Wouter sê motivering dryf hom aan

Wouter Nel

Wouter Nel

Wouter Nel het ʼn allemintige nege A’s behaal in die matriekeindeksamen. Hierdie slimkop van Hoërskool Kempton Park sê hy is baie gemotiveerd en rus nie totdat hy sy doelwitte bereik het nie. Hy het onderskeidings gekry in Afrikaans, Engels, wiskunde, lewensoriëntering, fisiese wetenskappe, rekeningkunde, ingenieursgrafika- en ontwerp, lewenswetenskappe en geografie.

Hoewel Wouter se ouers albei in die regswêreld is, beplan Wouter ʼn loopbaan in ingenieurswese. Wouter se pa, Wynand, is ʼn landdros en sy ma, Karien, ʼn prokureur. Wouter gaan die vakansie by familie in die Kaap kuier en daarna chemiese ingenieurswese studeer. Hy sê die Universiteit van Pretoria se ingenieursfakulteit het behoorlik sy hart gesteel. Dit is sy droom om eendag ʼn doktorsgraad in chemiese ingenieurswese te verwerf. Met sy ingenieurswesegraad wil hy probeer om werklik ʼn verskil in Suid-Afrika te maak.

Wouter is verskriklik lief vir stories. Hy geniet ʼn goeie boek en kyk graag TV-reekse. Hy is ook lief vir musiek en stel veral belang in wetenskap. Hy sê hy probeer elke dag iets nuuts leer. Sy akademie het ongelukkig geen tyd vir sport toegelaat nie. Hy erken ook dat hy perfeksionistiese neigings het wat hom gewoonlik sleg beïnvloed.

Hy sê sy tannie is sy grootste motiveerder. Sy het hom laat glo dat hy goed kan doen. Hy sê hy het homself “grootgemaak” om goed onder stres en swaar werkslading te kan presteer. Hy moes leer om terugslae te verwerk. “Terugslae kan vir my skokkend wees, maar ek beland gewoonlik gou weer terug op my voete.”

Wouter se ma is sy rolmodel. “Sy is die sterkste persoon wat ek ken.” Hy sê haar sterk wil ten spyte van al die swaarkry wat sy oorleef het, inspireer hom. Sy lewensleuse is daarom ook:

Hou aan vorentoe beweeg, want die tyd staan nie stil nie. Die verlede is verby en daar is niks wat jy daaraan kan doen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Liza ·

Jou slimkind….. geluk en sjoe dit wil gedoen word……..serkte vorentoe met jou loopbaan,,,,,

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.