Gratis werkswinkel op Clanwilliam wil vaardighede opskerp

Die span agter die Freshpak Fiksheidsfees (Foto: Verskaf)

Die span agter die Freshpak Fiksheidsfees (Foto: Verskaf)

ʼn Gratis maarskalk-werkswinkel word op 17 September op Clanwilliam in die Wes-Kaap aangebied deur Rooibos Bpk. om plaaslike inwoners die geleentheid te gee om vaardighede aan te leer en sodoende in aanmerking te kom vir meer werksgeleenthede.

Dié werkswinkel volg na die sukses van verlede jaar se opleidingswerkswinkel.

Die werkswinkel word vanjaar weer op Clanwilliam gehou, omdat dié dorp dikwels die gasheerdorp vir byeenkomste is wat ʼn belangrike rol speel om toeriste na die dorp en omringende omgewing te lok.

Die werkswinkel op beginnersvlak sal vir gemeenskapslede die geleentheid gee om by byeenkomste soos die komende  Freshpak Fiksheidsfees, een van die land se grootste multisportgeleenthede, op 1 Oktober te werk.

Werkswinkel-deelnemers sal waardevolle vaardighede leer met betrekking tot die rol van ʼn veldmaarskalk, soos skare-beheer, rigtingaanwysing vir atlete en toegangbeheer. ʼn Ligte ete sal aan die einde van die werkswinkel bedien word.

Elke deelnemer sal ook na afloop van die sessie ʼn sertifikaat kry en die geleentheid om by die Freshpak Fiksheidsfees en ander byeenkomste te werk.

Die Freshpak Fiksheidsfees vier vanjaar op 1 Oktober sy 30ste herdenking op Clanwilliam.  ʼn Skilderagtige omgewing, uitdagende roetes, kameraadskap en die gevoel van prestasie is maar net ʼn handjievol van die redes waarom atlete, familie, vriende en toeriste jaarliks terugkeer na Rooiboswêreld om deel te neem en die feestelike fiksheidsatmosfeer te geniet.

Dié fees begin om 09:00 met ʼn 1, 5 km of 3 km swem in die Clanwilliamdam, een van die beste watersport-bestemmings in die Wes-Kaap.  Die swemitem word gevolg deur die dubbelkamp (5 km draf/20 km fietsry/2.5 km draf), asook ʼn tweekamp (5 km draf/20 km fietsry) waar deelnemers hulle spoed en uithouvermoë toets.

Die hoofgebeurtenis van die dag is die driekamp wat die driekampseisoen vir die meeste atlete afskop. Die atlete kan individueel of as deel van ʼn aflosspan deelneem.  Die jongklomp word ook nie uitgesluit met die FitKids-uitdaging (1 km draf/200 m swem/1km draf) en die een kilometer “Run for Fun” nie.

ʼn Persentasie van die opbrengs van die inskrywingsfooie word geskenk aan KANSA se plaaslike tak wat die Weskusstreek dien.  Rooibos, wat slegs in die Cederberge geoes word, het antioksidant-eienskappe wat kanker doeltreffend beveg en deel vorm van ʼn gesonde leefstyl.

Die werkswinkel sal by Rooibos Bpk. se besoekersentrum in Clanwilliam aangebied word. Vir meer inligting, kontak Gerda de Wet by Rooibos Bpk. tel: 027 482 2155 of stuur e-pos aan [email protected].

Besoek ook die Freshpak Fiksheidsfees se webwerf en Facebook-blad vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.