Hoe het die Voortrekkers ʼn ontwikkelde dakhuis gebou?

Ontwikkelde-dakhuis-hartbeeshuis

Figuur 1. ʼn Dakkap op lae symure, McGregor, Wes-Kaap. Die
skoen in die muur waarop die kapstylvoet bevestig is, word
onder meer aangedui. (Tekening deur James Walton).
Uit: South African Journal of Cultural History 31(1),
January 1986, p. 20.

ʼn Vorige artikel het reeds gewys dat aansienlike ruimte verlore gaan met die bou van ʼn wigvormige dakhuis. Om die probleem in ʼn mate te bowe te kom, is die vloer laer as die omliggende grondvlak ingegrawe, of die dakvoet op kort vertikale pale of lae mure geplaas.

Waar ʼn dakhuis direk op die grond gebou is, het die grond die uitwaartse druk van die kapstyle wat in die grond ingeplant was, teengewerk. In die geval van ʼn muurhuis, het ʼn bintbalk dié funksie verrig. ʼn Ontwikkelde kapstylhuis was te laag om van ʼn bintbalk gebruik te maak en om te verhoed dat die uitwaartse druk van die dak die bokant van die symure beskadig en die druk oor die breedte van die muur te versprei, is ʼn kort stukkie hout deur die muur naby die muurkop ingebou[1] (Fig. 1). Die kapsparre is dan afgeskuins en op die skoene bevestig.[2]

Sommige bouers van kapstylskure in die Heidelberg-omgewing in die Suid-Kaap het die kapstylvoete op twee rye kort stewige regop pale geplaas, wat bykomend deur skuins gevurkte stutte ondersteun is (Fig. 2).

Ontwikkelde kapstylhuise met saaldakke en vrystaande entgewels met projekterende vuurherde teen die voorgewels, het spesifiek in die omgewing van Vermaaklikheid, Heidelberg en Riversdal in die Suid-Kaap, voorgekom. Enkele voorbeelde bestaan tans nog. By al hierdie huise is die deur na links of regs geplaas om die vuurherd en skoorsteen teen die gewel langs die deur te akkommodeer (Fig. 3).

Die militêre kommandeur aan die Kaap, geograaf, ontdekkingsreisiger en kunstenaar, R.J. Gordon (1743-1795), het van Junie 1779 tot Januarie 1780 ʼn reis van Kaapstad na die Oranjerivier onderneem. Gedurende hierdie reis het Gordon self – of ʼn anonieme kunstenaar wat die reis meegemaak het – in die Swartland (die huidige distrik Malmesbury), ʼn saaldakvormige huis met oordekte gewels op lae symure afgebeeld[3] (Fig. 4). Die V’s van die vurke by die voor- en agtergewels is duidelik sigbaar. Daar is ʼn vollengte deur in die voorgewel en twee luikbedekte vensteropeninge in die skuins dakvlak. Die lae symure, voorgewel en deur is uit vertikale elemente saamgestel wat moeilik herkenbaar is en wat moontlik ʼn plankbeskot kan voorstel.

Eerwaarde C.I. Latrobe het op 30 April 1816 net buite die Langkloof in die omgewing van die Ezelsjagtrivier op die plaas Klippedrift van Dawid Fourie in ʼn ontwikkelde dakhuis, waarskynlik met ʼn vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie, oornag. Hy het die gebeure in sy Journal of a visit to South Africa in 1815 and 1816 beskryf:

The farmer immediately gave us the only room he could spare, which was at one end of what is called a hartebeest-house, being a roof, put upon a wall about two feet in height. But the building, though very small, was new and clean, with two bed-steads in it. Of these Brother and Sister Schmitt occupied one, I the other and Mr. Melville the floor. Brother Stein put up with the only vacant spot remaining, under the bedsteads.[4]

ʼn Voorbeeld van ʼn gaffelsuilondersteunde-nokpaalkonstruksie is deur Walton op die plaas Koelfontein, aan die voet van Gydopas bokant Prince Alfred Hamlet in die Wes-Kaap, gedokumenteer (Fig. 5). Die struktuur het aan albei lang sye ongelaagde ruklipmure gehad.[5]

Bronne:

[1] Walton, Hanebalk, collar-beam and tie-beam, South African Journal of Cultural History 3(1), January, 1986, p. 20.

[2] Walton, Hanebalk, collar-beam and tie-beam, South African Journal of Cultural History 3(1), January, 1986, p. 20.

[3] P.E. Raper & M. Boucher (Eds.), Robert Jacob Gordon: Cape travels, 1777 to 1786 I, p. 38; P.E. Raper & M. Boucher (Eds.), Robert Jacob Gordon: Cape travels, 1777 to 1786 II (Houghton, 1988), p. 240.

[4] C.I. Latrobe, Journal of a visit to South Africa in 1815 and 1816 with some account of the missionary settlements of the united brethren, near the Cape of Good Hope (Cape Town, 1969), p. 256.

[5] J. Walton, Homes of the Trekboers: the vernacular architecture of South Africa, Lantern 11(1), July-September 1961, p. 19.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.