Grendeltyd: Oorwin só die verliese wat jy ly

Juliana Coetzer is ‘n psigoterapeut en skrywer. (Foto: jonathanball.bookslive.co.za)

Deur Juliana Coetzer

Ek onthou hoe stil dit was, daardie eerste tyd. Asof ʼn skakelaar afgesit is en die mensdom hul asem ophou. Soos gehoorsame kinders het die mense in hul huise gebly en met goeie voornemens die kaste reggepak en van jare se opgaarsels ontslae geraak. ʼn Gevoel van euforie het geheers.

Maar by my het al die goeie voornemens om die tyd produktief te gebruik en die boeke te lees waarvoor ek andersins nie tyd gehad het nie, gewyk. ʼn Intense lamheid het van my liggaam besit geneem. Ek het van een stoel na ʼn ander gesit wanneer ek nie geslaap of geëet het nie. Die daaglikse program wat struktuur gee aan my lewe, was tot niet. Die rede vir die vreemde gevoel het ek gesoek by die verlies van my skoonma wat net die week voordat die afsonderingstyd aangekondig is, gesterf het. Die een oomblik het ons nog beplan aan ʼn herinneringsdiens en die volgende oomblik word alle byeenkomste afgestel.

Net daarna kom die gerugte: Die wêreld, soos ons dit ken, het verander – niks sal ooit weer dieselfde wees nie. oornag is die pandemie ʼn realiteit in ons lewe. Die grendelperiode word verleng en ons toekoms in vlakke ingedeel.

Die verstaan van my gevoel, het ek in een woord gevind: Verlies. En soos dit met verlies gaan, het die fases gekom en gegaan soos branders wat breek.

Eers was dit die skok toe ek die nuus kry van die dood van ʼn mediese dokter van Bloemfontein wat ek verlede jaar ontmoet het. ʼn Nabye vriendin vertel hy was van die begin af bitter siek van die virus. En toe ek weer sien, begin die sterftesyfer wêreldwyd die hoogte inskiet en mense word in massas begrawe. Die realiteit sink in. Nee, dit is nie net nog ʼn griep nie.

Die periode van ontkenning is verby. Niemand gaan meer “net gou” winkel toe nie – die rye om in die winkel te kom, is meters lank. Ons is onsigbaar agter ons maskers. Sommige mense raak paranoïes. Alles word ge-Dettol en kruideniersware gesteriliseer. Mense lees en verkondig allerhande teorieë wat die paranoia net verder aanhits. Almal kry die skuld – van China tot Bill Gates.

ʼn Vriendin laat weet haar kind is positief getoets vir korona en is alleen in ʼn woonstel in ʼn ander land. Ek sien die kind se bleek gesig op ʼn video en hoor die gebrek aan asem in haar stem. Vrees pak my beet. Wat doen ek as een van mý kinders siek word en ek kan nie by hom uitkom nie? En wanneer mens in vrees is, wil jy iets doen – die tipiese veg-of-vlug-reaksie. Maar ons veg teen ʼn onsigbare vyand en is agter slot en grendel.

Foto: Pixabay

Binne myself begin ek ʼn intense irritasie en kwaadheid ervaar wat uiteindelik transformeer in ʼn gevoel van woede. En ek sien dit by my vriende en orals op sosiale media. Die rede daarvoor is voor die hand liggend: Ons het die beheer oor ons lewens verloor.

Dit was nooit in die beplanning dat mense nie die motorpaaiement sou kon betaal omdat hul salaris gehalveer is nie. Of dat die gastehuis sy deure permanent moet sluit en veertig werknemers sonder inkomste huis toe stuur nie. Of dat daar ʼn moontlikheid is dat die broodwinner sy werk kan verloor nie. Almal voel onveilig. Niemand funksioneer optimaal binne onsekerheid nie. Ons het stabiliteit in ons lewe nodig. Huurders betaal nie en eienaars wroeg hoe die verband afbetaal moet word. Mense het nie kos nie. Ander nie wyn nie. Boonop tref die onttrekking van tabak ʼn groot deel van die samelewing en paartjies haal hul frustrasie op mekaar uit. Ons keuses word van ons weggeneem en ons flap ons vlerke soos voëls in miniatuurhokke. Ons is kwaad, want skielik het ons geen besluit oor die gang van ons lewe nie.

Toe kom die hartseer uit pure hulpeloosheid. Ons sien die lyding raak en wil help. Ek verlang na my kinders en om hulle vas te hou en maak ʼn video-oproep en drink hul gesigte in. My vriendin se kind huil omdat die matriekjaar waarna sy so uitgesien het, die kuiers, die spesiale band met vriende en sportbyeenkomste tydelik opgeskort is. Bejaardes kwyn sonder koestering en aanraking. Mense gaan alleen dood en vir ander is die onsekerheid te veel en gaan oor tot pogings van selfdood. Families is in rou en ondersteuning is van ’n afstand. Mense probeer hul behoefte aan ʼn konneksie deur sosiale media bevredig, maar dit voel nie genoeg nie – ons wil in ons geliefdes se oë kyk en hul hande vashou.

Van my vriende wat in enige krisis sterk staan, begin wankel in hul gemoed. “Die onsekerheid maak my gek, dit hou te lank aan, daar is nie closure nie,” sê die een. “Ons het ruimte nodig, dit is onnatuurlik om permanent so saamgebondel te wees,” sê ʼn ander. “Ek haat dit as my keuses van my weggeneem is,” sê ek. “This too shall pass,” herinner ons mekaar.

winter-depressie-saam-twee

Foto: Gerald Gabernig/Flickr.com

Gelukkig is daar ook tye van gelatenheid en aanvaarding. Ons lag en maak – soos net Suid-Afrikaners kan – grappe oor die vreemde virus en kyk hoe Italianers “ ’O Sole Mio” op balkonne sing. Ek kom uiteindelik tot die besef ons leef in onseker tye en sal moet aanvaar dat daar aspekte is waaroor ons nie beheer het nie. ʼn Groter les in letting go, kon ek nie kry nie. En dat ek beheer moet neem oor die aspekte van my lewe waaroor ek nog kan en nie ʼn slagoffer wees nie. Ek leer om my gedagtes te beheer om nie situasies in my kop onnodig te vererger nie.

Ons gaan almal deur hierdie fases en dit is normaal. Ons kan onsself toelaat om te voel, dit is gesond. ʼn Emosie is nie reg of verkeerd nie, maar wanneer hy beheer van jou neem en jy die hele tyd kwaad of hartseer is, het jy jou balans verloor en ly jy en die mense rondom jou daaronder.

Gedurende moeilike tye, soos nou, is daar twee eienskappe wat jou sal dra: Deernis teenoor jouself en ander. En vertroue in jou vermoë om anderkant uit te kom. Want ons almal het al deur baie moeilike tye gekom – jy moet dit net onthou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.