Gróót mode-studiebeurse toegeken

Milan Jordan het die beurs in kommunikasie en aankope gekry. (Foto: Verskaf)

Twee jong dames se drome om in ’n moderigting te studeer het onlangs waar geword toe elkeen ’n studiebeurs losslaan wat jaarliks deur die bekende mode-ontwerper Gert-Johan Coetzee uitgeloof word.

Coetzee ken die beurs jaarliks by die Noordwes-ontwerpskool (NWSD) in Klerksdorp se Platinum Fashion Festival toe. Die beurse is vir drie jaar studie by NWSD waar Coetzee ook sy modekwalifikasie in 2005 behaal het. Die waarde van die beurse is R380 000 en sluit persoonlike mentorskap en internskap by Coetzee se ateljees in Johannesburg in.

Die beurs in mode-ontwerp is aan Cheline Jenkins, van Pietermaritzburg, toegeken en Milan Jordan, van Bloemfontein, het die beurs in kommunikasie en aankope gekry. Jenkins en Jordan het ook naaldwerkmasjiene van Bernina SA ontvang.

“Ek is so opgewonde oor wat die toekoms inhou,’’ het Jenkins ná die prysuitdeling gesê. Sy is in matriek en sien uit daarna om haar passie uit te leef.

Cheline Jenkins het die mode-ontwerp beurs ontvang (Foto: Verskaf)

“Dit maak my gelukkig as ek sien hoe ’n vrou straal in ’n uitrusting wat ek vir haar gemaak het. Dit gee vir my ’n doel in die lewe.’’

Vir Jordan is dit ook ’n droom wat waar geword het. “Dit is ’n groot eer vir my om die beurs te kry, veral by NWSD. Dit is die perfekte ontwerpskool vir my waar ek aan my loopbaan in mode wil begin werk. Ek kan nie wag nie.’’

Volgens die organiseerders was dit nie ʼn maklike taak om die wenners van die studiebeurse aan te wys nie.

“Die finaliste is deur ’n streng keuringsproses geplaas en moes ’n portefeulje van ontwerpe aan Coetzee voorlê, ’n aanlegtoets skryf en ’n mode-ontleding doen. Daarna is tien finaliste aangewys en Coetzee het onderhoude met elkeen gevoer,” het hulle in ʼn verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.