Woordfeesbundel ontvang meeste inskrywings nóg

Argieffoto (Foto: Fotografierende/Unsplash)

Meer as 300 kortverhale, waarvan 23 uiteindelik in die bundel opgeneem is, is vanjaar vir die Toyota US Woordfees se kortverhaalbundel ingeskryf.

“Sewe jaar ná die kompetisie ingestel is, bly dit nog steeds vir die beoordelaarspan soos ʼn verrassingspakkie om te sien waarmee die skrywers vorendag gekom het,” sê Suzette Kotzé-Myburgh, wat sedert 2016 die sameroeper van die beoordelaarspaneel is. Die ander twee beoordelaars was Valda Jansen en Marius Swart.

Volgens Kotzé-Myburgh het vanjaar se oes weer eens nie teleurgestel nie en dit is boonop ook die eerste jaar waar daar beduidend meer nuwe stemme is wat die bundel gehaal het as dié wat reeds voorheen opgeneem is.

Saartjie Botha, direkteur van die Toyota US Woordfees, sê sy is opgewonde oor die volgehoue belangstelling in die feesbundel en meen dit is bemoedigend dat skrywers steeds skep in ʼn tyd waar dit swaar gaan met die kunstebedryf.

“ʼn Mens besef opnuut dat die feesbundel ʼn warm en kosbare uitnodiging tot verdere nadenke en gesprek is. Ons sien uit daarna om hierdie skrywers by die volgende Woordfees te verwelkom en hoop om binnekort ons feesplanne vir 2022 bekend te maak.”

Dié kortverhaalbundel, wat sedert 2016 jaarliks verskyn, se titel is altyd dieselfde as die feestema, maar omdat die feesdatums vir 2022 weens die Covid-19-pandemie nog nie gefinaliseer is nie, sal die feestema, en daarmee ook die titel van die bundel, eers volgende jaar bekend gemaak word.

Ed Beukes, woordvoerder van Du Toitskloof Wyne, sê stories is veral belangrik in uitdagende tye.

“Nuwe stories bly relevant – veral in die vreemde en uitgerekte Covid-19-era waarin ons onsself steeds bevind. Dit bied nie net ontsnapping of inspirasie vir lesers nie, maar konfronteer ons ook met die harde werklikhede wat ons soms laat koes of wat ons kies om te ignoreer.

“Daarom, met oop hart, oop kop (en dalk ook oop bottel) vir die woorde wat soms moeilik is om af te sluk, sien ons vreeslik baie uit na al die nuwe stories wat opnuut die gesprekke om die tafel sal laat opflikker, persepsies gaan uitdaag en ons ook tot nuwe insigte kan lei.”

Die lys van skrywers wat in die 2022- US Woordfees Kortverhaalbundel opgeneem word, in alfabetiese volgorde, is: Antoinette Diedericks, Ryno Eksteen, Ilne Fourie, Sidney Gilroy, Donovan Greeff, Helena Gunter, Cudi Harmse, Louis Jansen van Vuuren, Lynthia Julius, Keith Lewis, Cecilia Lombard, Hannes Loubser, Michèle Meyer, Cliffordene Norton, Ryan Pedro, Ilse Schoonwinkel Pauw, Deborah Steinmair, Douw Steyn, Marie Toerien, Nadia van Zyl, Dineke Volschenk, Madeleen Welman en Lloyd Zandberg.

Die wenner, wat by die bundelbekendstelling gedurende die 2022-fees aangekondig sal word, wen R30 000 geborg deur Du Toitskloof Wyne. Elke ander skrywer wat in dié bundel opgeneem word, ontvang prysgeld van R5 000.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.