Hoe het die Voortrekkers ʼn kookhuis gebou?

Kookhuis-01


Figuur 1. Links, agter die huis, is ʼn kapstylhuis met ʼn deur in die sykant.
Regs voor is ʼn keëlvormige kookhut met twee ingange. Naby die huidige
Somerset-Oos. (R. Gordon, Die plaas van Willem Prinsloo by die Bosberg
[detail], skildery, laat 18de eeu.)
Uit: P.E. Raper & M. Boucher (Eds.), Robert Jacob Gordon:
Cape travels, 1777 to 1786 I (Houghton, 1988), p. 109.

Hannes Raath, ’n kundige op die gebied van volksargitektuur, beskryf in laaste artikel in hierdie reeks hoe die Voortrekkers ‘n kookhuis gebou het.

Deel VI: Die kookhuis

Daar is nooit binne ʼn dakhuis vuurgemaak nie, aangesien die gras- of rietbedekking en die raamwerk maklik aan die brand kon raak. By die hartbeeshuis was daar óf ʼn losstaande keëlvormige dakhut (Fig. 1) óf ʼn keëlvormige dakhut op lae mure, dus ʼn rondawel (Fig. 2), met ʼn deursnit van 3,1 tot 3,7 meter (10 tot 12 voet) waarin ʼn vuur op die grond vir kookdoeleindes gemaak is.[1]

Met die oprigting van ʼn keëlvormige kookhuis is ʼn sirkel uitgemeet en ʼn slootjie gegrawe. Sparre is op eweredige afstande in die slootjie met die punte bymekaar in die middel bo, geplaas.[2] Dwarslatte is aangebring. Vir ʼn deuropening is ʼn ruimte tussen twee kapsparre oopgelaat. As gevolg van die keëlvorm van die hut het die opening nouer na bo geloop. Die opening is nie met ʼn deur afgesluit nie.[3] Die dakraamwerk is tot ʼn klein entjie van bo af gedek, sodat daar ’n opening was vir die rook om deur te ontsnap.

By die oprigting van die rondawel as kookhuis is pale met ʼn deursnit van 12,7 tot 15,2 sentimeter (4 tot 5 voet) in ʼn sirkel ingeplant en op ʼn hoogte van ongeveer 1,2 meter (4 voet) gelyk afgesaag. Die twee pale wat die reguitste was, is so ver van mekaar af ingeplant as wat die deur wyd moes wees.[4] Laasgenoemde is op deurhoogte afgesaag en het gevolglik bo die lae mure uitgestaan. Aangesien die mure slegs 1,2 meter (4 voet) hoog was, was die gebruik van bintbalke onmoontlik en moes die pale stewig en diep genoeg ingeplant word sodat die uitwaartse druk van die dak nie die muur kon omstoot nie.[5]

Die kapsparre wat almal ewe lank was, is bo-op die muurpale geplaas.[6] Om te verhoed dat die kapsparre afgly, is ʼn vertikale gat deur elke kapspar in die muurpaal geboor, waarin ʼn houtpen geslaan is.[7] Die kapsparre se bopunte is nie bymekaar in ʼn punt vasgemaak nie, maar aan ʼn hoepel (gemaak van ʼn nie te dik buigbare lat) met ʼn deursnit van 0,3 meter (1 voet), vasgemaak. Die opening het as skoorsteen gedien. Soos by die hartbeeshuis is dwarslatte teen die muurpale en daksparre vasgemaak en op dieselfde wyse gedek.[8]

Die kookhuis het ʼn bo-en onderdeur gehad wat met rieme in plaas van skarniere voorgehang is.[9]

Daar is in die middel van die vloer ʼn vuur gemaak. Potte met pote het direk op die grond gestaan, terwyl ʼn ketel op ʼn selfgemaakte drievoet wat van ʼn naafband gemaak is, geplaas is.[10]

Kookhuis-02

Figuur 2. ʼn Saaldakvormige kapstylhuis, kookhuis en kapstylwaenhuis.
(Eksperimentele rekonstruksie in die Voortrekkeraanvangsnedersetting
van die Schoemansdal Museum, Louis Trichardt,
Noord-Transvaal, 1989.) Foto: H. Raath

Bronne:

[1] C.C.E. Aucamp, Vanslewe: fragmente uit die dagboek van …, in H. Aucamp (red.), Op die Stormberge, ʼn vertolking van ʼn streek (Kaapstad, 1971), p. 103; J. Backhouse, A narrative of a visit to the Mauritius and South Africa (London, 1844), p. 420; B.T. Spoelstra, Ons volkslewe. Kultuur-historiese leesboek (Pretoria, 1924), p. 70.

[2] Mondelinge mededeling (aan mev. H. Naudé): C. van Wyk, Vermaaklikheid, distrik Riversdal, 1982-05-25.

[3] P.E. Raper & M. Boucher (Eds.), Robert Jacob Gordon: Cape travels, 1777 to 1786 I (Houghton, 1988), p. 109; Mondelinge mededeling (aan mev. H. Naudé): C. van Wyk, Vermaaklikheid, distrik Riversdal, 1982-05-25.

[4] B.T. Spoelstra, Ons volkslewe …, p. 70; Mondelinge mededeling: J.J. Viljoen, Diepkloof Plaasmuseum, Heidelberg, Transvaal, 1990-08-16.

[5] Persoonlike waarneming tydens die eksperimentele rekonstruksie van ʼn rondawel as kookhuis in die Voortrekkeraanvangsnedersetting van die Schoemansdal Museum, 1989.

[6] B.T. Spoelstra, Ons volkslewe …, p. 70.

[7] Mondelinge mededeling: J.J. Viljoen, Diepkloof Plaasmuseum, Heidelberg, Transvaal, 1990-08-16.

[8] B.T. Spoelstra, Ons volkslewe …, p. 70.

[9] B.T. Spoelstra, Ons volkslewe …, p. 70.

[10] B.T. Spoelstra, Ons volkslewe …, p. 70.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.