Hoe weet jy wanneer God met jou praat?


jannie-pelser-toekomsvenster

Ds. Jannie Pelser tydens opnames vir Kruiskyk en TBN Africa. Foto: ToekomsVenster/Facebook.

Die begin van ʼn jaar is gewoonlik die tyd vir nuwe planne maak, maar kom ons wees nou eerlik: ʼn mens kan ook maar enige tyd in die jaar besluit om ʼn nuwe rigting met jou lewe in te slaan.

Jannie Pelser, organiseerder van die ToekomsVenster-inisiatief, het juis besluit om, soos hy dit noem, “ʼn reksprong in ʼn nuwe seisoen van sy lewe” te neem. “Ek het sedert verlede jaar hierdie gevoel gekry dat die Here my geroep het om uit die voltydse bediening by die Rant-en-Dal Prisma-gemeente in Krugersdorp te tree en my toe te spits op ToekomsVenster en die inisiatief se werksaamhede. As ʼn mens so ʼn drastiese stap in jou lewe neem, na 32 jaar van gemeentelike bediening, laat dit jou behoorlik met ʼn klomp vlinders op die maag.”

Dit het die vraag by hom laat ontstaan: Wanneer weet jy die Here het jou geroep vir ʼn nuwe visie en wanneer is dit dalk net jou eie ego wat met jou praat? “Daar is soveel stemme of idees wat vir ons aandag roep, dat dit dikwels moeilik is om te onderskei of iets werklik God se wil is, maar as jy ʼn pad saam met die Here stap, sal jy dadelik weet as jy Sy stem hoor.

“Die Here praat hardop met sommige mense en soms praat Hy deur geleenthede of omstandighede, maar Hy praat in die besonder deur Sy Woord en daardie stil stem hier binne in jou binneste.”

God sal jou ook nie vra om gehoorsaam te wees aan hierdie stem as dit nie heeltemal ooreenstem met die woord van die Here nie, verduidelik Pelser. “Dit sal altyd ʼn uitdrukking van Sy karakter wees, van sorg, omgee, liefde en genade. Hy sal nooit in jou gemoed praat en sê los jou vrou vir ʼn ander een nie, of knou iemand af, wees arrogant of meerderwaardig nie.”

In sy eie lewe het hy sedert September verlede jaar byna elke dag bevestiging gekry dat God hom geroep het vir hierdie nuwe seisoen in dagboeke wat hy gelees het, soos die dagboeke van Angus Buchan en Elza Meyer. “Hierdie dagboeke is al ʼn paar jaar oud hoor, dus vra ek jou hoe kon hierdie skrywers geweet het ek gaan hierdie vrae op daardie dag en datum hê en hul skrywes so op ons lewe in 2016 sou inspreek.” Jannie sê die ondersteuning wat hy van kollegas en sy gemeente vir die nuwe planne gekry het, was ook vir hom ʼn teken dat dit die regte ding was om nou te doen.

Hy sê dit ook reg om die Here te vra wat Hy volgende vir jou beplan. “Dit is goed om om te streef na die nuwe dinge wat God vir jou in gedagte het, juis omdat Hy ons horisonne wil verbreed. Ons moet tog net nooit versteen nie en dink ek is nou maar hier en dit is OK en so sal ek doodgaan nie. Nee, dis eers klaar wanneer die Here sê dit is klaar, dat Hy klaar is met ons. Selfs al weet ons dit is die einde van die wêreld, sal ons ʼn boom plant as dit is wat God van ons verwag, want dit is deel van jou en my geloofsvertroue in hom.”

Jannie sal in die toekoms meer betrokke raak by die media deur bediening te doen op televisiekanale soos Kruiskyk en TBN Africa en radiostasies, asook deur die ToekomsVenster-dagstukkies wat op Maroela Media gelees en geluister kan word. ToekomsVenster verskaf ook ʼn verskeidenheid stiltetydmateriaal en Jannie wil hierdie afdeling van die inisiatief ook nou verder uitbrei deur die druk van gesins- manne- en vrouedagboeke, gebedeboeke en kinderliteratuur. “Ons is ook besig met ʼn hele klomp nuwe produksies en een hiervan waaroor ek baie opgewonde is, is ʼn honderd getuienisse van mense wie se lewens deur die Here aangeraak is en so dramaties verander het.”

Jannie is ook lief vir sing en tans besig om ʼn Christelike album op te neem waarna hy op uitnodiging ook met sang gemeentes wil gaan bedien.

“Dit is my roeping om mense te vertel Jesus is die Here. Hy nog lank nie klaar met ons nie en Hy het beslis ʼn wonderlike plan vir ons elkeen hier in Suid-Afrika en ek wil vir mense help onderskei oor hoe ons as Christene moet lewe in ʼn tyd soos nou.

“Ek deel graag my eie subjektiewe ervaring van hoe dit in my lewe gewerk het, maar ek wil tog mense aanmoedig en sê waag dit met God. Hy sal jou nie teleurstel nie. Vra Hom, Hy sal met jou praat!”

  • Luister na die podsending boaan die berig om te hoor hoe Jannie Pelser nog raad gee oor hoe om te onderskei wanneer dit God is wat jou vir ʼn nuwe taak roep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.