Woordmal verruim Wordle-aanbod

Met Watse en Wortel wat onlangs die plaaslike Wordle-aanbod uitgebrei het, loop die woordboukoors nog hoog onder Afrikaansgebruikers.

Nou kan entoesiaste naderskuif vir Woordmal, nóg ʼn Afrikaanse weergawe van hierdie immergewilde woordbouspeletjie.

Woordmal is deur Manythings, ʼn maatskappy wat webwerwe en apps skep, ontwikkel. Dit is gegrond op Wordle, met enkele variasies soos ʼn moeilikheidsgraad, leidrade, ʼn puntestelsel en die opsie om dit in Afrikaans of Engels te speel. Die weergawe maak ook voorsiening vir skryftekens.

Soos met Wordle kry gebruikers ses probeerslae om die vyfletterwoord van die dag te raai. Groenblokkies dui aan dat dit die regte letter in die regte blok is, oranje beteken dat die letter in die woord voorkom, maar in ʼn ander blok, en letters in swart blokkies kom nie in die woord voor nie.

Die goeie nuus is dat jou kleinspan kan saamspeel deur die “Maklike”-opsie te kies. Antwoorde kom uit ʼn korter woordelys, daar is ook loer-leidrade en probeerslae hoef nie ʼn volledige woord te wees nie.

Met die “Moelike”-opsie word gebruikers behoorlik uitgedaag omdat daar geen leidrade en voorstelle is nie, en letter-gebaseerde beperkings geld.

Wordle is ʼn woordbouspeletjie wat oorspronklik in Engels ontwikkel is, en sedertdien het dié speletjie die belangstelling van taalliefhebbers en vertalers wêreldwyd geprikkel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Fae Fubar ·

Ek is absoluut verslaaf aan Wordle en verkies om geen leidrade te gebruik nie. Ek beveel dit aan vir almal wat hulself wil besig hou, sonder om op sosiale netwerke te boer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.