HESC: ‘Dis nie ʼn werk nie, dis ʼn plesier’

Hoedspruit Endangered Species Centre (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

ʼn Dag by Hoedspruit se eenheid vir bedreigde spesies (HESC) in Limpopo begin om 06:00. Dan sit al wat ʼn gids en bewaarder is hand by om die dag se vleis vir die meer as 60 jagluiperds, koningsjagluiperds, leeus en ander diere by die slaghuis op die plaas voor te berei.

Dán moet hierdie diere onder meer gevoer word. Elkeen se porsie word noukeurig afgemeet en gemeng met die nodige aanvullings wat die betrokke dier nodig het. Elkeen se behoefte verskil.

Die jagluiperds ontvang elkeen 2 kg beesvleis per dag, verduidelik die gids Jassie de Wet.

Jassie de Wet (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

“Ses keer per week. Een dag per week word oorgeslaan, elke week ʼn ander dag. Dit is sodat dié diere nie daaraan gewoond raak om elke dag te vreet wanneer hulle in die natuur vrygelaat word nie.”

Scar en Mufasa, die twee leeumannetjies op die plaas, moet twee keer per week elkeen ʼn halwe karkas ontvang, saam met hul aanvullings vir ʼn kalsium- en vitamientekort.

Tussen 10 en 20 ton vleis word maandeliks by die slaghuis verwerk, net om al die “katte” op die plaas gevoer te kry, verduidelik De Wet.

Die renosters moet op hul beurt tef en lusern gevoer word. Hiervoor word sowat 2 000 bale tef en lusern maandeliks aangekoop.

Die dagtake by die sentrum sluit egter nie net die voer van die diere in nie. Die jagluiperds moet elke oggend oefening kry om hul jaginstink te stimuleer en die plaashekke en deli moet oopgesluit word vir die dag se besoekers wat meer oor bewaring te wete wil kom.

Die volwasse jagluiperds word gevoer ná hul oefensessie soggens. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

ʼn Bedrywigheid te midde van die bosveldstilte.

“Dit neem tyd en energie, maar dit is waarvoor ons hier is. Dit is bloot passie en liefde vir die diere,” vertel Juandrey Symons in die dierehospitaal op die plaas.

Symons is een van die bewaarders by die HESC wat nou betrokke is by die hantering, voer en behandeling van die diere. Daar is juis op die oomblik ’n klein jagluiperd wat in die hospitaal behandel word nadat hy weke gelede uit ʼn boom geval en sy been beseer het.

“Ja, van die diere is hier omdat hulle self in die natuur seergekry het, maar dan is daar gevalle wat regtig jou hartsnare roer, veral wanneer jy sien wat mense aan diere kan doen. Ons is juis hier as gevolg daarvan.”

Musina, ʼn spelerige luiperdwyfie wat die afgelope twee jaar in ʼn kamp by die sentrum aangehou word, is een van die diere wat as gevolg van mense se wreedheid by die sentrum beland het. Musina, vernoem na die dorp in Limpopo waar sy ná die dood van haar ma as welpie gevind is en by die sentrum ingeneem is, se ma is as probleemdier deur boere geskiet.

“Haar ma se liggaam is in ʼn kremetartboom gevind. Sy is terug na haar kleintjie nadat sy gekwes is en het later daar gevrek. Ons het sowat ʼn week later vir Musina gekry, erg uitgehonger en dors,” sê De Wet.

Esmé die renoster. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

“Ons hoop om haar eendag vry te laat. Die bewaarders sal besluit wanneer dit sal wees. Sy sal egter nie te naby aan die sentrum vrygelaat word nie, aangesien sy net bloot sal terugloop.”

Langs Musina se kamp is die boma waar die tweejarige renosterkoei Esmé saans slaap met ʼn wag wat haar oppas.

“Esmé se ma het met haar geboorte ophou melk produseer en die sentrum het haar tydelik ingeneem. Sy was verskriklik klein en in ʼn slegte toestand toe sy hier aangekom het. Haar vel was geskilfer en sy het gaatjies onder haar voete gehad weens wanvoeding,” sê De Wet.

Deesdae stap ʼn blakend gesonde Esmé saam met haar twee skaapvriende Mielie en Nungu vrylik by die sentrum rond.

Dit sal nog ʼn geruime tyd wees voordat die onervare Esmé vrygelaat kan word en sy sal tot dan die sentrum se verantwoordelikheid bly, onder die valkoog van die vroueteenstroperseenheid, die Black Mambas.

Esmé en Mielie. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

“As ons eendag vir Esmé vrylaat sal Mielie en Nungu ongelukkig nie kan saamgaan nie,” skerts De Wet.

Esmé is nie die eerste renoster wat deur die sentrum se hande gegaan het nie. Die gruwel van renosterstropery het al baie renosters by HESC laat beland. Die renosterkoeie Lion’s Den en Dingle Dell is einde verlede jaar ná vyf jaar en sowat 40 operasies eindelik vrygelaat nadat hulle van hul horings gestroop is.

Sedertdien is vyf ander renosters, wat almal ná stropingsinsidente by HESC beland het, ook vrygelaat. Van die 13 renosters wat einde 2018 by HESC was, is nou net ses oor.

Die teel van jagluiperds bly egter ʼn prioriteit by HESC om die metapopulasie van die spesie te handhaaf. Die aanteel van koningsjagluiperds kom nie gereeld voor nie. dié dier lyk weens ʼn resessiewe geen anders as die gewone jagluiperd.

Volgens De Wet sal sommige van die diere op die plaas in die toekoms vrygelaat word. Ander sal egter vir die res van hul lewe by die sentrum aangehou word aangesien hulle net nie in die natuur sal oorleef nie.

Dit sentrum is bereid om vir enige dier ʼn veilige hawe te wees tot die tyd kom om dié besluit te neem, verduidelik De Wet.

Oor sy werk sê De Wet: “Dis nie ʼn werk nie, dis ʼn plesier.”

Lees meer hier oor hoe die HESC ontstaan het onder die leiding van die bewaringsaktivis Lente Roode.

Lees hier oor hoe die sentrum en die bewaringswerk ondersteun kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.