Hoe ry die boere in hul Cadillacs en Rolls Royces

pierre-massyn-willem-els

Willem Els saam met sy vrou Alta en een van sy Rolls Royce-motors. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Hy is nie net vir jare der jare een van die beste paneelkloppers in Suid-Afrika nie, hy is ook die trotse eienaar van waarskynlik die grootste privaat versameling eksotiese voertuie in die land en een van die grootstes ter wêreld.

Willem Els weet nie presies hoeveel Rolls Royces en Cadillacs hy besit nie. “So min of meer 64,” reken hy. Els het sy onderneming in Reitzstraat in Kroonstad 40 jare gelede begin en van die grond af opgebou tot een van die suksesvolste ondernemings in sy soort in Suid-Afrika.

Hoe het dit alles vir hierdie innemende Vrystater begin?

“Ek is ʼn Kroonstatter in murg en been en was aan die Hoër Tegniese Skool hier in ons dorp. Alombekendes van ons dorp was die bekroonde digter Antjie Krog, die Springbok Burger Geldenhuys en die bekende en gerespekteerde regsgeleerde, Daan de Vries. Dan was daar Max du Preez wat die Vrye Weekblad gestig het asook die seëvierende rugbykaptein, Wouter Hugo, wie se span Wittruie in dieselfde jaar die Curriebeker gewen het en die All Blacks afgestof het. Ons was die bekende Blouskool se opposisie.”

Luukse en eksotiese voertuie is Willem se passie. Hy het sy eerste Rolls Royce in 1960 gekoop. Hy het ook drie ander unieke rygoed in sy versameling: die eerste voertuig in Suid-Afrika met ʼn ingeboude televisiestel en ook die enigste Rolls Royce-bakkie in Suid-Afrika. Dan spog hy ook met die Cadillac met die laagste mylafstand ter wêreld: hierdie ryperd het ʼn skamele 4 223 myl afgelê.

Daar is ʼn ander interessante aspek omtrent hierdie merkwaardige man en dis sy verbintenis met die ikoniese Afrikaanse aktrise en sangeres, Min Shaw. “Wat gebeur het, Pierre, is dat ek twaalf Rolls Royces uit Min en Jurie Botha se boedel gekoop het!”

ʼn Man se ryding is sy trots, en hierdie weergalose versameling word vertroetel en gepoets soos die kleinode wat hulle is. Elke voertuig in die Els-stal het sy eie persoonlike Els-nommerplaat. Volgens Willem is daar ʼn groot aanvraag om sy “kinders” te gebruik vir uithang-geleenthede soos troues of matriekafskeid.

Jaar ná jaar lewer Willem Els en sy gehaltediens, nie net aan die Kroonstad-gemeenskap nie, maar aan kliënte van oor die hele Suid-Afrika. In sy ruim kantoor pronk talle pryse en sertifikate van uitnemendheid wat hy al oor die afgelope 40 jaar ontvang het. Sy werkplek se vloer is so netjies dat jy daarvan af kan eet.

Behalwe vir sy paneelkloppery en die blink motors, hou Willem hom besig met nuwe ontwikkelings in en buite Kroonstad. Sy ander liefde is sy miniatuurperde. Hulle het ander behoeftes as hul gewielde maats. Sy vrou, Alta, en sy seuns Tiaan en Jacques ondersteun hom in alle opsigte.

ʼn Vriend sluit by ons aan. “So jy skryf mos vir Maroela, nè? Sê vir die mense hierdie Willem Els is nie iemand wat in die kalklig wil staan nie, maar ek kan vir jou sê sy soort is dun gesaai. Hy is ʼn aanwins vir hierdie dorp van ons in die ware sin van die woord. Ons sal sy gelyke nie gou weer sien nie.”

“En wat is jou versameling werd as iemand jou ʼn belaglike hoë aanbod wil maak?”

Hieroor lag hy net. “Nee wat, ek is te lief vir hulle. Buitendien, mens verkoop mos nie jou kinders nie!”

  •  Pierre Massyn is oud-TV-joernalis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

John ·

Gee darem tog net enetjie vir ou Max om die suur uit sy slaai te haal en wat van een vir Bitter Piet… een van daai afslaankappe net vir hom… want hy het skoon vergeet van die mega-motorplaas. Ons Afrikaners kan doen met ‘n paar vriendeliker gesigte in ons midde.

Judge Dredd ·

Kroonstad verloor ewe skielik baie aansien toe hy Max du Preez noem.

KROONSTATTER ·

Ek love die “Pink Cadillac”. Wil nog ‘n draai in hom gaan ry. Ek vat my seuntjie baie na die diere park toe, wat daar by Jordania Park is.

Chris ·

Goeie storie van ‘n “self made man” met Alta aan sy sy. Kroonstad is n aangename dorp. Foto bo-aan het ‘n middel 1950s Bentley agter die egpaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.