Wynplaas help om hongersnood te beveg

Journey’s End Foundation beoog om 10 000 maaltye per week te aan die plaaslike gemeenskap te verskaf. (Foto: Verskaf)

Die wynplaas Journey’s End buite Stellenbosch het ʼn gemeenskapsprojek van stapel gestuur om hongersnood en erge armoede in die Helderberg-streek te help bekamp.

Moeilike omstandighede vir mense in die Helderberg-streek in die Wes-Kaap het vanjaar grootliks weens die Covid-19-pandemie toegeneem.

Die Journey’s End Foundation is daarom as ʼn nieregeringsorganisasie gestig deur die besturende direkteur van Journey’s End Vineyards, Rollo Gabb.

Journey’s End Foundation sorg nou vir 8 000 maaltye per week vir 52 weke. Hulle beoog om dit teen Oktober vanjaar tot 10 000 maaltye per week te vermeerder.

“Covid-19 raak die Suid-Afrikaanse ekonomie steeds negatief, veral in die Wes-Kaap waar die toerisme- en gasvryheidsbedryf weer sukkel om op die been te kom. Dít, gepaard met die verbod op drankverkope wat tot onlangs nog geldig was, het ʼn drastiese uitwerking op die wynbedryf gehad,” sê Gabb.

“Dit het ʼn beduidende uitwerking op werkloosheid gehad. Min gesinne kon nog kos op die tafel sit weens weinig ondersteuning van die regering af. Dit is al berig dat sowat 20 000 mense in Stellenbosch die risiko loop om honger te ly.”

Journey’s End Foundation se sopkombuis-span (Foto: Verskaf)

Journey’s End werk saam met nege sopkombuise en sal in die 12 maande meer as 400 000 maaltye verskaf.

Gabb sê Journey’s End se wynplaas het reeds vantevore klem gelê op die plaaslike gemeenskap, werk aan mense verskaf en hulpprogramme ontwikkel.

Journey’s End het byvoorbeeld ʼn nuwe skool vir die Sir Lowry’s Pass-gemeenskap se kinders gebou. Baie leerders het daar ook een maaltyd per dag gekry.

Vir meer inligting oor die Journey’s End Foundation, stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.