Hoe ver lê die suidelikste punt?

Afrika se suidelikste vuurtoring. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Dit is vanjaar presies 530 jaar gelede dat die Suidpunt van Afrika deur ʼn Portugese seevaarder ontdek is. (1.)

Voor die koms van akkurate geometriese metingsinstrumente, is daar dikwels bespiegel oor waar die suidelikste punt van Afrika nou eintlik lê. So was daar vir baie jare vas geglo dat Afrika eintlik begin by die “Historiese Punt” wat in die see uitskiet naby Southermost B&B in L’Agulhas – die suidelikste privaat woonhuis in Afrika en ook die oudste huis in die dorp wat aan Meg Cowper-Lewis behoort, en soms, tong in die kies “die Spookhuis” genoem word – as jy met jou rug na Afrika se suidelikste vuurtoring staan, strek die punt voor jou uit in ʼn suidoostelike rigting.

Hierdie “Historiese Punt” of “kaap” lyk ook soos ʼn regte “naald” wat in die see in strek. Baie mense, veral die ouer garde, glo vandag nog dat dit eintlik die régte suidelikste punt is. Hierdie historiese punt is, terloops, van algehele verwoesting en vertrapping deur roekelose vierwielryers gered, grootliks deur die onbaatsugtige werk van me. Cowper-Lewis van die Suidpunt Omgewings-Alliansie, wat ná ʼn jarelange stryd uiteindelik die owerhede sover gekry het om voertuie deur middel van sperbome uit die sensitiewe fynbosgebied op die punt te hou. Net terloops, daar lê die vreemdste voorwerpe op die seebodem hier by ons. ʼn Skrywer het by geleentheid drie onafgevuurde patrone uitgeduik!

Dit was eers in die onlangse verlede, in die tagtigerjare, dat die korrekte suidelikste punt deur akkuratemetingsinstrumente bepaal is. Die suidelikste punt lê sowat twee  kilometer wes – Kaap se kant toe – van die beroemde vuurtoring. Met ander woorde, skuinsregs van die vuurtoring as jy met jou rug na hom staan en suidwaarts kyk.

Hierdie vuurtoring het historiese betekenis, want dis nie net Afrika se suidelikste land-gebaseerde navigasiehulpmiddel nie – jy kan sy ligstraal meer as 29 seemyl ver sien – maar sy ingebruikneming in 1849 maak hom Suid-Afrika se tweede oudste werkende vuurtoring. En hy was ʼn vuurtoring in die ware sin van die woord.

In die dae voor elektrisiteit het die opsiener sommer die vet van skaapsterte, voorsien deur die plaaslike boere, gebruik om sy lig te laat skyn! Hierdie gebruik om vuur te maak om die eertydse seevaarders te waarsku teen die nabyheid van land, was waar die oorspronklike naam “vuurtoring” sy beslag gekry het.

Die Suidpunt-monument is eers in 1986 opgerig. Die destydse staatpresident, mnr. PW Botha, is gevra om op 23 Augustus daardie jaar ʼn monument kom onthul wat op die suidelikste punt van Afrika sou staan. Omdat oom PW ʼn man was wat dinge op sy manier wou doen, wou hy dubbel en dwars seker maak dat die monument wat hy gaan onthul, darem op die regte plek staan. Die storie loop dat hy toe die kartografiese kundiges opdrag gegee het om eers hul huiswerk behoorlik te gaan doen. Die geleerde manne het toe agtergekom dat die suidpunt nie op die ou historiese punt lê soos almal gedink het nie, maar wel waar die monument – eintlik is dit maar net ʼn klipstapeltjie – vandag  staan. Wat merkwaardig is, is dat Afrika se suidelikste punt feitlik reg op die 20ste lengtebreedtegraad lê. Sy posisie word amptelik aangegee as Suid 34 grade, 49 minute en 58 sekondes, en lengtegraad Oos 20 grade 00 minute en 12 sekondes.

Wat nog meer uitsonderlik is, is dat die 20ste lengtegraad feitlik op presies dieselfde punt strek en waar die ou seevaarders van toentertyd ontdek het ware noord en magnetiese noord was op daardie plek dieselfde, omdat die kompasnaald geen afwyking getoon het nie.

Deesdae kan jy slegs met die druk van ʼn knoppie op jou GPS (oftewel die Globale Posisioneringstelsel) bepaal waar jy is. Dié stelsel wys koördinate met behulp van satelliete aan en het veral in die Golfoorlog tot sy reg gekom, toe Amerikaanse soldate met die stelletjie so groot soos ʼn man se vuis toegerus is.

Seker die beroemdste reddingspoging in die Suid-Afrikaanse seiljagvaartgeskiedenis sou waarskynlik ook nie kon geslaag het as die nie vir satelliet-navigasiehulpmiddels was nie. Twee van ons knapste seiljagvaarders, Bertie Reed en John Martin – beide Springbokke – is in 1990 in ʼn meedoënlose stryd teen die wêreld se beste matrose gewikkel in ʼn rondomtalie-enkelhandige seiljagwedvaart om die wêreld. Om die gunstigste winde te kry, moet jy baie ver suid beur, tot diep in die windverwaaide suidelikste Atlantiese Oseaan. Dis ysbergwêreld.

John Martin is skipper van Allied Bank en Bertie Reed van Grinaker. Martin is voor, hy lei die seiljagvloot. Maar op 18 Februarie tref ʼn ramp hom toe sy boot ʼn stuk losgebreekte ysberg tref. Sy boot is besig om onder hom te sink in die mees gevreesde en verlate see-woesteny op aarde. Martin se stelligste hoop op redding is op sy mede-Suid-Afrikaner, die rateltaaie Bertie Reed, wat die naaste aan hom (maar nog baie seemyle weg) deur die golwe ploeg.

Deur ʼn buitengewone reeks gebeure, slaag Martin uiteindelik daarin om met Bertie Reed radiokontak te maak, net voor sy boot sink.

(Reed se radio was afgeskakel om krag te bespaar. Hy het die radio net gebruik wanneer hy sy gesin in die Kaap een maal per dag gekontak het, dus kon Martin nie gouer met hom kontak maak nie. Martin het ʼn boodskap aan sy landbasis-koördineerder deurgesein dat hy in die moeilikheid is, waarna Reed se huismense in kennis gestel is dat Allied Bank besig is om te sink, en dat Reed dringend vir Martin moet kontak.)

Martin slaag toe net betyds daarin om sy posisie aan Reed deur te gee. Met behulp van sy Satnav, spoor Reed vir Martin op in daardie onherbergsame stuk water en pik hom met ervare seemanskap op uit sy reddingsvlot, waarin Martin, geklee in ʼn rubberoorpak,  en tot by sy knieë in vrieskoue water staan, terwyl sy boot besig is om te sink in ysingwekkend hoë golwe en stormsterk wind van 70 knope. (2)

So word Martin van ʼn gewisse waterdood gered en Bertie se reddingsdaad hom in ons seevaart-anale onsterflike roem besorg. Sonder moderne navigeer-hulpmiddels soos radar, sou dit maar geknetter het en John Martin stellig in ʼn ysige watergraf aan sy einde gekom het. (3)

Daar bestaan ook steeds ʼn ander wanopvatting dat Afrika se suidelikste punt Kaappunt is. Dis egter glad nie die geval nie. Kaap Agulhas is sowat 150 kilometer verder suid as Kaappunt.

ʼn Verdere mistasting is dat die Indiese en Atlantiese Oseaan by Kaappunt bymekaar kom. Die Internasionale Hidrografiese Vereniging het egter reeds dekades gelede bepaal dat hierdie ontmoetingspunt by Kaap Agulhas is.

So lui die bewoording van daardie historiese besluit: “The western boundary of the Indian Ocean (is) as follows: From the coast of the Antarctic continent northwards, along the meridian of 20º E to Cape Agulhas (34º 50’S – 20º 00’E), the southern extremity of the Republic of South Africa, in Africa (the common limit with the South Atlantic Ocean).”

Dis dalk raadsaam om hier daarop te wys dat die suidpunt Kaap Agulhas is – ʼn “kaap” is per definisie ʼn landengte wat ʼn punt of ʼn tong in die see vorm – maar die dorp is L’Agulhas. Die naam “Agulhas” is afgelei van die Portugees Cabo da Agulhas wat beteken “die Kaap van Naalde”. Daar bestaan twee moontlikhede vir hierdie benaming: Die eerste is dat hierdie verraderlike en rotsagtige kuslyn met sy kenmerke sloepe waar daar minstens 122 opgetekende skeepswrakke lê, die Portugese seevaarders van 1488 aan naalde laat dink het.

Die ander, meer waarskynlike, teorie is dat toe die pioniers Diaz en Da Gama meer as 500 jaar gelede  hier verby gespook het, hulle bevind het dat daar geen afwyking tussen magnetiese Noord en geografiese Noord, oftewel ware Noord bespeur is nie. Die kompasnaald wat dus magnetiese noord sou aanwys, het dus terselfdertyd ook ware Noord aangedui.

Deesdae se seevaarderskaarte sal jou vertel die afwyking is byna 25 grade! Dit beteken ware Noord lê byna 25 grade oos van magnetiese Noord.

  • Die GPS gee die Historiese Punt se suidelikste lesing aan as Suid 34 grade, 49 minute en 89/100 van ʼn sekonde. Die suidelikste punt se posisie word deur die GPS aangedui as breedtegraad: Suid 34 grade 49 minute en 98/100 sekondes, en lengtegraad: Oos 19 grade 59 minute en 98/100 van ʼn sekonde. Die rede vir hierdie geringe verskil tussen die GPS-lesing en die werklike suidelikste lesing soos hierbo genoem, is dat die satellietsein vir militêre doeleindes ietwat verdoesel is, en nie 100% akkuraat is nie.
  • Die ou garde wat geglo het dat die Historiese Punt die ware Suidpunt is, was nie ver verkeerd nie. Dit blyk dat die ware suidelikste punt volgens GPS-lesings slegs sowat 26,4 meter verder suid is as die Historiese Suidpunt. (Dis minder as een sekonde in seevaart-terme. Een seemyl is een minuut, d.w.s. ʼn sestigste van ʼn graad, oftewel 1 852 meter. Daarom is een sekonde 30,86 meter, ʼn baie klein verskil tussen die Historiese Suidpunt en die ware een.) En soos die kraai vlieg, is die twee punte 1,21 kilometer uitmekaar.

Voetnotas:

  1. Bartolomeus Dias word erken as die eerste Europeër wat die Suidpunt ontdek het: in 1488, vanjaar 530 jaar gelede. Op 23 April – St. George-dag – gooi hy anker by Aguada de São Jorge, wat ons vandag Struisbaai noem. Wat minder bekend is, is dat hy hier aangedoen het met sy terugvaart, na sy vaartvoos seelui hom gedwing het om naby Kwaaihoek, by die teenswoordige Boesmansrivier, om te draai en die heenreis na Portugal aan te pak. Hy het daar ’n klipkruis wat hy die Padrão de São Gregório genoem het, opgerig
  2. Een knoop is een seemyl, en dit is 1,852 kilometer. ’n Wind van 70 knope waai dus 129 kilometer per uur.
  3. Reed het Martin se posisie uiteindelik op 57.30 grade Suiderbreedte en 128 grade Westerbreedte bepaal. Bertie Reed is vereer met toelating tot die Internasionale Roemsaal vir Alleenvaarders. Hy het vyf keer Springbokkleure verwerf.
  • Pierre Massyn woon al 20 jaar aan die Suidpunt van Afrika en is ʼn seiljagmeester: Aflandig. Hy is ʼn skrywer, navorser en natuurbewaarder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Basson ·

Baie dankie, dit was nou werklik interessant en goed om weer van ou name en wedervarings te lees!

(Net op die punt van GPS akkuraatheid – GPS SA (Selective Availability) is in Clinton dae al afgeskakel. Ek vermoed die GPS koordinaat afwyking is maar meer ‘n funksie dat ‘gewone’ GPS toestelle nie werklik 100% akkuraat is agv DOP, ens ens nie. (Wat ook dag-tot-dag kan verskil) As mens beter as 5-10m kan kry is dit eintlik baie goed.)

nico k ·

Net vir die interessantheid. Is die vuurtoring nie die oudste werkende een nie? (Hoewel die 2de ouste vuurtoring. Groenpunt is die oudste, maar werk nie meer nie.) En dan die argument dat die Stille osean en Atlantiese osean daar by mekaar kom. Dit is maar ‘n teoretiese argument. Die oseane is maar kunsmatige gebiede sonder werklike grense. Vir my is Kaappunt ‘n meer natuurlike grens waar die Koue Benguela en warm Agulhas stroom bymekaar kom. (Hoewel dit oor maar tegnies is, want die water word nie eensklaps warm nie. Dit verander ook maar oor 100de kilometers.)

marco polo ·

Dis bitter ver van die Stille Oseaan, jy bedoel seker die Indiese Oseaan.

Boerseun ·

As die Koi en strandlopers eerste was, hoe kan n Potugees dit dan ontdek het? Jy kan nie iets 2 keer ontdek nie.

Boervrou ·

Het die Koi ‘n idee gehad dat dit die mees suidelikste punt van Afika was?

Tog is jou vraag iets om te oordink Boerseun.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.