Herstel, genesing en opbou

jannie-pelser-01-featured

Jannie Pelser. Foto: Verskaf.

Deur Jannie Pelser

Die nalatenskap van mnr. Nelson Mandela word letterlik wêreldwyd luisterryk gevier. Indien hy nog geleef het, sou hy pas 100 jaar oud geword het. Dis asof ʼn Madiba-koors van Suid Afrika besit geneem het en dit is veral die 67 minute-inisiatief wat verbeeldingryk wyd en syd aangebied is.

Die wyse waarop Suid Afrikaners oor ʼn wye spektrum deelgeneem het aan aksies wat afgestem is op die behoeftes en nood van mense, is uiters bemoedigend. Daar is (en dit is die afgelope tyd ’n groeiende oortuiging) genoeg gewillige, bekwame en goeie mense wat Suid Afrika deur die drif kan trek. Dis is daarom goed dat ons gedurende die afgelope paar dae herinner is aan die waardes wat vir mnr. Mandela belangrik was. News24 som die waardes wat vir Madiba belangrik was en wat hy nagestreef het soos volg op: “Leierskap, visie, kreatiwiteit, deernis, veerkragtigheid.”

Uiteraard is daar mense wat die fokus op hom as persoon as mensverering afmaak en negatief daarteenoor staan. Dit is seker hul volste reg, maar ek dink dat Suid-Afrikaners herinner moet word aan die tyd toe hy vrygelaat is en die atmosfeer van hoop en verwagting wat in die harte van mense geleef het. Dit was ʼn bloeitydperk, veral in die lig daarvan dat soveel mense ʼn bloedbad vir ons land voorspel het. Allerhande spoke is opgejaag en baie mense het hulle op sleeptou laat neem. Lesers sal dalk onthou hoe baie van ons allerlei produkte opgegaar het omdat die verwagting was dat Suid-Afrika onregeerbaar sou wees. Teen alle verwagting in, het dit nie gebeur nie. Inteendeel, ons land het in daardie stadium die toonbeeld van versoening en hoop geword. Die buiteland het ons omhels en as model voorgehou.

Die Wêreldrugbybeker bly vars in die geheue en die oorverdowende, maar eietydse vuvuzelas, die spoggerige hooftooisels, die straatjolyt, ensovoorts, wat daarmee saamgegaan het. Ongelukkig het die droom en ideaal wat mnr. Mandela gehad het van ʼn reënboognasie wat in harmonie, sonder vrees en intimidasie naas mekaar ʼn ruimte vind om te bestaan, vervaag en selfs vergete geraak.

Die afgelope aantal jaar is Suid Afrika op die ergste wyse denkbaar verinneweer en beroof. Die wyse waarop mense die staatskas skaamteloos en tot nadeel van die minderbevoorregtes (en sonder enige gewetenswroeging) geplunder het, skree ten hemele. Intussen het die jeug ongeduldig geraak omdat daar vir hulle bitter min geleenthede gekom het en beloftes van ʼn beter toekoms versand het. Die opstande het gepaard gegaan met die verwoesting van broodnodige strukture en kolonialisme moes pa staan.

Nou is daar ʼn nuweling in die straatblok, mnr. Cyril Ramaphosa. Om na hom te luister, bring hoop, en verwagting word aangewakker. Ons moet begrip hê vir die feit dat hy ʼn buitegewoon moeilike taak het om die ANC te midde van tweespalt en weerstand te verenig en na ʼn oorwinning in 2019 te voer.

Ek het ʼn vermoede mnr. Ramaphosa doen wat hy kan. As die verkiesing eers verby is, mag sy steun gekonsolideer wees en mag hy met groter spoed werk aan dit wat gedoen moet word.

Intussen moet ons by mekaar inhaak en soos tydens die 67 minute-inisiatief berekend werk aan die herstel, genesing en opbou van ons geliefde land Suid-Afrika. Ons moet ons doof hou vir die radikale aan beide kante en berekend besig raak met die saak op hande.

Die Here wil ons so gebruik.

Naskrif:

Mnr. Mandela se gevangenisskap het nie die einde van sy lewe beteken nie, maar op ʼn vreemde manier die voorbereiding gevorm vir die impak en invloed wat hy wêreldwyd sou hê ná sy vrylating. Uiteraard kan niemand jou 27 jaar in aanhouding voorstel nie. Veral nie om versoenend en proaktief daaruit te tree nie. Sy vrylating kon inderdaad aanleiding gegee het tot ʼn gewelddadige toekoms.

Desnieteenstaande het hy die genade gevind om vry te spreek en met sy vervolgers saam te werk. In oordragtelike sin wonder ek hoe ons eie spreekwoordelike gevangenisskap, ongemak, swaarkry en selfs dit wat ons as onregverdig bestempel, in ons lewens ʼn positiewe en opbouende uitkoms het. Dit is inderdaad buitegewoon en goddelik dat ʼn mens die energie wat opgebou word, nie negatief sal verwoord nie, maar sal kies om die pad van vergifnis te loop. Sonder om Jesus en mnr. Mandela met mekaar te vergelyk, sien ons Jesus aan die kruishout en verneem die woorde op sy lippe: “Vader vergeef hulle, hulle weet nie wat hulle doen nie”.

In gesprek met Hanlie Retief sê Jeremy Vearey: “Tata het my geleer, ‘Luister na die ander persoon, met begrip, en eers dank kan jy sê, ons gaan mekaar nie vandag vind nie, maar kom ons gaan van hier af vorentoe’. Met konflik wil ons somtyds binêr vervlak tot teenpole: swart en wit, reg en verkeerd. Madiba leer jou daar is grys. En dis in die grys gebied waar ek die mens in jou vind” (Rapport, 15 Julie).

Daarbenewens het die 27 jaar in die gevangenis vandag aanleiding gegee tot tekens van medemenslikheid wat wêreldwyd gevier word. Die korporatiewe resultaat van medemenslikheid, vriendelikheid en omgee wat geopenbaar is, kan nie bereken word nie. Mnr. Mandela se liefde vir, onder andere, kinders is ver bekend. Sy nalatenskap word in verskeie inisiatiewe ter wille van hulpbehoewendes gevier. Mens sou kon redeneer dis blote humanisme. Dit neem niks weg van die wonder dat swaarkry geboorte geskenk het aan dade van omgee, dat wat hy as liefdeloosheid sou kon beskryf, aanleiding gegee het nie tot haat nie, maar tot medemenslikheid. Soveel so dat hy vandag deur baie van sy eie mense verkwalik word dat hy nie vrye teuels gegee het aan sy woede en vernedering nie.

Of jy saamstem met Mandela-fobie of nie, daaroor kan ons verskil. Hy stel egter ʼn navolgenswaardige voorbeeld van broosheid in stede van aggressie, van versoening in stede van opstand.

Mag ons die genade vind om ons eie ongemak nie op ander uit te haal nie, maar om die onverwagte en buitengewone te doen, naamlik om ander te dien.

“In die Mandelaboek is nie plek vir bitterheid nie , slegs ʼn pleidooi om die geskiedenis – almal se geskiedenis – te verstaan en dan met begrip ruimte te skep vir alle Suid Afrikaners,” skryf Leon Wessels in die artikel getiteld “Rol moue soos Madiba op” in die Beeld van 18 Julie

“No one is born hating another person because of the colour of his skin, or his background, or his religion. People must learn to hate, and if they can learn to hate, they can be taught to love, for love comes more naturally to the human heart than its opposite.” – Long Walk to Freedom.

As I walked out the door toward the gate that would lead to my freedom, I knew if I didn’t leave my bitterness and hatred behind, I’d still be in prison. ( Mandela)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

John ·

Dominee, vertel ons asseblief meer oor Mandela as christen en die christelike waardes wat hy nagelaat het, want daarsonder sal sy bydrae geen gewig dra nie. Om mitiese waardes te skep en so iemand as voorbeeld voor te hou, is volgens die Bybel dwaasheid en godediens of wil ons ‘n godjie opbou waarvoor die nageslag kranse gaan le en gebede gaan afsmeek. So ‘n pad gaan hierdie chaotiese ou landjie verder na die afgrond lei.

Jannie ·

Hi. John
Dankie vir jou kommentaar.
As ons net aanvaar wat vanuit Christelike oortuiging gebore is en na ons toe kom en konsekwent wil wees moet ons voor ons van enige iemand se diens gebruik maak eers vra na sy godsdienstige oortuigings. Dit kan tog nie. Daar is goed in alle mense. God gebruik wie Hy wil en soos Hy wil. Na alles het Hy nie ons instemming nodig nie. Kores is daarvan n voorbeeld.
Uiteraard respekteer ek almal se oortuigings en verwelkom ek ander perspektiewe. Dankie daarvoor.

Casper Labuschagne ·

Na my beskeie mening is dit blote kommunistiese snert. Daar is hoegenaamd geen verskil tussen hierdie oproep om 67 minute vir ‘n goeie doel af te staan en Mao Tse Tung se oproep dat elke goeie kommunis elke dag 100 vlieë moet doodslaan en ook potyster in sy agterplaas moet smelt ten goede van die landsekonomie nie.

Na die maan met inisiatiewe waaraan ek emosioneel en moreel verplig is om deel te neem omdat in die naam van Nelson Mandela of Media24 of Leon Wessels et al, en waar daar bepaal word dat ek emosioneel afgepers word om daaraan deel te neem omdat dit is wat goeie mense sal doen. By implikasie is daar die beskuldiging dat diegene wat nie 67 minute afstaan nie, nie goed gedoen het nie en nie goeie mense kan of sal wees nie.

Die eintlike implikasie is dat daar ook niks goeds bestaan in die heersende Christelike Calvinisitese lewensbeskouing nie, iets wat ‘n heersende linksprogressiewe diskoers is, en dat net sulke inisiatiewe waaraan die naam Mandela gekoppel word iets werd is en enige verskil kan maak.

Ek verwerp 67 minute vir Mandela met minagting – dit is slegs iets waaraan goeie kommuniste deelneem.

Jannie ·

Hallo Casper
Dankie vir jou perspektief.
Ek het nie verstaan dat enige iemand gewding word om aan die 67 minute inisiatief deel te neem nie. Ook die gedagte dat iemand wat nie daaraan deelgeneem het nie nie goeie mense is ens. nie. Inderdaad leef ons as kinders van die Here elke oomblik in dankbaarheid en benut elke geleentheid wat na ons toe kom. Dit is elke mens se prerogatief om deel te neem aan watter inisiatiewe hy of sy verkies aldan nie. Wat my betref is hulpbehoewende mense bedien en het dit n bietjie vreugde vir hulle gebring. Ek kan nie dink dat die Here nie ook daarmee tevrede sou wees nie. Ek verwys jou graag na Gift of the givers se inisiatiewe om mense in nood by te staan. Die boer gisteraand was in trane oor die veevoer wat afgelewer is te midde van n verwoestende droogte. Die betrokke organisasie sover ek weet onderskryf nie noodwendig n Christelike wereld en lewensbeskouiing nie. Dit beteken tog nie dat die ondersteuning wat hulle aanbied sondermeer van die hand gewys moet word nie. Dis maar hoe ek daaroor dink. Groete

Gerhard ·

So daar word van mense verwag om te glo dat die een wat sou se dat wit mense stadig in ‘n pot soos paddas sal kook die goeie ou is wat na ons sal omsien? Regtig?

Jannie ·

Hi. Gerhard
Wie ookal so n opmerking maak ( en daar is politici wat die spanning in Suid Afrika op die spits dryf) is heeltemal buite orde. Ek het nie raakgelees dat mnr Mandela so n opmerking gemaak het nie ( daarmee wil ek nie beweer dat dit onjuis is nie) maar sal bly wees as jy my na die bron kan verwys. Dit is in elk geval n onverkwiklike ding om te se, ongeag. Groete

Gerhard ·

Ek het vetwys na Cyril Rhamaphosa nie Nelson Mamdela nie.

Lynne ·

@Casper Labuschagne – 10/10 vir jou korrekte opsomming! Ek stem 100% met jou saam.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.