Hele SA maak hart wyd oop vir droogtenood

Die Proteas deel water uit. Foto: Facebook via Gift of the Givers

Die Proteas deel water uit. Foto: Facebook via Gift of the Givers

Hoewel sommige dele van die land mildelik reën ontvang het, is dit steeds nie genoeg om die gras te laat groei en boere uit die droogteverknorsing te help nie. Suid-Afrikaners staan egter steeds saam om die droogtegeteisterdes te ondersteun.

Die niewinsgewende organisasie Gift of the Givers het verligting gebring aan die Springfontein-gemeenskap. Inwoners van Springfontein moes al selfs tot sewe dae sonder water gaan. Die organisasie het watertenks opgerig in die gemeenskap om water te berg wanneer hulle skenkings ontvang.

“Daar is ook meer as 16 000 liter water aan omgewings soos Sonskyn en Williamsville geskenk,” het Imtiaz Sooliman, stigter van die organisasie, gesê.

Spanlede van die Proteas het ook vandeesweek hul ondersteuning aan droogtegeteisterdes getoon. Hulle het duisende liters water aan behoeftige mense in die Bloemfontein-omgewing uitgedeel tydens hul eendag-wedstryd in Bloemfontein.

“Gift of the Givers probeer ʼn verskil maak in die lewe van die mense wat swaar gebuk gaan onder droogtetoestande. Ons het ook meer as 250 000 liter water vir droogteverligting in KwaZulu-Natal geskenk,” het Sooliman gesê.

Die niewinsgewende organisasie het dit ook vir ander makliker gemaak om met droogteverligting te help. Diegene wat ʼn helpende hand na die droogtegeteisterde dele van Suid-Afrika wil uitsteek, hoef net tot by ʼn poskantoor te gaan. Gift of the Givers en die Suid-Afrikaanse Poskantoor het ook saamgespan om water by droogte-rampgebiede af te lewer.

Sekere poskantore in stedelike gebiede is uitgewys as aflaaipunte vir verseëlde vyfliterhouers water waar lede van die publiek soveel houers kan laat soos hulle wil. Die program geld vir Februarie 2016.

Intussen het Radio Tygerberg in die Wes-Kaap ook sy eie projek van stapel gestuur om geld vir boere in te samel. Die organisasie het in drie dae skenkings van meer as R750 000 ingewin wat aangewend word om voer vir diere aan te koop.

Die radiostasie het reeds bystand gelewer aan ʼn paar boere in die omgewing. Daar is ook onlangs sewe trokke voer aan die boere in die omgewing versprei. Hulle beplan om saam met Boere in Nood hande te vat om ʼn gesamentlike verskil te probeer maak.

Die droogte se gevolge is egter steeds baie negatief. Terwyl baie veeboere se diere om oorlewing veg, lewer die voedselverwerker McCain SA sy eetbare afvalgroente in gebiede van nood af. McCain, een van SA se grootste verskaffers van bevrore groente, het vandeesweek na talle boere oor die hele land uitgereik.

Volgens ʼn verklaring van die NWK het besproeiingsprodusente van die Koedoeskop-omgewing in Limpopo deur sy boerevereniging sowat 1 500 ha se mielie-oesreste beskikbaar gestel vir die droogtegeteisterde Noordwes-provinsie. ʼn Aksie om die materiaal van die lande te versamel en te baal, is goed op dreef, maar die vervoer en aflewering daarvan is tans nog ʼn uitdaging.

NWK, in samewerking met Agri Noordwes, het die voortou geneem met die Koedoeskop-droogtehulpprojek as deel van hul bydrae om die uitwerking van die droogte te probeer verminder en die volhoubaarheid van produsente te help verseker.

Ondersteuning is van verskeie landbou-insetverskaffers ontvang met die verskaffing van trekkers, hark- en baaltoerusting, tegniese ondersteuning, baaltou, veiligheidsklere, versekering en die opstel van kontrakte vir masjienbedieners en werkers. Hoewel twee vervoermaatskappye elkeen ’n vragmotor beskikbaar gestel het, word heelwat meer vervoerkapasiteit benodig.

As jy betrokke wil raak by die skenkings, besoek die SA Poskantoor-webwerf, NWK se webwerf en Radio Tygerberg se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

StopTheMadness ·

Almal help behalwe die regerende party en sy regering!

Fanie ·

Dit wys jou net, ons mense wat die boere help is ‘n regering op sy eie. Baie dankie vir almal se hulp en bydrae, opofferings en bystand.
Die ANC aan bewind kan nie eers die Brandstof verskaf vir die aanry van die voer en water nie, wat nog van kos en water vir die diere ens, wat hulle saam gaan eet. Hulle soek mos net die grond!!!

Retief ·

In die Wes-Kaap het die NG Kerk ook ‘n sterk veldtog aan die gang om boere te help. Alle gemeentes is betrek.

Rupert Ashford ·

Dankie Retief. Die Christene sal nie hulle uitreike aan die groot klok hang nie so as iemand dit nie namens hulle doen nie gaan mens eensydige storietjies hoor…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.