Het jy my skildery gesien?

Brits se skildery (Foto: Verskaf)

Brits se skildery (Foto: Verskaf)

ʼn Matrikulant (18) van die Hoërskool Eldoraigne in Centurion het hom tot die media gewend om sy verlore skildery te probeer opspoor. Marco Brits het dié skildery, waarvoor hy voorheen R3 000 aangebied is, maande gelede as ʼn guns aan ʼn skoolvriend geleen vir ʼn Junior-stadsraaduitstalling, maar die skildery het intussen voete gekry.

Brits het aan Maroela Media vertel hy het die skildery aan ʼn vriend geleen vir die Junior-stadsraad se uitstalling in Magnoliadalpark, Brooklyn, op 21 Maart.

Hy is voorheen R3 000 vir die skildery aangebied, maar vertel hy het dit van die hand gewys omdat hy dit aan sy pa beloof het.

“Die vriend het gesê hy kort dringend inskrywings en gevra of hy die skildery mag leen. Hy sou die inskrywingsfooi self betaal en later net die skildery aan my terugbesorg omdat ek dit aan my pa belowe het,” het hy gesê.

Die ander skildery wat hy ook vir die vriend geleen het, is wel aan hom terugbesorg, maar dit was beskadig.

Brits het glo verskeie kere gesukkel om met die vriend kontak te maak ná die uitstalling. Hy vertel toe hy hom eindelik in die hande kry, het dié ʼn “flou verskoning” gehad oor die vermiste skildery.

“Hy het gesê hy het vergeet om my te bel, maar die skildery is eintlik al lankal weg. Ek het gevra of hy dit by die polisie aangemeld het en hy het gesê hy sou dit gedoen het as hy geweet het die skildery is iets werd.”

Dít is vir Brits ʼn bitter pil om te sluk, aangesien hy meer as 40 ure aan die skildery gewerk het. “Buiten die tyd en moeite aan die skildery, is dit die sentimentele waarde daarvan wat vir my belangrik is. Ek het dit vir my pa beloof en toe raak dit net weg.

“Dis ook glad nie ʼn aanvaarbare verskoning om bloot te sê die skildery is weg nie. Hulle wend geen poging aan om te help om dit te vind nie,” het hy bygevoeg.

Die skildery is met olieverf op ʼn doek geverf, is ongeveer 100 x 70 cm groot en het ʼn rooi agtergrond, met ʼn skedel aan die regterkant.

Het jy die skildery gesien? Laat weet Maroela Media deur ʼn e-pos te stuur aan [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

MercMan ·

Pragtige skildery! Sal oog oophou maar ek kan nie belowe dat ek hom sal terug gee nie. hehe

My tweesent bydrae ·

As n musikant weet ek hoeveel moeite dit verg om n kunswerk te skep . Kom ons werk almal saam en kyk of ons die kunswerk raaksien .

Sê maar net ·

Ek hoop regtig nie die vriend is meer jou vriend nie…

Salvador ·

As hulle nou al jou kunswerke steel, moet jy maar versigtig wees in die toekoms. Ek hoop jy kan nog skep, en het die materiaal soos verf en canvas om nog te maak. Hoop die skildery word opgespoor!

Sus ·

Die vriend is natuurlik daar agter. Sit die storie op sy facebook page sodat almal wat hom ken dit kan sien. Dan behoort hy vinnig uit te kom. Bleddie skelm nerf!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.