa, en dokter sommer al wat dier hier op die plaas is met kruie uit my tuin. Ons het onlangs perde gehad wat met Afrika-perdesiekte gesukkel het, toe ruk sy al my kruie uit om die wortels te kry, konkoksies te maak en vir die diere te gee.”

Tydens die onderhoud laat Tanya weet dat sy dringend moet gaan help, want een van haar bokke lam, maar die lam sit vas. Later stuur sy ʼn Whatsapp-video aan, waar Abi die lammetjie help in die lewe bring het.

Tanya vertel verder dat 15 uit 58 van hul boerbokke onlangs gevrek het aan hartswater. Abi het, nadat sy haar ma dopgehou het, 13 van die bokke se nadoodse ondersoeke behartig. “Sy wil graag ʼn holistiese veearts word,” sê Tanya.

Abi het ook ʼn klein sakeonderneming, Koeshie, waar sy kussinkies maak.

Wat is die Malans se geheim tot die vindingrykheid en entrepreneuriese gees wat in die huis heers? “Tuisonderrig,” antwoord Tanya.

Sy vertel dat sy en haar man, Jacques, al voor hul kinders se geboorte besluit het dat hulle tuisonderrig wil aanpak, maar dat die besluit eers finaal was die dag toe sy moes terugkeer na haar kantoorpos as distriksbestuurder vir ʼn skoonheidsmaatskappy.

“Ons stem nie aldag saam met wat in hoofstroomskole geleer word nie en ons wou ons kinders so naby as moontlik aan die Here hou,” sê Tanya.

Die kinders, wat ook tans in die proses is om hul eie YouTube-kanaal te begin, gaan weekliks na Mokopane (Potgietersrus) vir Franse taallesse en naaldwerklesse.

Raak die kinders ooit verveeld? “Nee, hier is te veel om te doen. Hulle doen naaldwerk, skiet boog, maak video’s, skryf en hulle moet speletjies buite uitdink.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

charmaine ·

Ek hou stuif duim vans vir Durandt. Hoendervleis mooi wat hierdie kinders en hulle gaan wonderlike grootmense wees eendag. En sommer vir almal mag julle elke liewe kompetisie wen!!!

Zettie ·

Wens ek kon ‘n besigheid van my handgemaakte goedjies maak, maar mens het geld nodig om geld te maak……. #AllesMalan – baie sterkte met wat julle aanpak. Hoop julle maak ‘n reuse sukses!

SM ·

Wondelik! Jou kinders is so talentvol en bevoorregd om sulke ouers te he!

MCN ·

Ek het gaan stem vir Durandt, maar nou dui dit aan dat ek ook vir die voorloper gestem het…?

Sonja Slater ·

Ek het ook nou vir Durandt gestem en dit dui ook aan ek het vir die voorloper OOK gestem! Iets is fout met daardie stemportaal. Die kind sal mos nooit wen as elke stem vir hom ook vir die voorloper registreer nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.