Herrie oor ryke Bentley wil begrawe

Thane Chiquinho Scarpa by die Bentley. Foto: Facebook via Thane Chiquinho Scarpa

Thane Chiquinho Scarpa by die Bentley. Foto: Facebook via Thane Chiquinho Scarpa

Die storie van een van Brasilië se rykste sakemanne, Thane Chiquinho Scarpa, wat in 2013 aangekondig het dat hy sy Bentley ter waarde van sowat R6,4 miljoen sou begrawe in die tuin by sy herehuis om “soos die Farao’s van Egipte” te wees, doen weer die rondte op sosiale media.

Scarpa het destyds op sy Facebook-blad gesê hy gaan sy Bentley begrawe om in styl “aan die ander kant” te kan arriveer en rondbeweeg. Dit het ʼn storm op sosiale media ontketen wat veroorsaak het dat hy op nuusblaaie wêreldwyd gepryk het.

Hy het ook ʼn foto van ʼn swart Flying Spur, een van Bentley se jongste modelle, op sy Facebook-blad gedeel waar hy met ʼn graaf in die hand staan voor ʼn gat wat halfpad gegrawe is.

“Ek het besluit wanneer ek sterf om dit te maak soos die farao’s gemaak het: Ek gaan vandeesweek een van my gunsteling-besittings, die Bentley, begrawe in my tuin,” het hy geskryf.

Scarpa het teruggekap toe die tonge begin klap het. “Ek het na ʼn dokumentêr gekyk oor die farao’s van Egipte wat baie interessant was. Hulle het hul rykdom saam met hulle begrawe sodat hulle ook gerieflik kan leef ‘aan die ander kant’,” het hy laat hoor.

Omdat dié inskrywing duisende kere gedeel is en soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei het, het hy wye mediadekking gehad die dag toe hy sy motor sou laat begrawe.

Enkele minute voordat die motor in die grond ingesak het, met verskeie nuusmediums wat die storie gevolg het, het Scarpa die proses gehalt. Het wou die wêreld herinner aan die belangrikheid van orgaanskenking.

“Mense het my veroordeel omdat die ek die duur Bentley wou begrawe, maar tog begrawe mense baie meer waardevolle goed,” het hy gesê. “Hulle begrawe harte, longe, lewers, harte, oë en niere terwyl soveel mense wag op gesonde organe vir oorplantings.”

Besoek die Stigting vir Orgaanskenkers se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Hannelie ·

Ek dink iemand moet hierdie ou wakker maak uit sy droom. Materialistiese goed gaan nie saam hemel toe nie, net jou siel sal daar wees. Hoop vir sy part hy kry sy Bentley opgespoor in die hemel of waarheen hy ookal gaan, na hy gesterf het.

Irah ·

Lees dalk eers die hele storie. Stompies optel is nooit ‘n goeie idee nie.

Eilram ·

Hannelie, ek dink jy moet die einde van die artikel lees alvorens jy wil oordeel. Baie treffende stelling en baie slim manier om bietjie aandag daarop te kry.

Johann Marx ·

My Pa het altyd gesê daar is ‘n bankrekening aan die anderkant waarin jy gereeld ‘n deposito kan maak. Ongelukkig kon jy nie twee rekeninge open nie, slegs een in die hemel of een in die hel…en dan is jou dilemma die volgende: Jy moet dan so leef dat jy in die hiernamaals tog wel by jou geld uitkom.

Rox ·

Baie kreatiewe manier om mense bewus te maak van wat hy eintlik wil se…..

Fransie ·

Geen wonder hy is skatryk nie, die man het ‘n goeie kop op sy lyf. Wat ‘n briljante manier om die aandag op orgaan skenking te bring! Knap gedaan.

johann cb ·

Eish, ek is ‘n week laat want ek het nie die berig gesien nie. Die ou het dalk ‘n kop vir besigheid op sy lyf, maar iewers het heelwat skroewe losgeroes! Hierdie is een groot grap met ‘n gelukkige einde – orgaanskenking! Die boodskap het net… “Anders” oorgekom! Goed gedoen! (Stuur jou adres en die plek waar die Bentley is tog vir my, dankie!)

De Villiers Hauptfleisch ·

Hoekom die Bentley begrawe? Hy het mos genoeg geld om die Bentley vlerke aan te sit en reguit hemel toe te vlieg! Grappie, voordat iemand dink ek is ernstig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.