‘Ystervrou van Garies’ (72) bied droogtehulp op spesiale manier

Van Ansie se skeppings (Foto: Verskaf)

Ansie Joubert (72) van Garies in die Noord-Kaap brei spesiale donkiespeelgoed om só die boere te ondersteun wat swaar kry weens die droogte.

Dié inisiatief is deel van die Daisy Donkeys 4 Drought-projek wat spesiale handgemaakte sagte speelgoed verkoop om geld in te samel vir droogtehulp, spesifiek om voer vir die boere se vee aan te ry.

Joubert sê sy wou by die projek betrokke raak omdat sy van die omgewing kom en graag hulp aan die boere wou bied.

“Ek is nie ʼn boeretannie nie, ek is maar ʼn dorpstannie, maar ek is baie betrokke by die boere en sien hoe swaar hulle kry. Alles is pikswart. Dit is vir my lekker om iets te skep wat ek weet ons boere met voer gaan help,” sê sy.

Joubert vertel dat dit sowat 90 uur duur om een donkie klaar te maak. Dit neem haar sewe dae as sy van die oggend 10:00 tot die aand 23:00 daaraan werk. Sy brei die donkie, trek vir hom mooi aan, werk knopies vas en maak hom uniek.

Ansie se bekende Jasper-speelding (Foto: Verskaf)

Een van haar gewildste donkies is Jasper. Sy vertel dat sy reeds vyf Jasper-donkies vanjaar gemaak het.

Joubert het reeds afgetree, maar is nou voltyds besig met Daisy Donkeys 4 Drought, saam met twee ander vroue wat ook donkies brei en aanmekaarsit. Voer ter waarde van duisende rande is reeds by boere afgelewer danksy dié drie vroue se toewyding aan die saak.

“Ek staan op met ʼn lied in my hart, om te weet ek doen iets om die diere en die boere te help. Dit is die mense wat vir ons kos voorsien, so ek doen dit met liefde vir hulle. Dit is my lewe,” sê Joubert.

Hoewel daar ander instansies is wat soortgelyke sagte speelgoed maak in die vorm van ander diere, staan Joubert s’n uit bo die res. Sy skryf dit toe aan die detail wat sy aan elke speelding gee.

“ʼn Mens maak eers die basiese speelding, dan sien jy wat jy nog kan doen; so, jy maak hom bietjie vir bietjie beter elke keer. Ek wil maar altyd die produk beter as die vorige een maak. My hart is regtig in hierdie ding.”

Voer word afgelewer nadat mense van Ansie se speelgoed gekoop het (Foto: Verskaf)

Joubert sê sy is dankbaar om te kan help, asook oor almal wat tot dusver die projek ondersteun het.

“Ek moedig mense aan om ons te ondersteun. Dit is vir ʼn goeie doel en jou geld sal nie in die wind waai nie, jy sien wat met die geld gebeur. Trokke en trokke voer word gekoop.”

“Ek hoop die Here spaar my nog 20 jaar sodat ons kan aanhou hiermee. Ons doen regtig ons bes om iets moois te maak om die diere aan die lewe te hou,” sê sy.

Vir meer inligting besoek hul Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.