Het jy al van TED Talks gehoor?

ted-talks

Foto: Ted.com

Deur Chimoné Kapp

Dit is beslis iets om te kyk – dit mag dalk net jou lewe verander!

So ʼn paar jaar terug het ek my eerste TED Talks-video gekyk en ek was dadelik versot daarop! TED se slagspreuk beskryf alles: “Idees wat die moeite werd is om te versprei.”

Oorspronklik van New York, waar die Sapling Foundation die golf begin het, is die doel van TED Talks om merkwaardige en kraakvars idees van besonderse sprekers te koester en te versprei. Die kriteria om ʼn spreker te wees, is om die gehoor se kennis te verryk en almal te vermaak en te verras – en glo my vry, hulle doen dit wel!

Skrywers soos Elizabeth Gilbert, entrepreneurs soos Elon Musk en selfs die presidentsvrou van Amerika, Michelle Obama, dien as sprekers vir hierdie privaat niewinsgewende organisasie. Moenie dink dat dit beperk is tot bekendes nie – nee! – daar is talle tien jaar oue outistiese kinders, mode-modelle, universiteitsdosente en maatskaplike werkers wat uitstekende bydraes lewer.

Onderwerpe wat bespreek word, is van wyd en syd. Wetenskap, kanker, kreatiwiteit, tegnologie, internasionale kwessies en die toekoms word onder meer aangeraak in die sprekers se toesprake. Daar is ʼn jeugblad sowel as ʼn opvoedkundige blad sodat die kinders ook geïnspireer en verryk kan word. Dié onderwerpe handel oor mense, diere, geskiedenis en wetenskap, om net ʼn paar te noem.

Nou, wat is die groot idee van TED Talks? Die antwoord op daardie vraag is baie spesiaal: om ʼn beter toekoms te skep deur vir die denkers van ons wêreld die geleentheid te gee om probleme en ernstige onderwerpe met hulle gehoor te bespreek. Aan die kreatiewe spektrum word daar ook vir visioenêre mense ʼn platform gegee om unieke en innoverende idees na die gehoor te bring.

Word self ʼn spreker, sluit aan by die organisasie of gee hierdie sprekers gerus die geleentheid om jou siening en jou kennis dalk ʼn sentimeter of twee in ʼn ander rigting te laat hardloop deur TED Talks-video’s te kyk, of selfs so ʼn funksie by te woon in Pretoria se Innovation Hub of Johannesburg se JoziHub.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.