Wys jou trots vir Afrikaans dié Erfenisdag

(Foto: Montseng Ntabejane/Unsplash)

Kultuur en taal is iets wat mense oor landsgrense heen saambind. Dit is ’n gedeelde stel waardes wat sê “Dit is wie ek is”. Identiteit, soos ’n taal, is iets wat jy kies deur dit op te neem en jou eie te maak. Wees jouself; wees Afrikaans; wees ’n Afrikaner!

Wat kan jy op Erfenisdag doen om te wys hoe trots jy is, of sommer net wanneer jy oorweldig word met die mooi van jou eie kultuur? Hier is ’n paar idees:

Praat suiwer Afrikaans

Trek die woordeboek nader en leer vir die volgende tien dae elke dag ’n nuwe Afrikaanse woord. Dit is ook ’n lekker speletjie saam met jou kinders en ’n beproefde wyse om jou algemene kennis te verbreed.

Afrikaans is so uniek soos sy sprekers. Die taal is geskep uit die ontmoeting van die talle tonge wat Suid-Afrika as ’n land op die been gebring het. Die invloede uit Engels, Portugees, Nederlands, Frans en nog vele meer het aan die taal rowwe r’e en growwe g’s geleen. Dit is dié klanke wat die Afrikaner na aan die hart lê. Dink byvoorbeeld aan woorde soos kolwyntjie, ligsinnigheid, skitterend en geluksalig. Waar anders sal jy ’n kombinasie van komplekse klanke kry wat ’n onderwerp so eenvoudig soos ’n cupcake beskryf?

Gaan kyk gerus na ons lys van 12 Afrikaanse woorde wat net Afrikaanssprekendes sal verstaan!

Dra ’n Afrikaanse T-hemp

Dra jou identiteit op jou mou en stoot jou bors trots uit met ’n Afrikaanse T-hemp wat jou liefde vir jou taal wys. Wêreldwyd dra kultuurgroepe gereeld tradisionele drag, maar as jy nie so ver wil gaan nie, kan jy bloot ’n T-hemp dra wat wys dat jy Afrikaans is.

Hou ’n Afrikaanse fliekaand

Familietyd, springmielies en ’n gehalte- Afrikaanse film – dit wys jou kinders dat Afrikaans deel is van die gesin en leer hulle die gewoonte om goeie Afrikaanse kunste te geniet.

Maak ’n familieresep

As jy huis toe verlang of elders in die wêreld is, is dit altyd lekker om ’n ou kookboek uit te haal en ’n gunstelingfamilieresep op die proef te stel. Die vermoë wat kos het om mense bymekaar te bring is onmiskenbaar. Dink aan ’n Sondagmiddag by ouma se huis. Die geselligheid van die kos voorberei is amper so lekker soos daardie dadelvingers as nagereg.

Leer jou kinders van die geskiedenis

Die grootste bydrae wat jy kan maak as jy iets vir jou taal en kultuur wil doen, is om moeite te doen om geskiedenisverhale te ken en aan jou kinders oor te vertel. ’n Goeie begin is iets soos Die Groot Heldeboek. Kweek by hulle ’n liefde vir hul geskiedenis en versamel bronne wat die geskiedenis akkuraat saamvat. Die geskiedenis van Afrikaners is vol helde en heldinne, groot uitdagings wat oorkom is en bemoedigende stories. Besoek AfriForum Uitgewers vir geskiedenisbrokkies en geskiedenispublikasies.

Raak betrokke

As mens oorloop van trots kan jy nie anders as om dit ook te beskerm en uit te bou nie. As jy in die buiteland is, kan jy by Suid-Afrikaanse netwerke betrokke raak – en natuurlik by AfriForum Wêreldwyd. Jy kan by Vriende van AfriForum aansluit, Maroela Media lees en deel word van die Solidariteit Beweging. Luister Pretoria FM oor die internet of kyk na Afrikaanse inhoud van verskeie genres op AfriForumTV en teken in op nuusbriewe sodat jy op die hoogte van alles Afrikaans bly!

  • Hierdie artikel het oorspronklik op AfriForum Wêreldwyd verskyn. AfriForum Wêreldwyd is die tuiskomplek vir elke Afrikaner wat tans in die buiteland woon, maar steeds in voeling met sy of haar geboorteland wil bly. Lees nog artikels hier op Wêreldwyd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.