Hoe het die Voortrekkers ʼn wigvormige hartbeeshuis gebou? 

Gaffelsuil-hartbeeshuis-01

Figuur 1. Die gaffelsuilondersteunde-nokpaalkonstruksie
Tekening: H. Raath

Hannes Raath, ’n kundige op die gebied van volksargitektuur, beskryf in hierdie week se artikel hoe die Voortrekkers die wigvormige hartbeeshuise gebou het met ‘n gaffelsuilondersteunde-nokpaalkonstruksie.

Deel IV: Die gaffelsuilondersteunde-nokpaalkonstruksie

Waar die vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie meer kenmerkend van die ooswaartse trek was, het die veeboere wat noord beweeg het, volgens Walton, van die gaffelsuilondersteunde-nokpaalkonstruksie gebruik gemaak[1] (Fig. 1). Aangesien die bekende aantal voorbeelde uiters beperk is, en omdat geen bestaande voorbeelde gedurende veldwerk opgespoor kon word nie, kan die werklike omvang van die verspreiding van dié tipe dakraamkonstruksie nie met sekerheid bepaal word nie.

Die kunstenaar C. Bell (1813-1882) het in ʼn skildery getiteld Trekboere trek saam vir nagmaal in Colesberg (1834) ʼn wigvormige dakhuis met ʼn gaffelsuilondersteunde-nokpaalkonstruksie afgebeeld.[2] Twee stewige regop pale wat bo gevurk of uitgehol is, is in die middel van die sluitgewels waarvan die voorste gaffelsuil soms, soos in die betrokke geval na buite geplaas is, ingeplant.[3] Die nokpaal het in die vurke of holtes van die gaffelsuile gerus. Die boonste punte van die kapsparre het teen die nokpaal waar dit soos met die vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie met die pen-en-gat-metode of met spykers vasgeslaan is, gerus. Walton beweer dat die kapsparre paarsgewys met ʼn hanebalk verbind kon gewees het, maar dat dit nie algemeen voorgekom het nie.[4] Dwarslatte is, soos by alle ander dakhuise, op die kapsparre aangebring waarop die dekmateriaal vasgewerk is.

Gaffelsuil-hartbeeshuis-02

Figuur 2. ʼn Halwe dakhuis, waarvan die nokpaal deur ʼn gaffelsuil ondersteun is.
Volgens Baines is die tipe struktuur meestal deur die Khoikhoi gebruik.
(Thomas Baines, Hartebeesthut, houtsnee, s.a., middel 19de eeu.)
Uit: W.B. Lord & T. Baines, Shifts and expedients of camp life, travel
and exploration (London, 1876. Facsimile reprint by Africana
Book Society, Johannesburg, 1975), p. 222.

Omdat die gaffelsuil in die middel van die gewel geplaas is, moes die deur na links of regs van die gaffelsuil verskuif word, waar gewoonlik nie genoeg ruimte bestaan het nie. Om die probleem te bowe te kom, is die voorste gaffelsuil in dié geval na buite geplaas, wat toegang tot die woning aansienlik vergemaklik het. Daar is dus nie ʼn deur nie en die voorgewel is eenvoudig oopgelaat.

Die Khoikhoi het in die 19de eeu “halwe” wigvormige dakhuise opgerig[5] wat hulle van die wit mense oorgeneem het (Fig. 2). Die struktuur het uit ʼn gaffelsuilondersteunde-nokpaalkonstruksie, waarvan die kapsparre aan die een lang sy weggelaat is, bestaan.

Die kunstenaar H. Egersdörfer (1853-1915) het die samekoms van boere en hulle gesinne vir die nagmaal op ʼn plattelandse dorp geskilder[6] en onder meer ʼn seiltent met ʼn identiese gaffelsuilondersteunde-nokpaalkonstruksie, as Bell uitgebeeld (Fig. 3). In dié geval was kapsparre en dwarslatte oorbodig en is ʼn reghoekige seil eenvoudig oor die nokpaal getrek. Soos die tent met ʼn vurkondersteunde-nokpaalkonstruksie was dit nie ʼn voorafvervaardigde tent nie, maar is as gevolg van die eenvoud daarvan direk op die terrein uit ʼn paar pale en ʼn reghoekige stuk seil saamgestel.

Gaffelsuil-hartbeeshuis-03

Figuur. 3 Die raamwerk van die tent bestaan uit ʼn nokpaal wat deur gaffelsuile
ondersteun word, en waarvan die voorste een buite die tent geplaas is om
toegang te vergemaklik. (H. Egersdörfer, Samekoms vir die nagmaal op
ʼn plattelandse dorp, skildery.)
Uit: Anoniem, Suid-Afrikaanse erfenis: hoe ons voorvaders geleef, gewerk en
gespeel het. Van Van Riebeeck tot die XIXde eeu III: hul gebruike,
vermaaklikhede en sport (Kaapstad, 1962), p. 7.

Bronne:

[1] J. Walton, Homes of the Trekboers: the vernacular architecture of South Africa, Lantern 11(1), July-September 1961, pp. 18-19.

[2] C. Venter, Groot Trek (Kaapstad, 1985), p. 10.

[3] J. Walton, Homes of the Trekboers: the vernacular architecture of South Africa, Lantern 11(1), July-September 1961, p. 19.

[4] Skriftelike mededeling: J. Walton, 4 Mountain Road, Claremont, Cape Towm, 1995-06-02.

[5] W.B. Lord & T. Baines, Shifts and expedients of camp life, travel and exploration (London, 1876. Facsimile reprint by Africana Book Society, Johannesburg, 1975), p. 248.

[6] Anoniem, Suid-Afrikaanse erfenis: hoe ons voorvaders geleef, gewerk en gespeel het. Van Van Riebeeck tot die XIXde eeu III: hul gebruike, vermaaklikhede en sport (Kaapstad, 1962), p. 7.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae