Helikoptervrou red meerkatte

Alma Stafford saam met twee van haar meerkatkinders. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Sy is ’n helikoptervlieënier met ’n LLB-graad. Maar sy wil niks anders doen as om met meerkatte te werk nie.

“Ek is heeltemal passievol oor meerkatte. Ek sal enigiets vir hulle doen”, vertel Alma-Celeste Stafford in ’n openhartige onderhoud met Maroela Media op Witdraai in die hartjie van die Kalahari.

Alma het in 2014 ’n mishandelde meerkat by mense in Kuruman gekoop om die diertjie te red.

“Pippie was my eerste meerkat. Nadat ek Pippie aangeneem het, het ek besef meerkatte is eiesoortige diertjies wat heeltemal verkeerd verstaan word deur die mensdom.”

En min mense verstaan Suricata Suricatta (beter bekend op hul Afrikaanse benaminge die graatjiemeerkat, stokstertmeerkat of Erdmann) beter as Alma en haar man, Wessel nie.

Namibië het sy bewaringsegpare Rudie en Marlice, maar in Suid-Afrika het ons vir Alma-Celeste en Wessel.

“My groep op Stellenbosch was die eerste wat suiwer LLB studeer het. Ek het my klerkskap op Keimoes gedoen.”

Maar hoe het sy begin vlieg?

“Ek het in 2008/’09 helikopters vir die Landmark Foundation in die Baviaanskloof begin vlieg om luiperds se bewegings te monitor. In daardie stadium was ek slegs een van twee vroue-helikoptervlieëniers by die vliegskool. Dit het my R600 000 vir  ’n helikopterlisensie gekos, maar dit was elke sent werd,” vertel Alma.

Alma en Wessel is in die proses om van hul meerkatte (daar is 34 in totaal) na beter omgewings te verskuif, omdat dit in die huidige droogte en weens ekonomiese oorweginge net nie meer haalbaar is om die diere op Witdraai aan te hou nie.

Die meeste van die meerkatte sal nou na verskillende plase in die omgewing van Postmasburg, Lohatla en Olifantshoek verskuif word. Een groepie onder die aanvoering van Daisy sal later weer na die Kalahari Gasteplaas gebring word, tussen Upington en Askham.

“Ons dra sorg dat die verskuiwings met so min as moontlik trauma gepaard gaan. Meerkatte is sensitiewe diertjies wat maklik stres. Ons probeer hulle so gemaklik en gou as moontlik tuisvoel in hul nuwe omgewings.”

Alma verduidelik dat hulle meerkatte karnivore en omnivore is in teenstelling met die waaierstertmeerkat, wat ’n knaagdiertjie is. Volgens Wessel het die TV-program Meerkat Manor die publiek onder ’n totale wanindruk oor meerkatte gebring.

“Meerkatte het huisdierstatus gekry. Almal wou skielik ’n Flower of ’n Rocket Dog hê. (Flower was die alfawyfie van een die wedywerende meerkatstamme en Rocket Dog was haar dogter.)

“Mense doen hulle ’n onreg aan om hulle as troeteldier hê. Hulle is ook draers van siektes soos hondsdolheid.”

Mak meerkatte hou daarvan as hul magies gekielie word, maar pasop: hulle kan geniepsig byt. Foto: Verskaf.

Meerkatte kan geniepsig byt. Per vierkante duim het hulle dieselfde bytkrag as dié van  ’n Duitse herdershond. Dis nóg ’n rede hoekom mense hulle nie as troeteldiere moet aanhou nie.

“Michelle Boonzaaier van Pretoria, wat net soos ons passievol oor natuurbewaring is en wat ons al baie gehelp het, is só erg gebyt dat sy plastiese chirurgie aan haar neus moes ondergaan.”

Meerkatte wat ouer as twee en ’n half jaar oud is, of reggemaak is, kan nie weer in die natuur vrygelaat word nie en as Henlie Du Randt naby Krugersdorp nie ingegryp het nie, was daar vir daardie arme meerkatte geen toekoms nie. Die tyd, liefde en finansies wat Henlie insit, is bitter baie. Ongelukkig word daar baie druk op ons gesit om ’n absoluut gesonde dier uit te sit, net omdat hy/sy nie kan teruggaan veld toe nie.

Met haar regsagtergrond kan Alma gesaghebbend oor die warboel wette en voorskrifte wat die wildbedryf in Suid-Afrika reguleer, praat.

“Elke provinsie het sy eie stel reëls en wette. Dan kry jy nog ’n klomp munisipale regulasies ook. Die Noord-Kaap is die enigste van Suid-Afrika se nege provinsies waar meerkatte ’n beskermde spesie is. Dis ’n absolute mynveld wat deur gewetenlose mense vir hul eie gewin misbruik word. Ek het lyste van onwettige telers in Suid-Afrika. Die wetgewing in Suid-Afrika moet verander word sodat die natuurlewe deur een allesomvattende wet beskerm word – nie afsonderlike wette vir elke provinsie nie.”

Een van die grootste probleme is die onderteling van die Kalaharimeerkat en die Karoomeerkat.

“Die Karoomeerkat se gene is dominant en die Kalaharimeerkat se getalle is besig om drasties te daal. As dinge voortgaan soos op die huidige trant, sal daar oor tien jaar nie meer ’n Kalaharimeerkat as ’n spesie bestaan nie,” meen Wessel, ’n majoor in die Staande Mag.

“Ons was gelukkig in die sin dat die Weermag in Lohatla ’n groot stuk grond aan ons beskikbaar gestel het waar ons ons meerkatte kan rehabiliteer. Ons het al sowat 200 meerkatte gerehabiliteer deur hulle stelselmatig aan ’n vrye lewe in die natuur gewoond te maak. As ’n wyfie haar tweede werpsel in die veld voortgebring het, weet ons sy het aangepas. Ons het ander diere soos draaijakkalse en bakoorjakkalse ook, asook voëls soos die baardaasvoël, oftewel die lammergeier. Ons sal geen dier wat ’n tuiste benodig, wegwys nie.”

Myne is van die grootste sondaars, met die groot hoeveelhede stof wat hulle veroorsaak.

“Maar met wat ons deur die meerkatbewaring doen, maak ons beslis ’n verskil. Sedert ons met die meerkatte begin werk het, kan ons ’n besliste toename in die aasvoëlbevolking sien. Alle aspekte in die natuur hou verband met mekaar en elke komponent is deel van die groter geheel.”

Befondsing kniehalter hul werk.

“In een maand het ons R9 500 se diesel uitgery. ’n Pak voer kos R864 en dit word binne  ’n week deur minder as tien meerkatte verorber.”

Die Staffords (Alma was ’n nooi Jeppe) vertel my feite omtrent ’n meerkat wat ek nooit geweet het nie:

  • Meerkatte is matriargaal en geweldig territoriaal. Slegs die alfawyfie ovuleer.
  • ’n Meerkat moet minstens vyf uur per dag grawe. “Hulle is gebore om te grawe.”
  • ’n Gesteriliseerde meerkat sal nooit in ’n normale meerkatkolonie in die veld aanvaar word nie. “Hulle sal hom verwerp en selfs doodmaak.”
  • Meerkatte is streng groepsdiere. “’n Individu wat nie ’n bydrae maak tot die welstand van die troppie nie, se dae is getel.”
  • Moord van meerkatkleintjies kom algemeen in die meerkatbevolking voor en kan so hoog soos 19% per groep wees.

Alma en Wessel Staffords. Hulle passie vir meerkatte laat pendel hulle op gereeld op eie koste tussen tussen Lohatla en Askham en terug. Foto: Verskaf.

Daar is ander passievolle en simpatieke mense wat die Staffords help in hul wonderlike werk.

“Dr. Boeta van der Merwe van Postmasburg het ons nog nooit ’n sent gevra vir sy werk nie. Alles is pro bona.”

Geen moeite is vir die Staffords te veel nie. Hulle vang selfs in die middel van die nag skerpioene vir die meerkatte! So moet hulle leer om eendag selfversorgend te wees. Alma het gou op haar eie manier geleer om die diere te dokter.

“Onlangs was daar ’n geval waar tien meerkatte gif ingekry het. Ek het hulle gesond gedokter en almal het deurgetrek!”

In hierdie dae wat die natuur roekeloos uitgewis word en daar handel gedryf word met enigiets van perlemoen tot renosterhoring tot ietermago’s, kan ’n mens net die grootste bewondering vir mense soos Alma en Wessel hê.

  •  Pierre Massyn is ’n skrywer en natuurbewaarder

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Petrus Heigers ·

Baie merkwaardige vrou. Ek is so trots vir mense soos sy wat ‘n passie vir diere het. Ek het nooit geweet ‘n helikopter lisensie is so duur nie ! Ek sou graag wil weet of ‘n helikopter ook gebruik word in die help program. Baie interesant !

Alma-Celeste ·

Ons gebruik nie helikopters nie. Ek het bitter lanklaas gevlieg alle fondse wat ons het gaan vir meerkatte. Ons Facebook bladsy is Solidearth meerkat rehab and rescue

Jack ·

Is ek nou verward of het ek geslaap in die klas? Ek het geleer alles in die diereryk is óf ‘n karnivoor (vreet ander diere, insluitend insekte), óf ‘n herbivoor (vreet plantmateriaal) óf ‘n omnivoor (vreet albei). Nou verstaan ek nie lekker hoe een dier ‘n karnivoor én omnivoor kan wees nie. Dan ook, soogdier, knaagdier, buideldier, reptiel, voël, almal hoort aan een van die drie dieët groepe, so hoe dan nou ‘n knaagdier uitsonder asof hy in ‘n spesiale groep is?

Heidi ·

Hey julle twee!!! Julle raak net mooier soos die tyd aanstap!! ???? Wonderlike werk wat julle doen!!

Theoman ·

Hoe meer dinge hoe meerkatte die dame doen wonderlike werk. Groot dankie

Taxpayer ·

In Namibie n baie algemene diertjie. Het baie van hulle as troeteldiere gehad, maar nooit hulle natuurvreemd gemaak nie. Hulle was hoofsaaklik selfversorgend en het selfs in die natuur voortgeplant.Baie goed om hul in die omgewing van jou huis te he. Selfs n mamba sal die onderspit delf.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.