Yolandé Korkie: ‘Die sirkel is voltooi’

Yolandé Korkie. (Foto: Verskaf.)

Dit is sewe jaar later nadat Yolandé Korkie se lewe onherroeplik verander het toe sy en haar man Pierre Korkie op 27 Mei 2013 deur Al Kaïda-militante in Taiz, Jemen, ontvoer is. Yolandé is ná agt maande as gyselaar vrygelaat nadat die noodleningsorganisasie Gift of the Givers haar vrylating onderhandel het. Op 6 Desember 2014 (11 maande ná die ontvoering) is Pierre egter doodgeskiet, 24 uur voordat hy vrygelaat sou word.

“Ná die afsterwe van Pierre het ek vir byna vyf jaar deur ’n wildernis gereis terwyl ek die verlies van my beste vriend en die verlies van ons vriende in Jemen betreur het. Ek het probeer om tegelykertyd ’n ma en pa vir my twee kinders te wees, onderwyl my soeke na genesing en die langsame worsteling met die Here oor wat my rol sal wees in die uitbreiding van Sy koninkryk voortgeduur het. Ek het nie geweet hoe om vorentoe te gaan nie. Al wat ek geweet het, was dat ek op die een of ander manier wou bydra om Hom te dien.

“Ek het nagedink oor hoe die krisis my verander het en die Here het iets binne my laat groei vir ander wat ook deur ’n krisis gaan. Dit is asof ons eie krisis vir my ’n ander perspektief gegee het oor leiding en genesing.”

Laat in 2018 het Yolandé aan vriende vertel sy wil graag na die bediening toe teruggaan.

“Maar waar en hoe? Vroeg in 2019 het ek INcontext International gekontak. Ek het myself na hul kantoor in Kaapstad genooi,” vertel Yolandé glimlaggend.

En in Maart 2019 het sy voltyds by dié Christelike nuusplatform begin werk.

Vandag kan Yolandé getuig: “Die sirkel is voltooi. Dit is die viering van die begin van ’n visie wat die Here beide vir my en vir INcontext International gegee het, naamlik die Crisis Response Network.”

Die CRN se logo. (Grafika: Verskaf.)

INcontext International, ’n niewinsgewende organisasie wat wêreldnuus vanuit ’n Christelike perspektief skryf, het verlede week tydens ’n virtuele geleentheid die Crisis Response Network (CRN) amptelik bekendgestel.

Gustav Krös, direkteur van INcontext International, verduidelik die CRN is nie ’n noodverligtingorganisasie nie, maar dien as ’n koördineringsplatform ten tyde van ’n krisis waar onderskeie geloofgebaseerde en geregistreerde spesialisgenootskappe saamwerk om humanitêre hulp in gebiede reg oor die wêreld te lewer.

Hiermee saam lê die CRN klem op die uitdagings ten opsigte van sekuriteit binne die geloofgebaseerde gemeenskap en soortgelyke organisasies soos hulself en bied opleidingsmateriaal en hulpbronne aan, wat mense toerus en voorberei vir ’n krisis.

Yolandé verduidelik waarom juis só netwerk geskep is.

“Ons doel is om ’n netwerk van Christelike vennote te koördineer vir ’n strategiese, volhoubare en medelydende reaksie op ’n krisis – of dit mensgemaak of natuurlik is – om sodoende die pyn van mense, ongeag hul agtergrond, te verlig.

Die CRN fokus op drie fases, naamlik gereedheid voor die krisis, die reaksie tydens ’n krisis, en heelmaking ná ’n krisis.”

Uit eie ondervinding het Yolandé die waarde besef om vir ’n krisis voorbereid te wees.

“Om vir ’n krisis fisiek, emosioneel en geestelik voorbereid te wees, maak ’n beduidende verskil wanneer die krisis jou in sy greep het en natuurlik in die proses om uiteindelik te herstel.”

In reaksie op die Covid-19-pandemie het CRN, onder meer, ’n storieboek vir kinders bekendgestel wat gratis as ’n e-boek afgelaai kan word. Die storieboek Nagvriend is geskryf deur Maretha Maartens, en illustrasies is deur Huibrecht de Hart gedoen. (Grafika: Verskaf.)

Hoe kan jy baat vind by die CRN?

Enige individu, kerk of organisasie kan aansluit by die netwerk of kan gebruikmaak van die CRN se webtuiste. Daarop is hulpbronne, opleiding en opvoedkundige materiaal wat ondersteuning bied ter voorbereiding vir, reaksie tydens, en herstel ná ’n ramp.

In reaksie op die Covid-19-pandemie het CRN, onder meer, ’n storieboek vir kinders bekendgestel wat gratis as ’n e-boek afgelaai kan word. Die storieboek Nagvriend is geskryf deur Maretha Maartens, en illustrasies is deur Huibrecht de Hart gedoen. Dit is tans in Afrikaans en Engels beskikbaar. Op die webtuiste is daar ook meer inligting oor die koronavirus, hoe om gebalanseerde kospakkies saam te stel, en selfs hoe om jouself en ander te versorg wat die virus opdoen.

Die CRN bied ’n diepteprofiel van lande op hul webtuiste. ’n Betroubare oorsig oor lande kan as riglyn dien vir jou besoek aan ’n land en jou in staat stel om ’n risiko-evaluering te doen voor jou reis.

Hoewel inskrywings tot die webtuiste gratis is, sal nie-intekenaars weens die aard van inligting op die webtuiste, slegs beperkte toegang tot die webtuiste verkry. Om aan te teken is egter gratis en eenvoudig.

Die CRN is reeds in samewerking met vennote in, onder meer, Uganda waar ’n voedseltekort en sprinkaanplaag tans heers, asook in Indië ná die sikloon Amphan dele van die land op 20 Mei vanjaar getref het.

“INcontext International het vanuit die staanspoor nog altyd geglo dit is ons as Christene se verantwoordelikheid om die hande en voete van die Here te wees. Wanneer ons kyk na die hulpbronne waarmee die kerk geseën is – nie net finansieel nie, maar met geskoolde mense en globale netwerke – glo ons daar is soveel wat ons kan doen wanneer ons tydens ’n krisis saamwerk,” verduidelik Krös.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Theresa ·

Yolandé se boek is sekerliks een die beste wat ek en my man al ooit gelees het. Dit het my siel diep geraak en die manier waarop sy hul tyd in aanhouding beskryf het, het beslis ‘n dieper betekenis aan ons huwelik gegee (van wat die huwelik regtig is). Intussen is my man ook ooelede en die regtige diepte van ons verhouding kon ons 2 deur die laaste tyd van sy lewe dra.
Yolandé ek bewonder jou en seën vir jou toekoms.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.