Yoshi swem duisende km in ʼn jaar

Yoshi, die karetskilpad toe sy nog in die Twee Oseane Akawarium in Kaapstad was. Sy is nou al ʼn jaar lank vry, maar die akwarium rehabiliteer steeds seeskilpaaie wat uitspoel. Foto: Jean Tresfon.

Yoshi, die karetskilpad wat net meer as ʼn jaar gelede ʼn ent van Kaappunt vrygelaat is, het al 8 600 km ver geswem.

Dié bedreigde karetskilpad is in 1997 na die Twee Oseane Akwarium gebring deur die kaptein van ʼn Japanse vistreiler. Sy het net twee kilogram geweeg en het ʼn besering aan haar dop gehad.

Sy het gou een van gewildste diere by die akwarium geword. Maryke Musson, kurator, vertel Yoshi het met haar vrylating op 16 Desember 2017 reeds 183 kg geweeg. Daar is besluit om haar te laat gaan omdat sy volwassenheid bereik het en wou broei.

ʼn Karetskilpad, wat uitgeken kan word aan hulle groot koppe, kan tot 80 jaar of langer leef. Agtien maande is daaraan gewy om haar vir die vrylating fiks te kry. Sy is 30 seemyl van Kaappunt in die warm oseaan vrygelaat, met ʼn satellietspoorder op haar rug, en saam met 26 ander gerehabiliteerde kleintjies.

Op 16 Desember 2017 is Yoshi, die karetskilpad, deur die Twee Oseane Akwarium in Kaapstad vrygelaat nadat sy in 1997 gered is. Sy het nou reeds 8 600 km geswem. Foto: Olivia Anderson.

Dit is verwag sy sou oos swem, maar sy het nie. Sy het wes geswem verby Namibië en Angola. Sy was in Desember sowat 680 km wes van Hondeklipbaai aan die Weskus. Volgens Musson verkies Yoshi om teen die stroom te swem, teen ʼn pas van 24 km per dag.

Een van die grootste bedreigings vir seeskilpaaie is visserye. Veral nette of enige ander visvangtoerusting wat net weggegooi word. Talle seediere raak daarin verstrengel en sterf. Seeskilpaaie eet plastiek, omdat dit baie soos hulle eie kos, seeslaai, lyk.

Die naaste broeiplek is 3 500 km van waar Yoshi is, aan die Noordkus van KwaZulu-Natal. Karetskilpaaie is alleenlopers en sluit net by mekaar aan om te paar wanneer die wyfies gaan eiers lê. Gewoonlik keer hulle terug na dieselfde strand waarop hulle self uitgebroei het. Die wyfies gebruik die aarde se magneetveld om te navigeer om weer daar uit te kom. Die mannetjies verlaat nooit die see nie.

Die kenners weet steeds nie waarvandaan sy oorspronklik gekom het nie, en hoop sy sal soontoe gaan voordat die satelliet-opspoorder ophou om seine te stuur. Hulle het aanvanklik gedink sy swem na die Kaap-Verdiese Eilande, maar toe draai sy om.

Alvi het onlangs by Struisbaai uitgespoel waar ʼn gesin hom opgestel en na die Twee Oseane Akwarium geneem het. Uiteindelik is daar gevind daar sit ʼn stuk plastiek in sy slukderm vas en dit moes met ʼn endoskoop verwyder word. Foto: Twee Oseane Akawarium

Onlangs het die McQuillan-gesin ʼn naweek op Stilbaai gaan kuier en ʼn siek groenseeskilpad op die strand gesien. Hulle het die Nasionale Seereddingsinstituut in kennis gestel wat hulle gehelp het om die skilpad in ʼn spesiale houer in hulle voertuig te laai.

Die gesin het die tog van drie uur na die akwarium onderneem. Kenners het opgemerk dit gaan nie goed met die skilpad van 23 kg nie. Hulle het antibiotika gegee maar Alvi, soos hy intussen gedoop is, het al swakker geword, volgens die Akwarium.

ʼn X-straal het gewys daar is ʼn groot obstruksie in sy slukderm. Maar hulle het nie die regte toerusting gehad om dit uit te haal nie. Dr. Malan van Zyl van die Cape Animal Medical Centre het ingestem om te help. ʼn Groot stuk plastiek het in Alvi se keel vasgesit en dit kon net met ʼn endoskoop verwyder word.

Alvi herstel gelukkig nou goed en sy eetlus het teruggekeer. ʼn Video hoe hulle die stuk plastiek uithaal:

In 2009 het die Twee Oseane Akwarium in Kaapstad begin met ʼn veldtog om seeskilpaaie te red en te rehabiliteer. Sedertdien kon hulle al 450 vrylaat. Dit gebeur alles agter die skerms by die akwarium.

In die wintermaande word van die skilpaaie waar hulle uitbroei aan die Noordkus van KwaZulu-Natal, al die pad afgevoer tot in die magtige Agulhas-stroom. Van die kleintjies is gereeld ontwater en ly aan hipotermie en dan spoel hulle op die strand uit. Rehabilitasie kan tot ʼn jaar neem. Klik hier om betrokke te raak.

  • Elsabé Brits is ʼn vryskut wetenskapjoernalis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.