Hoë bloeddruk? Hier is raad

Hoë bloeddruk is een van die ernstigste risikofaktore vir sterftes as gevolg van harttoestande en beroertes, wat die oorsaak van 13% van die wêreld se sterftes is.

In Suid-Afrika lewe meer as een uit drie volwassenes met hoë bloeddruk, volgens die Hart- en Beroertestigting van Suid-Afrika.

Volgens dié stigting word hoë bloeddruk as ’n stille moordenaar beskou omdat daar bykans geen simptome of tekens is om te wys dat ʼn persoon hoë bloeddruk het nie.

“Dit is hoekom meer as 50% van mense met hoë bloeddruk nie bewus van hul toestand is nie. In sommige gevalle sal mense simptome soos hoofpyn, neusbloei, naarheid, braking, sigversteurings, vaakheid en warm gloede in die gesig ervaar.

Die Hart- en Beroertestigting moedig wel mense aan om nie te wag vir die simptome nie, maar om minstens een keer per jaar hul bloeddruk te laat toets.

“Hoewel jou kanse vir hoë bloeddruk vermeerder met ouderdom, kan enigeen, maak nie saak wat hul ouderdom is, hoe fiks hulle is of watter leefstyl hulle leef nie, hoë bloeddruk ontwikkel. So moenie die toetse uitstel nie!”

Indien jy jou bloeddruk laat toets en dit is bietjie hoër as normaal, kan ʼn verdere toename in bloeddruk wel voorkom word. Indien jou toets toon dat jou bloeddruk reeds hoog is, kan jy dit verbeter deur leefstylveranderinge aan te bring en deur medikasie te neem.

Maak hierdie klein veranderinge aan jou leefstyl om jou bloeddruk te verbeter:

Foto: Pixabay

Eet ʼn gesonder, gebalanseerde dieet

Eet gereeld vrugte, groente, volgraanprodukte, lensies en bone. Laevet‑suiwelprodukte verlaag ook bloeddruk. Beperk koeldranke met baie suiker in, lekkers en rooivleis.

Verminder sout

ʼn Hoë sout-inname word gekoppel aan hoë bloeddruk. Verminder die sout wat jy by kos gooi gedurende die voorbereiding daarvan, en gebruik eerder vars, gedroogte kruie en speserye, knoffel, rissies, gemmer en lemoensap om kos te geur. Vooraf gemengde hoender‑ of vleisspeserye bevat baie sout.

Kos soos pakkies sop, aftrekselblokkies, souse, kaas, brood, soutbeskuitjies, verwerkte vleis, kitskos en baie tipes ontbytpap is baie hoog in sout en moet spaarsamig gebruik word.

oefen-oefening-hardloop-tekkies-trappe-klim

Foto: Bruno Nascimento/Unsplash.com

Wees aktief

Matige tot strawwe aërobiese fisiese aktiwiteit kan effektief sistoliese bloeddruk oor ʼn paar maande verminder.

Moenie rook nie

Na elke sigaret sal bloeddruk tydelik verhoog vir 30 minute. Rook vermeerder die styfheid van bloedvatmure, wat veroorsaak dat die skade wat aangerig word deur hoë bloeddruk veel erger is vir rokers.

Bereik en handhaaf ʼn gesonde gewig

As jy oorgewig is, kan jy jou bloeddruk verlaag deur selfs net 2 tot 5 kg te verloor. ʼn Groter verlaging kan bereik word deur ʼn gesonde gewig te bereik en te handhaaf.

Beperk alkoholinname

Vroue moet nie op ʼn gereelde basis meer as een alkoholiese drankie per dag drink nie en mans moet nie meer as twee per dag drink nie.

Mense met baie hoë bloeddruk moet eerder alkohol totaal vermy of hul alkoholinname eers met hul dokter bespreek.

Argieffoto (Foto: JESHOOTScom/Pixabay)

Hanteer stres

Stres en angs verhoog jou bloeddruk direk, en dit ly ook indirek tot ongesonde gewoontes soos swak dieetkeuses, nie genoeg oefening nie en tabak of alkohol gebruik.

Neem gereeld medikasie

Een van die grootste redes vir onbeheerde hoë bloeddruk is mense wat nie hul bloeddrukmedikasie behoorlik neem nie. Voorgeskrewe medikasie vir hipertensie moet gereeld geneem word soos voorgeskryf deur die dokter of verpleegster.

Ken jou syfers

Selfs al is jy nie op bloeddrukmedikasie nie, kan jou bloeddruk met tyd verhoog of te hoog word. Bloeddruk moet gereeld getoets word, soos aanbeveel deur ʼn dokter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Dawid van Huffel ·

Ek drink 2x pd koeksoda met koppie water. Dis 1 vd beste maniere teen enige fisiese kwak, selfs kanker. Ek is die afgelope 5 dae af van my bloeddruk pil en neem my bloeddruk leiding 2x pd.

kolla ·

Daar’s verskriklik baie sout (sodium) in koeksoda, dit kan jou bloeddruk verhoog. Wees versigtig.

Karolis ·

Vrou gelos, Land Rover verkoop, net die hond en ek.
Bloedruk deesdae baie laag.

Lorinda Gerber ·

Elke 6 maande moet daar dokter toe gegaan word, R600 betaal word net om `n voorskrif vir bloeddruk medikasie te bekom. Dan kos die bloeddruk medikasie ook elke maand byna R400. Het probeer om by staatkliniek reg te kom, maar hulle het bloeddruk gemeet en gesê die persoon makeer niks …

bgj van der westhuizen ·

hoe verwag hulle ons bloeddruk moet laag wees in die land die verdomte regering bly dit op jaag

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.