Harte gaan wyd oop vir droogtegeteisterdes

Vrywilligers pak die water van die trokke af. Foto: Facebook via Jakaranda FM

Vrywilligers pak die water van die trokke af. Foto: Facebook via Jakaranda FM

Erge droogtetoestande in Suid-Afrika wys opnuut weer hoe ʼn land kan saamstaan in nood, met verskeie organisasies wat kragte snoer om droogtehulp te verleen en geld in te samel.

Verskeie organisasies, onder meer AfriForum en Fast Freight, het saamgespan om geld vir droogtegebiede in te samel. Dié gesamentlike projek, “Voer ʼn boer”, se geldelike bydraes word direk aan boere geskenk.

Henk Maree, nasionale woordvoerder van AfriForum, sê dit is belangrik om hulp te verleen aan boere in droogtegebiede weens die erge omvang van die droogte. “Suid-Afrika word deur ’n ernstige droogte geteister. Boere kry ontsettend swaar en sekere dorpe het op dié stadium geen drinkwater nie. Ons kan nie anders as om ook in te spring en te help nie.”

Intussen het verskeie sangers ook hul eie veldtogte afgeskop om geld vir dié doel in te samel. André Venter, voormalige lid van Romanz, het by Agri SA se pogings aangesluit om die landbou-bedryf te help.

André het “Ons vra U vir reën” opgeneem, ’n lied met ’n boodskap van hoop en met ’n oproep tot alle mense om te bid vir reën en gelowig te volhard. Die lied sal beskikbaar wees op sosiale media, saam met ’n versoek van ʼn R20-donasie per aflaai. Die opbrengs sal aan die Droogte Rampfonds, bestuur deur Agri SA, geskenk word.

ʼn Konsert word ook beplan waarvan die opbrengs aan boere geskenk gaan word. Die sanger en liedjieskrywer Adam Tas, gaan elke sent van sy konsert, “Manna vir die boere”, aan droogtehulp skenk.

Kunstenaars soos Laurika Rauch, Steve Hofmeyr, Juanita du Plessis, Kurt Darren, Corlea Botha, Jak de Priester en Jannie Moolman gaan ook in dié konsert te sien wees.

Die droogte laat ook gemeenskappe saamstaan. Die gemeenskap van Impala Park in Boksburg het ʼn droogtehulp-projek, getiteld “Oos-Rand staan saam” van stapel gestuur.

Dié inisiatief het al twee trokke water en voer na Senekal gestuur. Verskeie skole, kerke en instansies was hierby betrokke. “Ons het as gemeenskap besluit om betrokke te raak. Ons het die afgelope naweek ʼn tweede trok met 230 bale veevoer en 43 000 liter water na Senekal toe gestuur,” het Anneke Brits, ʼn aktiewe lid van die groep, aan Maroela Media vertel. Omdat die gemeenskap mense in die area ken, wou hulle spesifiek daar verligting aan boere bring.

Organisasies soos die NWK is ook besig om boere by te staan. Verskeie aksies om die impak van die droogte te probeer verminder en die volhoubaarheid van produsente te help verseker, word tans deur dié organisasie in werking gestel. Moontlike bykomende opsies om produsente te ondersteun, soos uitstel van produksieskuld en/of die konsolidasie van produsenteskuld, word ondersoek.

Volgens Danie Marais, besturende direkteur van die NWK, neem dié organisasie aktief deel aan besprekings in georganiseerde landbou en die landboubesigheidsomgewing ter ondersteuning van ʼn poging om die droogte se impak op voedselsekerheid, finansiering, veevoer, waterbeskikbaarheid vir besproeiing en vee asook sosio-ekonomiese implikasies te probeer versag.

Inisiatiewe om gemeenskappe in die NWK-gebied wat onder watertekort gebuk gaan te ondersteun, is ook al deurgevoer. Met ʼn waterprobleem in Lichtenburg en die skole wat begin het, is die dogters- en seunskoshuis van Hoërskool Lichtenburg met nagenoeg 200 leerlinge, van water voorsien. As deel van Jakaranda FM se #ProjectWaterDrop is 1 000 vyf liter bottels water deur NWK en sy personeel geskenk. Ter ondersteuning van ʼn Agbiz-inisiatief is ʼn gebedsbyeenkoms op 20 Januarie by die hoofkantoor en van die bedryfspunte gehou.

Só jy kan jy die projekte ondersteun:

  • “Voer ʼn boer”-projek: Om die projek te ondersteun, SMS jou naam na 38312 om R10 te skenk. AfriForum skenk ʼn addisionele R10 vir elke SMS wat ontvang word.
  • André Venter se liedjie: Hierdie liedjie kan gekoop en afgelaai word deur gebruik te maak van die MITracks.fm app (www.mitracks.fm). Andersins kan jy ook die app en jou kredietkaart gebruik vir die aankoop van die liedjie of ʼn elektroniese oorplasing maak.
  • “Manna vir die Boere”: Die konsert vind op 20 Februarie tussen 15:00 en 18:00 plaas by die Voortrekkermonument se Amfiteater.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

kobus ·

Die droogte kan nog maande duur en ons moet almal hande vat en GOD smeek om genade,smeek vir reen,dat die velde herstel en die diere genoeg voedsel en water he want hul kry net so swaar en kan nie vra vir hulp nie. Ons is trots op almal wat help in die droe gebiede,mag hul ryklik geseen word. Kom laat ons almal hande vat

Nella ·

Ai julle is dit nie wonderlik om te sien hoe Suid Afrikaners kan saam staan nie!! Dit is absoluut ‘n riem onder die hart om sulke positiewe gebare te sien. Dankie aan elk persoon wat betrokke is, maak nie saak hoe groot of klein jou bydrae is nie.

Corneels ·

Welgedaan mede Oosranders….ons maak weer so. Binnekort weer n trok. Dankie Anneke Jolanda en aaaalmal

Willie ·

Wil graag n skenking maak. indien ek n bydrae sms. hoe word die skenking betaal? laat weet asbl.
willie

Sune van Heerden ·

Dagsê Willie

Die R10 word direk van jou selfoonrekening of beskikbaare fondse op jou selfoon afgetrek.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

charmaine ·

Ek kry trane as ek sien hoe wonderlik dit is as mense so saam staan en saam mede Suid Afrikaners help in tye van nood. Dit is so lekker om te gee al is dit net n kan water as om te ontvang. Wens ons ander mede SA kan sien dat dit beter is om te gee en n bydrae te lewer as om af te breek. Ons het 2 weke terug by ons kerk water geskenk vir die gemeenskap van Windburg, dit was wonderlik om my 5liter water ook daar neer te sit en weet iemand gaan kan koffie maak of kos kan maak of net n glas water drink vir sy dors.

Elizabeth ·

Ek dink hierdie noodgedwonge saamstaan direk voor die verkiesing, is een van die grootste bedreigings vir die ANC.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.