Hekelwerk nog lank nie ʼn uitgestorwe kunsvorm nie

(Foto: Annelize Brits)

(Foto: Annelize Brits)

Hekelhandwerk is ʼn kunsvorm wat al sedert die 19de eeu beoefen word en is selfs vandag nog ʼn gewilde stokperdjie onder vroue én mans.

Elaine van Wyk, eienaar van die I love Yarn-wolwinkel in Brooklyn, Pretoria, het aan Maroela Media vertel hekelwerk het die laaste paar jaar ʼn oplewing beleef, soveel so dat entoesiaste selfs van reg oor die land byeenkom tydens sogenaamde hekelwegbreeknaweke om dié kunsvorm in al sy glorie te vier.

“Die oplewing is beslis nie net plaaslik nie, maar ook internasionaal. Daar is selfs oorsese kunsinstallasies van gehekelde en gebreide items met fibre artists wat dié kunswerke maak,” vertel Van Wyk.

“Vir ʼn lang ruk het Suid-Afrika nie uitstekende wol gehad nie. Ons was geforseer om met die goedkoper akrielwolle te hekel, maar deesdae kry ons ʼn baie groot verskeidenheid goeie wol.”

Sy tel 100% merino-wol, suiwer sy, alpaca-sy van Peru, asook katoen- en bamboes-wol van Japan onder die wol wat sy vir haar klante laat invoer. Sy vertel dat gare en wol deesdae ook van melk en mielies vervaardig kan word.

ʼn Hekelnaald is ook nie sommer net ʼn naald nie, vertel sy. “Daar is hordes verskillende naalde waarmee jy verskillende steke en tegnieke beoefen. Ons het goedkoper hekelbybehore ook, maar ek voer graag naalde van Indië en Japan af in.”

(Foto: Annelize Brits)

(Foto: Annelize Brits)

Van Wyk vertel sy het ʼn liefde vir hekel ontwikkel toe sy tydens die voltooiing van haar MBA-graad nie in die aande kon slaap nie. “My ma het voorgestel dat ek begin hekel om my hande en brein besig te hou as ek so wakker lê, en nou kyk ek nie terug nie.”

Die gewildheid van die hekelwegbreeknaweke het so gegroei dat Van Wyk vanjaar reeds haar vyfde wegbreeknaweek aanbied.

“Die eerste twee jaar was ons Cullinan toe en vanjaar gaan ons Nylstroom toe. Ons het dit al op ʼn spoglandgoed naby Pretoria aangebied, maar ek vind dit is dan te maklik vir mense om ander reëlings te tref wat hulle ‘gou-gou’ wil gaan doen as hulle naby aan die huis is.”

Sy vertel die doel van ʼn hekelnaweek is juis om weg te breek van die alledaagse lewe en uit te span met jou hekelwerk. “Hekelwerk is baie terapeuties. Die nasionale gesondheidsdiens (NHS) in Brittanje skryf hekelwerk voor aan pasiënte wat aan sielkundige afwykings of depressie en angstigheid ly. Dit werk selfs vir mense wat aan post-traumatiese stres ly en vir pasiënte met chroniese pyn.”

Volgens Wendy Erasmus Koutlis, ʼn hekel-entoesias van Fouriesburg in die Vrystaat wat self hekelwegbreeknaweke reël, is dié wegbreke so gewild dat sy nog ʼn datum vir ʼn naweek moes byvoeg nadat die eerste een binne 24 uur uitverkoop is.

“Daar is ʼn baie groot aanvraag na die wegbreeknaweke, want die mense wat saamkom, hoef letterlik die hele naweek lank niks anders te doen as om net te sit en hekel en na die uitsig te kyk nie,” vertel Erasmus Koutlis oor haar gasteplaaswegbreke.

“Ek kry spyseniers wat die kos voorsien en helpers wat die beddens opmaak en die opruimwerk doen. Die gaste hoef nie ʼn vinger te lig, behalwe om te hekel, nie.”

Wendy Erasmus Koutlis. (Foto: Annelize Brits)

Wendy Erasmus Koutlis. (Foto: Annelize Brits)

Erasmus Koutlis vertel sy het vir haar wegbreeknaweke ʼn spesiale patroon vir ʼn kombers ontwerp waaraan die gaste die hele naweek lank kon werk. “Ek het ook vir elke vrou ʼn geskenkpak met onder meer 24 bolle wol, waarvan hulle die kleure vooraf kon kies, asook ʼn hekelnaald, gegee. Daar is nie ʼn program vir die naweek nie, elkeen kan net agteroor sit en hekel en gesels en die rustyd geniet.”

Annelize Brits, ʼn hekel-entoesias wat onlangs een van Erasmus Koutlis se wegbreeknaweke bygewoon het, vertel dit was heerlik om tyd deur te bring saam met ander mense wat ewe passievol is oor dié kunsvorm.

“Só ʼn naweek is heerlik vir kuier en gesels en ontspan. Jy kuier saam met mense wat nie dink jy is koekoes as jy tot 00:00 sit en hekel nie,” skerts sy.

“Vir my is hekel ʼn stresontlaaier. Dit doen vir my dieselfde as wat naaldwerk of verf vir ander mense doen, maar mense woon ook die naweke vir verskillende redes by en elkeen hekel ook in die styl waarvan hy die meeste hou. Sommige is selfs net daar vir die samesyn.”

Brits vertel jy hoef nie ʼn kranige hekelaar te wees om een van dié naweke by te woon nie en dat daar gesoute hekelaars is wat jou kan touwys maak wanneer jy met ʼn steek of twee vashaak. “Wendy het byvoorbeeld tyd opsy gesit om my te help om my blokkies aan mekaar vas te werk. As jy geheel en al ʼn beginner is sal jy dalk sukkel om by te hou by die res van die groep, maar as jy jou eie ding doen, sal jy dit terdeë geniet.”

Erasmus Koutlis sê ʼn mens hoef nie deel van ʼn hekelgroep te wees om een van dié wegbreke te geniet of baat daarby te vind nie. “By ons op Fouriesburg geniet jy net die stilte en jy hekel teen jou eie pas.”

Van Wyk van I Love Yarn vertel dat dit ʼn duur stokperdjie kan raak, maar dat ʼn mens nie van die heel duurste wolprodukte gebruik hoef te maak om te hekel nie. “Hoe meer jy verdiep raak in die kuns, hoe meer wil jy natuurlik met die duurder wolle werk. Mense raak wol-snobs,” lag sy.

Alpaca- en merinowol in Elaine van Wyk se Pretoriase wolwinkel, I Love Yarn. (Foto: Facebook)

Alpaca- en merinowol in Elaine van Wyk se Pretoriase wolwinkel, I Love Yarn. (Foto: Facebook)

“Katoenwol is ʼn baie goeie wol en is een van die goedkoper opsies, maar ʼn mens kry tot wol soos 100% kasjmier en suiwer sy wat draai by R300 per bolletjie.”

Alhoewel hekelpatrone baie tegnies kan raak, is dit maklik om te bemeester, reken Karen Adendorff, hekel-foendi en skrywer van topverkoperboeke soos Brei vir die gesin, Hekel vir die lekker en Alles oor hekel.

“Hekelwerk bestaan uit ʼn reeks van basiese steke en as jy dit onder die knie het, kan jy enige patroon hekel,” sê Adendorff. “Uit ʼn praktiese oogpunt is hekelwerk ʼn stokperdjie wat jy oral met jou kan saamdra. Jy kan langs die swembad, rugbyveld of jou dogtertjie se balletsessie sit en hekel. Jy kan ook goed maak wat bruikbaar is, soos klere en tafeldoeke.”

Riaan Grobler, bekende sanger en radio-omroeper, vertel hy het een dag die hekelnaald opgetel en kan dit nie los nie. “Ek sê vir jou, ek hekel oggend, middag en aand.”

Hy vertel dit hou sy hande besig. “Ek wou iets kreatief doen, maar ek wou iets ánders doen. Twee van my sussies hekel en ʼn vriend van my se ma hekel ook. Ek klop toe by die tannie aan vir ʼn paar hekelwenke, soek ʼn Afrikaanse video op YouTube om na te kyk en toe ek weer sien leer ek myself om ʼn massiewe tafellappie te hekel.”

Die sanger Riaan Grobler spog met sy eerste probeerslag. (Foto: Verskaf)

Die sanger Riaan Grobler spog met sy eerste probeerslag. (Foto: Verskaf)

Grobler voeg by dat Annelien Pienaar, bekende voedselkonsultant en aanbieder van die VIA-kosprogram Boerekos met ʼn twist, hom ook help met sy hekelwerk. “My volgende projek is ʼn groot deken vir my bed.”

Hy vertel hy moes lankal agtergekom het dié kunsvorm is “nie net vir dogtertjies nie”. “Dit is ʼn ontvlugting waarvoor jy geduld moet hê, maar glo my, as jy eers begin kan jy nie ophou nie.”

Van Wyk beaam Grobler se stelling. “Daar is baie mans wat by my kom wol koop. Een man, ʼn advokaat, kom koop selfs wol op sy vrou se instruksie. As sy ʼn trui wil hê, dan kom koop hy die wol en hekel vir haar een. Ek weet nie hoekom dit vir mense snaaks sal wees nie – van die grootste ontwerpers in die modewêreld is mans!”

Sy sê ook dit is beslis nie net ʼn stokperdjie vir ou tannies nie. “Ek het ʼn hele paar klante in hulle twintigs en dertigs en dit is ook deesdae ʼn gier vir jong mammas om te hekel.”

I Love Yarn bied ook geskeduleerde klasse aan vir mense wat graag wil leer hoe om te hekel. “Ons kry elke keer verskillende mense om die klasse aan te bied om dit interessant te hou.”

Adendorff se raad vir beginners is ook eenvoudig. “Vat ʼn boek, kyk op YouTube, en jou kop is deur. Kry ʼn wol soos dubbelbreidraad en ʼn 3 tot 4 mm hekelpen. Moenie fancy begin nie. Vat elke steek en hekel ʼn blokkie daarvan tot jy dit onder die knie het en so gaan jy aan. Op die ou einde gaan jy sien ʼn moeilike patroon is sommer eenvoudig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Marietjie ·

Eks ook al vir jare hekel mal.
Ek se so dankie vir al die blootstelling wat ons nou kry op FB en ander media.

Nettie ·

Nee, o aarde, ek kan aan BAIE beter dinge dink om te doen die dag as Klaas Vakie nie sy sandjies wil kom strooi nie (aan die anderkant, ek is saans so poegaai gewerk dat dit nie veel vat om om te kiep in die kooi nie). Ek lees eerder ‘n interessante nie-fiksie boek of geskiedkundige roman, as om met ‘n bol wol en hekelpen “langbeentjies en kortbeentjies” se sit en maak.

Anoniem ·

Nettie, jy is reg, hekel is nie vir almal nie. Maar dit kan geweldig bevredigend wees om iets moois met jou eie hande te maak.

Linda ·

Die wonderlikste ontspannendste lekkerte, doen dit al vandat ek in graad 7 [destyds standerd 5] was. Een van my moeder se ouer susters het al ons meisiekinders, wat wou leer, geleer om te hekel. Het ‘n hele bruidskis vol hekelgoed wat ek self, my moeder en haar susters gehekel het, met selfs die fynste hekelgare – hekelwerk raak nie oud nie en net soms op [lees stukkend]. Ken ook mans wat hekel en vind niks snaaks daaraan nie. Ek is so bly dit raak weer al meer die inding om te doen — kan ook ‘n baie goedkoop stokperdjie wees — bolletjie wol of gare is nie so duur nie.

Penellope Jones ·

Ek het SO baie hekelwerk van my Ma, Skoonma as ook my Sus. Almal wat afskaal na versorgingsoorde en kleiner woonplekke se hekelgoed het na my toe gekom, so ek sit met baie.
Ek het NIE die hart om daarvan ontslae te raak nie – veral nie as ek dink dat elke liewe hekelstekie deur hande gedoen is wat na aan my is nie.
So dis alles netjies weggepak – ek het nie dogters nie – sal maar sien of skoondogters wat daar nog nie is nie, sal belangstel!
Hoewel ek nie self hekel nie, kan ek dink dat hekel ‘n kalmerende uitwerking het, en om te sien hoe ‘n artikel vorder en voltooi word wat mens self aan werk, is darem maar lekker.

Elzibe Pretorius ·

Ek hekel en brei al meer as 40 jaar. My ma het my geleer. Het vir al 3 my kinders gebrei en brei\hekel nog steeds vir my kleinkinders. Oor die algemeen hou ek daarvan om komberse vir liefdadigheid te maak. Dis baie terapeuties.

Boeremeisie ·

Ek koester al my gehekelde lappe en bewaar dit soos goud. My ouma kon my egter nooit leer hekel nie, omdat ek linkshandig is en sy was regshandig. Sou daarvan gehou het om self te kon hekel…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.