Help só plaasaanvalslagoffers

Die ultramarathonatleet Bennie Roux gaan aan AfriForum se Hardloop en Fietsry vir Hoop-projek deelneem wat in samewerking met dié organisasie se trauma-ondersteuningsentrum mense ondersteun wat deur plaasaanvalle geraak word.

Die Hardloop en Fietsry vir Hoop-projek vind op Saterdag 14 Maart by Eagle Falls Lodge and Adventures in die Outeniekwa-streek plaas

Hardloopafstande van 10 km, 21 km en 42 km, en bergfietsafstande van 30 km, 90 km en 120 km sal afgelê word.

Roux gaan die 120 km‑bergfietsroete aflê en op dié roete boere besoek wat op hul plase aangeval is. Daar gaan ook onderhoude met dié boere gevoer word.

Roux is self ’n boorling van die Vrystaatse dorp Reitz. Familie en skoolvriende van Reitz was al slagoffers van plaasaanvalle, en daarom is dit ʼn saak wat na aan sy hart lê. “Dit ruk ’n mens as dit so naby aan jou kom,” sê hy.

AfriForum se trauma-ondersteuningseenheid lewer ’n baie unieke en persoonlike diens aan slagoffers van geweldsmisdaad – veral slagoffers van plaasaanvalle. Die eenheid bestaan sedert 2015 en het intussen uitgebrei weens die toename van misdaad en veral plaasaanvalle.

Dié burgerregteorganisasie het ook ’n fonds geskep om spesifiek finansiële hulp aan slagoffers van plaasaanvalle te bied. Omdat daar jaarliks so baie plaasaanvalle en -moorde voorkom, is dit noodsaaklik dat dié fonds groei om te verseker dat slagoffers die nodige ondersteuning ontvang om die stukke van hul lewens weer op te tel.

Die Hardloop en Fietsry vir Hoop-projek is een van die geldinsamelingsprojekte om dié fonds te help groei.

Om suksesvol te wees, moet die gemeenskap en besighede by só ’n projek betrokke raak en dit ondersteun in die vorm van borge om uitgawes vir advertensies, drukwerk, die huur van markiestent en stoele, en so meer te help dek.

AfriForum help ook in samewerking met Crime Scene Clean Up om seker te maak dat die huis waarin ’n plaasaanval plaasgevind het, skoongemaak word.

Die trauma-ondersteuningseenheid help ook om ná ’n aanval veiligheid op te skerp, byvoorbeeld deur ’n alarmtoestel of diefwering te installeer.

Vir meer inligting of om dié projek te ondersteun, stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.