Wonderspan skep ‘nuwe ore’ vir 6-jarige seun

Elijah saam met die Medicross-span. (Foto: Verskaf)

’n Span mediese kundiges het kragte saamgesnoer om vir ’n sesjarige seun van Upington in die Noord-Kaap, wat weens ’n seldsame mediese toestand sonder ore gebore is, ’n splinternuwe paar ore te maak.

Die brawe klein Elijah Cloete is tans in die middel van ’n reeks operasies oor die loop van verskeie maande om sy nuwe paar ore, spesiaal vir hom ontwerp, te kan ontvang.

Elijah is gebore met ’n seldsame mediese toestand, genaamd mikrosie, met bilaterale gehooratresie wat gehoorverlies in albei ore veroorsaak. Sy ore is onderontwikkeld en sy oorkanale gevolglik afgeseël. Shirene Cloete, Elijah se ma, sê die seuntjie se ore is ook op die oog af klein en misvorm.

Elijah het verlede maand sy eerste operasie ondergaan by die Medicross Kalahari Katarak-, Oog- en Daghospitaal in Upington om hom te help hoor. Elijah sal tydens die proses prostetiese ore en ’n gehoortoestel ontvang.

Dit volg nadat Cloete verlede jaar gelees het van ’n ander jong man met mikrosie wat deur ’n soortgelyke prosedure gehelp is. Sy het dadelik die gesin van die pasiënt genader om haar in aanraking met ’n mediese span te bring onder leiding van prof. Cules van den Heever, die Center for Rapid Prototyping and Manufacturing (CRPM) by die Sentrale Universiteit van Tegnologie (CUT) in die Vrystaat en die Carl & Emily Fuchs-stigting, ʼn privaatsubsidie-organisasie, om die bal aan die rol te sit om haar seun ook te help.

Elijah se misvormde ore is tydens sy eerste operasie aan die buitekant verwyder, waarna Van den Heever, die CUT-span en dr. Charles van Niekerk, ’n kaakchirurg, noukeurig moes saamwerk om te beplan hoe die inplantings, wat prostetiese ore moet kan bevat, geplaas moet word.

’n Driedimensioneel gedrukte stent is tydens die operasie oor Elijah se gesig geplaas om die span te lei om die ore presies te plaas oor die plek waar Elijah se misvormde ore eens was.

Die operasie het suksesvol afgeloop, maar ’n uitmergelende wagtydperk van drie tot vier maande lê vir Elijah voor sodat been aan die inplantings kan vasgroei. Van Niekerk verduidelik dat Elijah eers sy tweede operasie sal ondergaan wanneer die been vasgegroei het.

Nie net wil die span Elijah se gehoor verbeter nie, maar ook sy lewensgehalte. Daarom is die plan om Elijah met prostetiese ore toe te rus wat esteties realisties lyk. Dié prostetiese ore se velkleur en tekstuur sal so na moontlik aan die ware jakob lyk. Van den Heever glo dat die prostese nie net Elijah se voorkoms sal verbeter nie, maar ook sy sosiale ontwikkeling.

Mettertyd het die span wat Elijah help al meer gegroei en in samewerking met die Pelonomi-hospitaal, kon Elijah ’n gehoortoets naby sy ouerhuis in Upington ondergaan waar vasgestel is dat albei sy kogleas wel werk. Elijah is toegerus met ’n spesiale gehoorapparaat wat klank in vibrasies omskep deur die skedel en been wat die haarselle in die koglea stimuleer. Klank word dan deur die akoestiese senuwee na die brein oorgedra.

Cloete het haar dankbaarheid uitgespreek teenoor die span asook die familie wat haar na dié wonderspan verwys het wat haar seun nie net met ’n splinternuwe paar ore toegerus het nie, maar ook ’n kans op ’n beter lewe gebied het. “Ek wil graag vir almal dankie sê wat Elijah help om ’n normale lewe te lei,” het Cloete gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

Goeie nuus en baie bly vir Elijah se part. Vasbyt op die pad vorentoe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.