‘Wonderwerke gebeur’ – ma (52) ná geboorte van baba

Argieffoto. (Foto: pixabay)

Nadat die Zimbabwiese egpaar Alex Dandadzi en Eleanor Mukura byna 20 jaar lank gesukkel het om ʼn baba te verwek, het Mukura uiteindelik verlede jaar op 52 jaar geboorte gegee aan ʼn gesonde babadogtertjie.

Die kleinding – wat Esther heet – is verlede jaar in die Netcare Pretoria-Oos-hospitaal gebore nadat Mukura talle vrugbaarheidsbehandelings by die fertiliteitsentrum van dié hospitaal ondergaan het.

Mukura het dekades lank ʼn vrugbaarheidstryd gevoer toe fibroïede (vergroeisels) op haar uterus gevind is, wat haar verhoed het om swanger te raak.

“Ek het die fibroïede twee keer laat verwyder, maar dit het teruggegroei. Ek was op die punt om ʼn  finale besluit te neem om my uterus heeltemal te laat verwyder toe ek een Sondagoggend ʼn onverwagse oproep van ʼn vriendin ontvang het. Sy het ʼn soortgelyke ondervinding met vergroeisels gehad en het behandeling daarvoor by die Netcare Park Lane-hospitaal in Johannesburg ontvang,” vertel Mukura.

Sy het saam met Dandadzi van Harare na Johannesburg gereis waar sy vir die derde keer ʼn langdurige operasie ondergaan het om die vergroeisels te laat verwyder, waarna sy haar reis met in vitro-bevrugting (IVB) begin het.

Dr. Marienus Trouw, ʼn ginekoloog en subspesialis in voortplantingsmedisyne wat praktiseer by die Netcare Pretoria-Oos-hospitaal, verduidelik dat IVB hormonale inspuitings behels wat die vrou aanmoedig om meer as een eiersel te lewer. Dié eierselle word uit die uterus gehaal en in ʼn laboratorium bevrug om embrio’s te vorm. Die embrio’s word dan vir vyf dae toegelaat om te groei voordat dit in die uterus teruggeplaas word.

“Die eerste prosedure was onsuksesvol en die dokter wat my behandel het, het gesterf voordat ons weer kon probeer. Ons is later na dr. Trouw verwys, maar teen dié tyd het die fibroïede weer teruggegroei, so ek moes vir ʼn vierde keer die vergroeisels laat verwyder voordat ek met die IVB kon voortgaan,” sê Mukura.

“Dié keer was dit suksesvol en ons was ongelooflik hoopvol. Teen die einde van die eerste trimester het ek ongelukkig ʼn miskraam gehad, maar ons het so ver gevorder dat ons besluit het om weer te probeer. Die volgende twee probeerslae het weer onsuksesvol geëindig. Dit was eers ʼn paar jaar later, met ons vyfde ronde IVB, dat ek uiteindelik swanger geraak het met die babadogtertjie wat ek vandag in my arms vashou.”

Ondanks ʼn jare lange emosionele tuimeltrein was elke stap van die reis die moeite werd, sê Mukura.

“Die resultaat is ons pragtige baba, wat ons Esther gedoop het – ʼn Bybelse naam wat die betekenis dra van ʼn ster en ʼn vrou van dapperheid. Haar Shona-naam is Nyashadzashe, wat beteken “genade van God”. Ons het amper ons droom om ʼn baba van ons eie te hê laat vaar, maar met God se genade, toe ons dit die minste in ons gevorderde ouderdom verwag, het dit gebeur.”

Vir Mukura en Dandadzi was die pad om uiteindelik hulle eie bondeltjie vreugde in die lewe te bring veel langer en meer moeisaam as wat hulle ooit sou kon verwag.

“Selfs toe ek die tweede keer suksesvol swanger geraak het, was dit nie maklik nie – ek het verhoogde bloeddruk gehad en moes sowat ses weke voor die geskatte geboortedatum met kraamverlof gaan. Dit het behels dat ek moes reis na Suid-Afrika van Zimbabwe, waar ek woon en werk. Ek het ook nierkomplikasies ontwikkel, wat beteken ek moes ná die geboorte veel langer in die hospitaal aanbly.

“Ek sou niemand die teenspoed toewens wat ons verduur het nie en my raad aan paartjies is om nie te laat met gesinsbeplanning te wag nie, aangesien jy nooit weet watter probleme kan opduik nie. Ons boodskap aan enigiemand wat sukkel om swanger te raak is om hoopvol te bly – wonderwerke gebeur.”

Beskikbare oplossings

Argieffoto. (Foto: Unsplash/Luma Pimentel)

Volgens Trouw is dié spesifieke geval van vrugbaarheidsbehandeling ʼn uitsonderlike een.

“Daar is baie faktore wat vrugbaarheid en die uitkoms van vrugbaarheidsbehandeling kan beïnvloed. Die ouderdom van die ma is een van die sleutelfaktore in die sukseskoers. Wanneer dit by IVB kom, is die gemiddelde sukseskoers sowat 50% en terwyl dit hoër kan wees – tot 65% vir vroue jonger as 35 – kan dit ook maar net 10% wees ná 42-jarige ouderdom,” verduidelik hy.

“Fisiologiese faktore by die vrou, soos fibroïede, ovulasieprobleme, versperde fallopiese buise en endometriose kan dit bemoeilik om swanger te raak. Ons sien ook fisiologiese probleme by die man, soos swak spermmobiliteit, lae spermtelling en in sommige gevalle geen sperm. ʼn Derde van die gevalle sluit gesamentlike faktore by die vrou, man of albei in, en in sowat 10% van gevalle kan die onvrugbaarheid nie verklaar word nie, aangesien ons nie die kennis het nie.”

Terwyl die kompleksiteit van vrugbaarheidsprobleme oorweldigend kan wees vir vroue wat sukkel om swanger te raak, is daar ʼn aantal oplossings beskikbaar, asook stappe wat gedoen kan word om te verhoed dat die probleme mettertyd vererger.

“Daar is talle behandelings beskikbaar vir mense by wie vrugbaarheidsprobleme gediagnoseer is en dit kan so eenvoudig wees soos om ovulasie met tablette of inspuitings te stimuleer. Vir vroue wat ly aan endometriose, fibroïede of versperde fallopiese buise, kan chirurgie die antwoord wees. Soms sal ons inseminasie doen met intra-sitoplasmiese sperminspuitings, waar die sperm in die eiersel ingespuit word in gevalle waar dit nie, om welke rede, die uiterste laag van die eiersel kan binnedring nie.”

Vooruit beplanning word aanbeveel vir mense wat weet hulle wil graag kinders hê, maar wat nog nie gereed is vir daardie fase van hulle lewe nie.

“Ons lewe in ʼn tyd waar baie mense kies om eers later as wat dit tradisioneel die geval was, met ʼn gesin te begin. Dit is belangrik vir hulle om bewus te wees van die uitwerking wat ouderdom op vrugbaarheid kan hê, veral by vroue waar ouer eierselle oor die algemeen nie net minder in kwantiteit is nie, maar ook laer in kwaliteit. Dit kan lei tot komplikasies soos miskrame of chromosomale abnormaliteite in die fetus.”

ʼn Goeie opsie is om eiers te laat vries voor of teen 35-jarige ouderdom. “Dit kan gedoen word ingeval vrugbaarheidsprobleme dalk later gediagnoseer word of wanneer ʼn paartjie met ʼn gesin wil begin. Dit is ook belangrik vir die man en vrou om hulle gesondheidstoestand te oorweeg, aangesien leefstylfaktore soos vetsug en rook ʼn negatiewe uitwerking op vrugbaarheid in albei geslagte kan hê.”

Trouw benadruk egter dat dit belangrik is om bewus te wees daarvan dat elke reis met vrugbaarheidsbehandeling verskil.

“Dit kan dus help om ʼn stapsgewyse plan gereed te hê, in oorleg met die dokter wat jou behandel, sodat jy weet wat om te verwag aangesien tydlyne uitgerek kan word en groot koste daarby betrokke is, veral wanneer dit by die meer gevorderde tegnologie kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Africangrey ·

Absoluut die beste ginekoloog in Pretoria, 3 van my 6 keisers is deur Dr Trouw gedoen, n baie kundige, liefdevolle mens wat regtig OMGEE!!

mymasekind ·

Dr Trouw is absoluut die beste. Te danke aan hom dat ek vandag pragtige 2ling seuns het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.