Help om nuwe wêreldrekord met blikkieskos op te stel

Die Heidelberg Unity Parade is slegs in hul tweede bestaansjaar, maar ná ’n baie suksesvolle eerste parade beoog hulle om hierdie jaar die oë te laat rek met die grootste blikkieskos-piramide.

Die Heidelberg Unity Parade het verlede jaar as ’n nederige gemeenskapsprojek begin, met die doel om verskillende welsynsorganisasies aan die gemeenskap bekend te stel en ’n werksverhouding met mekaar te smee.

“Dit was ’n ongelooflike geleentheid met ongeveer 20 organisasies wat almal vlotte gebou het en deur die dorp beweeg het,” lui ʼn verklaring.

“Ná talle navrae uit die publiek het ons besluit om dit dié jaar weer te doen. Ons doel bly dieselfde: Om verhoudings te bou tussen die verskillende liefdadigheidsprojekte, om die gemeenskap bloot te stel aan die dienste wat aan hulle beskikbaar is en om sosiale kwessies, soos sorg vir bejaardes en gestremdes, MIV, kinderbeskerming, mensehandel en dierebeskerming, in die kollig te plaas.”

Organisasies moet ʼn vlot bou wat verteenwoordigend is van die diens wat hulle lewer en dié vlot sal deur die dorp beweeg. Die vlotte sal by Heidelberg Mall stop, waar hulle sal poog om ʼn Guinness-wêreldrekord op te stel.

“Vanjaar se groot fokus is om blikkieskos in te samel. Ons doel is om die wêreldrekord te verbeter vir die grootste blikkieskos-piramide. Die huidige rekord is 31 001 blikkies, so ons moet ten minste 31 002 blikkies insamel.”

“Die blikkieskos sal daarna herversprei word na liefdadigheidsorganisasies, skoolvoedingskemas en ander areas wat in nood is.”

Daar sal op Vrydag 31 Augustus om 06:00 aan die piramide begin bou word by Heidelberg Mall. Die groep het sewe uur tyd om die rekord te verbeter.

Die organiseerder het gesê dis belangrik om soveel as moontlik van die blikkies voor die tyd in te samel om die beplanning van die piramide te vergemaklik. Enige 400 g tot 440 g blikkies kan geskenk word. Andersins kan kontantdonasies gemaak word om blikkieskos aan te koop.

Vir meer inligting besoek die Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.