Hoe meer jy spaar vir aftrede, hoe meer keuses het jy

aftrede-ou-mense-paartjie

Baie Suid-Afrikaners het nie genoeg geld vir hulle aftrede nie. Foto: Coombesy/Pixabay.com

Wat mense onder aftrede verstaan is vinnig besig om te verander. As gevolg van toenemende lewensverwagting en ekonomiese faktore word dit al hoe moeiliker vir mense om voldoende te spaar om te kan aftree. ʼn Alternatiewe benadering is om so lank as moontlik te werk. Om tuis te sit en te doen net waarvoor jy lus is klink vir baie mense na ʼn droom, maar talle mense in die situasie sê dat hulle vinnig ontnugter, verveeld en gefrustreerd raak.

Daniel R Wessels sê die volgende in sy artikel “Aftreebeplanning, konsepte en inhoud”:

“Formele aftrede beteken nie dat dit die einde van die pad is nie, inteendeel, dit is die geleentheid om jou werklike passie met hopelik veel minder stres as vantevore ten volle uit te leef. Aftrede-beplanning behoort dus nie net die finansiële beplanning daaromtrent aan te spreek nie, maar ook die voorbereiding daarvan hoe om jou vaardighede na aftrede sinvol aan te wend.”

Beteken dit dat ʼn mens nie moet spaar vir aftrede nie? Goeie advies is om soveel as moontlik te spaar om voldoende fondse te hê om teen “aftree-ouderdom”, wat dit ook al vir jou is, opsies te hê. Hoe meer jy gespaar het hoe meer sal jy jou in ʼn posisie bevind waar jy keuses het. Of dit nou is om minder te werk, te reis of meer tyd op ʼn stokperdjie te bestee.

Mense wat vir ʼn maatskappy werk waar jou diensooreenkoms bepaal dat jy op ʼn sekere ouderdom moet aftree, het natuurlik meer van ʼn uitdaging. Foute wat hulle dikwels maak is:

  1. Om te dink dat die feit dat hulle ʼn lid is van ʼn aftreefonds noodwendig beteken dat hulle genoeg geld sal hê om mee af te tree. Dit is gewoonlik nie so nie.
  2. Om aftreegeld te gebruik om ʼn onderneming te begin. Die risiko om vinnig jou geld te verloor is net te hoog. Sal jy geld belê in ʼn belegging waar jy ʼn 71% kans het om jou geld binne jaar een te verloor? Dit is die koers waarteen ondernemings in ons land binne die eerste jaar misluk.
  3. Om by bedanking hulle geld te ontrek, dikwels ʼn groot bedrag belasting te betaal en dan aftreegeld te gebruik om hulle leefstyl voort te sit.

Indien jy vir ʼn maatskappy werk, vind uit of jy ná aftreeouderdom langer kan aanbly, selfs as dit op ʼn kontrakbasis is.

Daar is ʼn groot aantal spaarprodukte, insluitend aftreeprodukte, met verskillende kenmerke, voordele en belastingimplikasies. ʼn Goeie adviseur wat beplanning kan doen en nie net produkte verkoop nie kan van onskatbare waarde wees om jou te help met oplossings vir jou spesifieke omstandighede en behoeftes.

  • Kry hier meer inligting oor die onderwerp in Wouter Snyman se gratis e-boekie Finansiële onafhanklikheid en die ‘Salomo-beginsel’.
  • Hierdie artikel is saamgestel met die hulp van attooh!. Kontak attooh! gerus met enige navrae oor jou persoonlike finansiële beplanning.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.