Hoe het die Voortrekkers ʼn bootvormige hartbeeshuis gebou?

Figuur 1. ʼn Bootvormige hartbeeshuis met ʼn dekkersbalk in die middel  van die dakmuur. (George Henry Ford, sonder titel, skets, 1836.) Uit: Kaapse Argiefbewaarplek, A 1415.

Figuur 1. ʼn Bootvormige hartbeeshuis met ʼn dekkersbalk in die middel
van die dakmuur. (George Henry Ford, sonder titel, skets, 1836.) Uit: Kaapse Argiefbewaarplek, A 1415.

Hannes Raath, ’n kundige op die gebied van volksargitektuur, bekyk in hierdie week se artikel hoe die Voortrekkers ’n bootvormige hartebeeshuis gebou het en fokus veral op die dakbedekking van die soort huise.

Deel II: Dakbedekking

Gras of riet (biesies) is vir dekwerk gebruik. Riet het aan die binnekant van die huis die netjiesste vertoon, maar gras het die huis digter gemaak. Dié wat ʼn netjiese voorkoms van riet verkies het, het ʼn dun spreilaag van riete op die dwarslatte gelê en oor die riete met gras gedek – ʼn enkele keer ook met matjiesgoed (Cyperis textilis). Die spreilaag van riet het verhoed dat die grashalms nie na die binnekant kon hang nie.[1] ʼn Spreilaag is gemaak deurdat handevol riete se snykante onder die bopunte van die vorige spreilaag ingedruk is, sodat die bopunte nie van binne die huis sigbaar was nie.[2] Die dekproses van die spreilaag is verder dieselfde as die eintlike bedekking wat hierna bespreek word.

Die dekwerk is gewoonlik deur die voornemende inwoner self, of met behulp van ander, of ʼn arbeider wat teen vergoeding gehelp het, gedoen.[3] Indien hulp nie beskikbaar was nie, het die vrou met die dekwerk gehelp.[4] Die dak is deur twee persone gedek, een in die huis, en een buite op die dak.[5] Die buitedekker het van ʼn dekkersbalk waarop hy kon sit of staan gebruik gemaak. Dit het uit ʼn horisontale balk wat met rieme of tou aan die nokpaal vasgemaak is, of wat met behulp van twee lang penne aan die onderkant in die grasdak vasgedruk is, bestaan[6] (Fig. 1).

Die bootvormige hartbeeshuis is gewoonlik trapsgewys (dit is gespreid) met die halms na bo gedek[7] (Fig. 2). Die onderente van die bondels gras is buite teen die onderste dwarslat ʼn paar duim in die voortjie ingelaat,[8] waarna die bondels losgesny is.[9] Die gras is laag vir laag, van onder na bo en van regs na links gedek.[10] Bo-op die dekmateriaal en parallel met die dwarslat, is ʼn dun deklatjie oor die dekmateriaal geplaas.[11]

Figuur 2. ʼn Bootvormige hartbeeshuis wat trapsgewys gedek is. (Eksperimentele rekonstruksie in die Voortrekkeraanvangsnedersetting van die Schoemansdal  Museum, Louis Trichardt, Noord-Transvaal, 1989.) Foto: D. de Wit, 1989.

Figuur 2. ʼn Bootvormige hartbeeshuis wat trapsgewys gedek is. (Eksperimentele rekonstruksie in die Voortrekkeraanvangsnedersetting van die Schoemansdal
Museum, Louis Trichardt, Noord-Transvaal, 1989.) Foto: D. de Wit, 1989.

Vir die vaswerk van die dekmateriaal is ʼn hout- of bamboesnaald met ʼn oog gebruik, hoewel staalnaalde later ook voorgekom het.[12] Die bindmateriaal is oor die deklat, deur die dekgoed en om die dwarslat gewerk, sodat die gras tussen die dwars- en deklat vasgetrek is. Die bindmateriaal is gewoonlik twee keer om die deklatte wat buite bo-oor die dekgoed gestrek het, gedraai en dan stewig geknoop.[13] Op elke dwarslat is ʼn laag dekgoed opgebou, en het die lae mekaar oorvleuel sodat die deklatte en bindmateriaal deur die laag dekgoed bo-op bedek is en heeltemal onsigbaar was.[14] Die tuitjie in die dakmuur waar die deur moes kom, was weens die klein skewe hoekies baie moeilik om netjies te dek, wat ook in ʼn mate vir die venster gegeld het.[15]

Oor die nok is die gras handvol na handvol netjies oorgebuig en vasgewerk. Dit was nie nodig om die nok te pleister nie, aangesien dit dig genoeg was.[16] ʼn Ander metode was om gras wat met wortel en al uit die grond getrek is, met die wortels na bo op die nok vas te werk.[17]

Bronne:

[1] B.T. Spoelstra, Ons volkslewe. Kultuur-historiese leesboek (Pretoria, 1924), pp. 68-69.

[2] E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900. DPhil-proefskrif, Universiteit van Stellenbosch, 1988, p. 292.

[3] B.T. Spoelstra, Ons volkslewe …, p. 71; L. Trigardt, Die dagboek van … (red. T.H. le Roux) (Pretoria, 1982), pp. 5, 20, 25, 60 & 73.

[4] B.T. Spoelstra, Ons volkslewe …, p. 71.

[5] J. de Coning, Die grasdakhuise van ou Kapaailand, Tydskrif vir Volkskunde en volkstaal 26(6), April 1970, p. 15; Skriftelike mededeling J.A.N. Joubert, Posbus 1003, Lydenburg, 1992-04-16.

[6] E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900 …, p. 290; J. Walton, Cape cottages (Cape Town, 1995),  pp. 29 & 124.

[7] Mondelinge mededeling: W. Aukema, Nasionale Kultuurhistoriese en Opelugmuseum, Posbus 3300, Pretoria, 1989-10-12; MA. B128/1139, skildery: Tafelplaas, Klaas Smitsrivier, T. Baines, 1848-04-24; Skriftelike mededeling: M.C. Botha, Posbus 65, Pienaarsrivier, 1991-08-16; Kaapse Argiefbewaarplek: A 1415 (73), skildery: sonder titel, H. Ford, 1836; Nasionale Kultuurhistoriese Museum: H G 7014 311, tekening: Transvaalse Bosveldwoning, noord van Brits, volgens Voortrekkertradisie gebou, E. Mayer, 1927; Mondelinge mededeling: D.J. Rossouw, Oorlogsfontein, hoewe 45, Potgietersrus, 1991-09-17; Mondelinge mededeling: J.J. Viljoen, Diepkloof Plaasmuseum, Heidelberg, Transvaal, 1990-08-16.

[8] C.C.E. Aucamp, Vanslewe: fragmente uit die dagboek van … (1868-1953), in H. Aucamp (red.), Op die Stormberge, ʼn vertolking van ʼn streek (Kaapstad, 1971), p. 102; Mondelinge mededeling: C.J. Henrico, Herfsland 17, Potgietersrus, 1991-09-17; T. Pringle, Narrative of a residence in South Africa (Cape Town, 1966),  p. 112; B.T. Spoelstra, Ons volkslewe …, p. 67.

[9] Skriftelike mededeling J.A.N. Joubert, Posbus 1003, Lydenburg, 1992-04-16; E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900 …, p. 287.

[10] E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900 …, p. 290.

[11] Skriftelike mededeling J.A.N. Joubert, Posbus 1003, Lydenburg, 1992-04-16; E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900 …, p. 289; Suid-Afrikaanse Biblioteek, Kaapstad: Gebinde uitknipsel uit The Courier, 1820-11-25; J. Weyns, Bokrijk, tuin van die Vlaamse volkskultuur (Bokrijk, 1961), p. 64.

[12] J. de Coning, Die grasdakhuise van ou Kapaailand, Tydskrif vir Volkskunde en volkstaal 26(6), April 1970, p. 15; Skriftelike mededeling J.A.N. Joubert, Posbus 1003, Lydenburg, 1992-04-16; E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900 …, p. 289; D.J. Rossouw, Oorlogsfontein, hoewe 45, Potgietersrus, 1991-09-17.

[13] E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900 …, pp. 289-290.

[14] Skriftelike mededeling J.A.N. Joubert, Posbus 1003, Lydenburg, 1992-04-16; E.C. Labuschagne, Blanke volksboukuns in Transvaal tot 1900 …, p. 290; J. Weyns, Bokrijk, tuin van die Vlaamse volkskultuur, p. 64.

[15] C.C.E. Aucamp, Vanslewe: fragmente uit die dagboek van … (1868-1953), in H. Aucamp (red.), Op die Stormberge …, p. 102; B.T. Spoelstra, Ons volkslewe …, p. 69.

[16] Mondelinge mededeling: C.J. Henrico, Herfsland 17, Potgietersrus, 1991-09-17; Mondelinge mededeling: D.J. Rossouw, Oorlogsfontein, hoewe 45, Potgietersrus, 1991-09-17; B.T. Spoelstra, Ons volkslewe …, pp. 69 & 71; Mondelinge mededeling: J.J. Viljoen, Diepkloof Plaasmuseum, Heidelberg, Transvaal, 1990-08-16.

[17] Skriftelike mededeling: M.C. Botha, Posbus 65, Pienaarsrivier, 1991-08-16; J. Walton, Hartbeeshuis and hartbeeshut, Tydskrif vir Volkskunde en Volkstaal 43(1), Maart 1987, p. 20.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ilena ·

Dankie vir die interessante artikel uit ons volksgeskiedenis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.