Hoe het die Voortrekkers ʼn bootvormige hartbeeshuis gebou?

Bootvormige-hartbeeshuise-raamwerk-04

Figuur 4. Die vorm en konstruksie van die tuitjie van buite gesien. (Erich Mayer, Transvaalse Bosveldwoning, noord van Brits, volgens Voortrekkertradisie
gebou, tekening, 1927).
Uit: Nasionale Kultuurhistoriese Museum, HG 7014 311.

Hannes Raath, ’n kundige op die gebied van volksargitektuur, bekyk in hierdie week se artikel hoe die Voortrekkers ’n bootvormige hartebeeshuis gebou het en fokus veral op die raamwerk van die soort huise.

Deel I: Die raamwerk

Maria Minnaar, wat die Groot Trek as kind meegemaak het, het vertel: “Gewoonlik het die Voortrekkers, voordat hulle bou, eers so ʼn bietjie rondgekyk, want dikwels ontdek mens anders later ʼn verkiesliker woonplek.”[1]

Die spesifieke plek waar die hartbeeshuis opgerig is, moes effens hoër as die omliggende terrein wees. Aangesien die vloer van die huis op grondvlak was, moes die bouer keer dat water naby of in die huis opdam. Volgens C.C.E. Aucamp is “… ʼn grootte hoevale plek geskoffel”[2] waar die hartbeeshuis opgerig sou word. Die grondplan is dan afgetree en ʼn merk op elk van die vier hoeke gemaak.[3] Die huis is dan sogenaamd afgeteken.[4]

Tussen die merke is ʼn voortjie gegrawe om die raamwerk en dekmateriaal in te laat.[5] Die voortjies vir die symure is reguit gegrawe en dié vir die entgewel reguit[6] of effens konveks.[7] Die volgende stap was om gate vir die pale in die voortjie te grawe.[8] Pale is eers regop ingeplant op die vier hoeke. Aan die lang sye van die huis is nog pale ingeplant tussen die hoekpale. Aan die gewel-ente is die pale verder uitmekaar geplaas. In die middel van een van die lang sye aan die voorkant van die huis, is twee gate vir die deurkosyne so ver uit mekaar gegrawe as wat die deur wyd moes wees[9] (Fig. 1).

Wanneer die pale ingeplant en vasgestamp was, is die pale van albei lang sye aan die bokant twee-twee na mekaar toe oorgebuig en vasgemaak[10] (Fig. 2). Volgens Spoelstra is die pale, indien die bopunte slap genoeg was, langs mekaar geplaas, sodat die punte nie uitgesteek het nie. Indien die punte te styf was om te buig, moes hulle oorkruis aan mekaar vasgemaak word.[11] Die raamwerk is met rou rieme of inheemse plantvesel, soos byvoorbeeld die binnebas van sekere bome, vasgemaak.[12]

Die gewelpale, ongeveer twee in elke gewel, is dan aan die kappe vasgemaak. Indien die gewelvoet effens konveks was, moes die gewelpale na die entkappe oorgebuig word om vasgemaak te word.[13] Nadat die horisontale dwarslatte, waarop die dekmateriaal vasgemaak is, aangebring is (Fig. 3), is ʼn dik nokpaal in die V wat deur die oorgebuigde kapsparre gevorm is, vasgemaak.

Stukkies hout wat oorgebly het, is gebruik om hanebalke te maak. Volgens Spoelstra was die doel van die hanebalke “… om die boonste stukke van die pale stewiger te kry – want hulle sou anders met die dekkery, as ʼn mens buite langs moes kruip, kan inbuig.”[14]

Aangesien die dakmure skuins vanaf die dakvoet na die nok oploop en omdat die deur in een van die dakmure geplaas is, moes ʼn tuitjie gemaak word deur tussen die twee kapsparvoete waar die deur moes kom, by elkeen ʼn tweede paal regop in te plant om as kosyn te dien. Die pale is bo horisontaal verbind. Twee kort paaltjies het die bokant van die kosynpale met die kappe agter dit verbind en was die raamwerk van die tuitjie[15] (Fig. 3-4).

Bronne:

[1] G.S. Preller, Ou Pretoria (Pretoria, 1938), pp. 11 & 13.

[2] C.C.E. Aucamp, Vanslewe: fragmente uit die dagboek van … (1868-1953), in H. Aucamp (red.), Op die Stormberge, ʼn vertolking van ʼn streek (Kaapstad, 1971), p. 102.

[3] B.T. Spoelstra, Ons volkslewe. Kultuur-historiese leesboek (Pretoria, 1924), p. 67.

[4] L. Trigardt, Die dagboek van … (red. T.H. le Roux) (Pretoria, 1982), pp. 6 & 23.

[5] Mondelinge mededeling: C.J. Henrico, Herfsland 17, Potgietersrus, 1991-09-17; B.T. Spoelstra, Ons volkslewe…, p. 67.

[6] Museum Africa, Johannesburg: B128/1139, skildery: Tafelplaas, Klaas Smitsrivier, T. Baines, 1848-04-24; TAB: A1365 17, skildery: sonder titel, T. Baines, s.a.; Kaapse Argiefbewaarplek, Kaapstad: A1415 (73), skildery: sonder titel, H. Ford, 1836.

[7] KAB: A1415 (73), skets: Hartebeesthut, C. Bell, 1836; NKHM: H G 7014 311, tekening: Transvaalse Bosveldwoning, noord van Brits, volgens Voortrekkertradisie gebou, E. Mayer, 1927; NKHM: HG 7014 397, tekening: Bosveldwoning, Voortrekkerstyl, noord van Brits Transvaal, E. Mayer, 1927.

[8] B.T. Spoelstra, Ons volkslewe…, p. 67; L. Trigardt, Die dagboek van … (red. T.H. le Roux), p. 20.

[9] B.T. Spoelstra, Ons volkslewe…, p. 67.

[10] C.C.E. Aucamp, Vanslewe: fragmente uit die dagboek van … (1868-1953), in H. Aucamp (red.), Op die Stormberge…, p. 102; B.T. Spoelstra, Ons volkslewe…, p. 67; K. Schoeman, Uit die versameling van die S.A. Biblioteek: ‘henerringen’ van G.H. Warden, Kwartaalblad van die Suid-Afrikaanse Biblioteek 45(2), Desember 1990, p. 68.

[11] B.T. Spoelstra, Ons volkslewe…, p. 67.

[12] Mondelinge mededeling: M.C. Botha, Posbus 65, Pienaarsrivier, 1991-08-16; Mondelinge mededeling: C.J. Henrico, Herfsland 17, Potgietersrus, 1991-09-17; Mondelinge mededeling: P.A.H. Pretorius, Munnikstraat 84, Louis Trichardt, 1990-02-06; Mondelinge mededeling: D.J. Rossouw, Oorlogsfontein, hoewe 45, Potgietersrus, 1991-09-17; B.T. Spoelstra, Ons volkslewe … p. 67; G.H. van Rooyen, Kultuurskatte uit die Voortrekkertydperk II (Bloemfontein, 1940), p. 180; J. Walton, Homesteads and villages of South Africa (Pretoria, 1965), p. 97.

[13] KAB: A1415 (73), skets: Hartebeesthut, C. Bell, 1836; NKHM: H G 7014 311, tekening: Transvaalse Bosveldwoning, noord van Brits, volgens Voortrekkertradisie gebou, E. Mayer, 1927; NKHM: HG 7014 397, tekening: Bosveldwoning, Voortrekkerstyl, noord van Brits Transvaal, E. Mayer, 1927.

[14] NKHM: H G 7014 312, tekening: Bosveldwoning, Voortrekkerstyl, noordoos van Brits (Hardbieshuis), E. Mayer, 1927; NKHM: HG 7014 397, tekening: Bosveldwoning, Voortrekkerstyl, noord van Brits Transvaal, E. Mayer, 1927.

[15] B.T. Spoelstra, Ons volkslewe…, p. 68.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.