Word só ’n vredemaker van formaat

Bewaar die vrede só in julle huwelik. (Foto: Tamara Menzi/Unsplash.)

Deur Annelize Steyn

 ’n Huwelik van harmonie is een waarna ons almal smag. Maar jy sukkel om op jou tong te byt wanneer hy met sy tekkies aan op die bed gaan lê. Wanneer hy na jou hap, hap jy harder terug – jy is immers nie ’n vloerlap nie. Hoe word jy ’n vredemaker van formaat sonder om jou kop (en jou trots) te verloor?

Carli en Michael was gesoute boksers. Hulle kon houe toedien soos meesters. Lae houe. Houe wat seergemaak en geskok het. Hulle was getroud, maar ook mekaar se grootste vyande. Wat tragies was, is die feit dat hierdie dinamika hul “normaal” geword het. Die een party het die ander probeer oortref en wanneer daar vrede geheers het, was die ongemak onuitstaanbaar.

Hulle was self só vasgevang in hierdie ongesonde dinamika dat hulle nie raakgesien het op watter ramp hul situasie afstuur nie en dit was ’n intervensie van hul vriendekring wat hulle tot hul sinne geruk het.

Dis nie maklik om ’n vredemaker te wees nie. Om ’n vredemaker te wees, is ’n intensionele ingesteldheid wat van jou vereis om versigtige (en soms moeilike) besluite te maak oor die stand van jou verhouding. Dit verg waagmoed! En om konflik op te los is moeilik. Jy wil nie hê dinge moet broei ter wille van vrede (en eindelik ten koste daarvan) nie.

Dus, vir julle om ’n gesonde huwelik te hê waar niks onder die mat ingevee word nie, maar daar ook nie heeltyd spanning heers nie, is ’n uitdaging.

(Foto: Life is a garden.)

Hoe kry jy ware huweliksvrede?

  1. Tel jou woorde. Jy hoef nie alles wat deur jou gedagtes gaan, hardop te sê nie. Natuurlik is daar ’n tyd en ’n plek om vir jou maat te sê wanneer ’n gewoonte jou irriteer of as sy/haar gedrag jou pla, maar kies jou woorde wys en kies die regte tyd. Psalm 141:3 sê inderdaad: “Sit ’n wag voor my mond, Here, hou tog wag oor wat ek sê.”
  2. Sê jy is jammer. Is jou maat verkeerd? Dit is eintlik irrelevant. Wat relevant is, is of jy bereid is om eerste te sê jy is jammer. Moenie wag vir jou maat om eerste na jou toe te kom nie. As jy om verskoning moet vra, dóén dit! Gevolglik sal jou maat dit ook makliker doen. Wees net seker jy hét iets om voor om verskoning te vra.
  3. Tel tot tien. ’n Snaakse ding gebeur wanneer die rook uit jou ore blaas – jou tong raak los! Onthou dat jy nooit jou woorde kan terugtrek nie. Dit maak nie saak of jy dit net gesê het om jou maat seer te maak nie, of dit net vlietende gedagtes was nie en of jy regtig sterk daaroor voel nie. Jou maat gaan daardie woorde onthou, veral wanneer hy/sy ’n laagtepunt beleef.
  4. Erken jou foute. Moenie dit ignoreer nie, dit sal net jou verhouding Jou maat sal jou makliker vergewe as jy erken jy het ’n fout gemaak en om verskoning vra.
  5. Los die ou koeie. Jou vorige seerkry hoort nie in jou huidige argumente nie. God vra ons om mekaar te vergewe en as ons mekaar werklik vergewe het, behoort seer uit die verlede nie meer as ammunisie teenoor ons maats gebruik te word nie. As jy hunker daarna om ou koeie uit die sloot te grawe, moet jy dalk jou hart ondersoek, want dan het jy nog nie waarlik vergewe nie.
  6. Spits jou ore. Oefen jou luistervaardighede. Ons is dikwels so haastig om te reageer dat ons vergeet om te luister. Argumente vind dikwels plaas omdat ons nie die ander persoon se punt insien nie – nie omdat ons nie saamstem nie. Dus, wag ’n oomblik. Vra jou maat hoekom hy voel soos hy voel … en luister. Julle is dalk op dieselfde bladsy!
  7. Praat sag en rustig. Soms moet jy dinge sê wat jou maat nie wil hoor nie. Ongemaklike gesprekke is onafwendbaar en word nie altyd met ’n oop gemoed ontvang nie, so maak seker jy benader jou maat met kalmte en opregtheid. Jou maat is meer geneig om te luister – selfs al lyk dit nie so nie. As jy sag en mooi praat, sal jou woorde beter ontvang word as wat jy dink.
  8. Trotseer saam probleme. Moedig jou maat aan om saam met jou vrede te skep deur jou konflik, uitdagings en probleme as ’n span aan te vat. Dink saam aan oplossings wat jul konflik kan minimaliseer – onthou julle twee sáám teen konflik, nie individueel teen mekaar nie.
  9. Moenie kwaad gaan slaap nie. Jy is in beheer van jou eie gedagtes en kan nie jou maat s’n bestuur nie. Selfs al is jy sagmoedig en goed, beteken dit nie dat jou maat nie gaan kwaad word nie. Dis belangrik om moeilikheid met jou maat op te los – so gou moontlik. Hoe langer jy wag, hoe groter groei die onmin en hoe moeiliker raak dit om op te los.
  10. Vergewe vinnig en genoeg en volkome. Een van die belangrikste dinge wat jy kan doen, is om jou maat te vergewe. Dit gaan nie net oor jou maat nie, maar oor jou ook. Vergifnis gee nie net aan jou maat vrede nie, maar aan jou ook.
  11. Dien jou maat onselfsugtig. Dis natuurlik om soms te voel: “Genoeg is genoeg!” Om te voel dis onregverdig dat jý al die werk doen en al die verantwoordelikheid dra, is normaal, maar Filippense 2:3 sê dat jy ander bo jouself moet stel. Dis nie altyd maklik nie! Maar die doel van die huwelik is om as ’n eenheid te werk.
  12. Hersien jou verwagtinge. Moenie jou maat met voorwaardes liefhê nie. Vergeet van onrealistiese verwagtinge en doen alles wat jy doen uit liefde vir jou maat – nie omdat jy iets terug verwag nie. Dis ’n taai ene!
  13. Wys jou liefde. Natuurlik gaan daar rusies wees, daar gaan onregverdigheid wees en daar gaan tye wees wat jy ingedoen voel. Moenie dat dit die fisieke gevoelens teenoor mekaar steel nie. Gee jou maat ’n druk – al voel jy hy verdien dit nie. En moenie seks weerhou nie.
  14. Vra vir hulp. As julle sukkel om vrede op jul eie te kweek, vra vir hulp. Kry ’n goeie vriend, pastoor, mentor of berader om saam met julle te werk om vrede in jul huwelik te bewerkstellig.

“Vrede is nie ’n afwesigheid van moeilikheid nie; dit is nie verwant aan ons omstandighede nie. Dit is ’n goedheid van lewe wat nie geraak word deur wat aan die buitekant gebeur nie,” skryf Angela Lowe op Battleforyourlife.com.

“Jy kan midde-in groot uitdagings wees en steeds vrede hê. Ons fokus is die Vrede van Christus in die huwelik, nie net vrede soos mense dit definieer nie.”

Volgens haar het baie huwelike vandag ’n valse vrede – ’n huwelik waarin maats mekaar net verdra. Hier heers nie ware vrede nie. ’n Tekort aan vrede kan liefde uit die huwelik steel en die deur oopmaak vir baie ander huweliksprobleme.

“Ek het eens op ’n tyd ’n man geken wat gesê het hy stap die ekstra myl om sy vrou gelukkig te maak, want hy weet as sy tevrede is, sal daar vrede by die huis wees. En as daar vrede is, sal die teenwoordigheid van God maklik sy uitdrukking vind.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.