Hoendermoord en hoendervreters

kommetjiesgatmuishond-watermongoose

‘n Kommetjiesgatmuishond. Foto: Commons.wikimedia.org

As daar nou hier op Riversdal een ding is waaroor baie stories te vertelle is, is dit oor die skade van ongediertes wat hoenders, ganse en eende vang. Daar’s omtrent niemand wat pluimvee aanhou wat nie van skade kan vertel nie. Baie kan jou vertel van muskeljaatkatte, ratels, en valke wat hoenders vang en opvreet. Ander sal vertel dat otters nie sal ophou vang voordat die laaste eend of gans gevang is nie. Self kan ek darem ook van ’n ding of twee vertel. Ook sommer van ’n ongedierte waarvan ek nie eens geweet het nie …

Doerie jare toe ek hier aangekom het, was ’n behoorlike hoenderhok hoog op die lys van al die projekte. Die vreugde was groot toe die eerste 13 kuikentjies tussen moeder hen se vere uitgeloer het. Baie groter was die droefheid toe ek ’n week later in die hok afgekom het op ’n halfgevrete hen en ’n enkele kuikentjie wat oorgebly het.

Toe ek my lot by buurman Salmon bekla het, was daar nie twyfel nie: “Oosie, ek is nou jammer oor jou skade, maar dit klink vir my na ratel se kind en jy moet nou maar weet, hy gaan weer kom. En die sleg is, jy kan hom mos nie keer nie. As hy nie kan in nie, dan grawe of breek hy in. Nee man, hy’s mos ’n verskriklike ding! Jy sal maar ’n plan moet maak.” Ek het ’n plan gemaak. Die ongedierte het die ander helfte van die hen kom opvreet, maar daarna nooit weer gekom nie.

Twintig jaar later, terug op Riversdal, hoor dierbare Grieta in die dorp van my soektog na hoenders en sy skenk toe vir my vier handgrootgemaakte haantjies en twee hennetjies waarmee sy nie langer kon huishou nie. Die goedjies was op die plaas dolgelukkig in hulle nuwe hok en kon sorgloos die weelde van baie weiplek benut.

Ek het vir jong buurman Gielie vertel van my groeiende hoenderrykdom. Hy het so half driftig reageer: “Oee oom, oom moet net baie goeie hokke hê, anders kan oom maar vergeet van hoenders aanhou. En oom moet die draad in die grond in sement, want die ongediertes grawe om in te kom!” Die skrif was teen die muur.

“Nog ’n ding,” het Gielie ernstig voortgeborduur, “ken oom die kommetjiesgat-muishond? My pa het my vertel die ding kan mos sy agterent laat blom. Hy staan dan met die blom na ’n hoender se kant toe en lok die hoender om daarin te pik. As dit gebeur, knyp hy die snawel van die hoender vas en sleep hom weg. Dis wat my pa vertel en oom ken hom, hy sallie liegie.” Ek kon dit nie glo nie, maar ek het geweet: Sy pa, my goeie vriend Salmon, sallie liegie.

Voordat ek by Salmon kon hoor, het ek by Kobus van der Vyfer gaan vasstel wat hy van die ongedierte weet. Hy’s immers ’n man wat baie weet van baie goed en ek vertel hom toe Gielie se storie. “Ja, man,” seg hy, “hulle noem hom mos ook die watermuishond. Ek hoor hy vang hoenders so, maar ek het dit nou nog nie self gesien nie.” Hy gee toe so ’n laggie wat op ongeloof dui.

Terug by Grieta se hoenders. Ons het lekker saam met vriende gekuier en ek vergeet skoon om die hok ná sononder toe te maak. Toe ek later die hok gaan toemaak, het die vier haantjies dood binne-in gelê en die hennetjies was skoonveld. Wat vreemd was, was dat geen bloed sigbaar was nie. Ek het die hok toegemaak met die gedagte om die volgende oggend die spulletjie te bekyk.

Toe dit lig word, was ek terug by die hok. Al vier haantjies se nekke was teen die koppe morsaf met klein gaatjies in die nekvel en geen ander bytmerke nie. Die eerste drie vriende met wie ek die vreemde verskynsel bespreek het, het dit aan uile toegeskryf. Hulle maak goed dood en as dit te swaar is om mee op te vlieg, los hulle die prooi net daar. Dit het sin gemaak, want die hennetjies wat ligter was, was weg en buitendien hoor ons elke aand hoe uile roep. Tog was dit iets wat ’n mens sou wou wegwens as dit waar sou wees.

Die nare gedagte en vrees dat edele uile en bondgenote om die rot- en muisgetalle te beperk, nou dalk hoenders vang, is gelukkig besweer. Ons het op ’n plasie die mooiste Bosvelderhoenders in ’n kampie sien wei en toe sommer dadelik ingedraai opstal toe en gaan kennismaak om te hoor of hulle nie van die hoenders aan ons sou afstaan nie. Selle ou storie. Nee, die ongediertes vang te veel en hulle het niks te verkoop nie. Punt.

Toe ek nou vertel van die uile wat my hoenders se nekke afgebyt en net so laat lê het, was daar hewige reaksie en dit was duidelik dat hulle uilliefhebbers was. Hulle vertel toe vir my dat hulle dieselfde ervaar het en dat dit muskeljaatkat se werk is. Hulle het die sondekat, dikgedrink, by die dooie hoenders in die hok betrap en toe net daar vrekgemaak. Met verbasing het ek verneem dat ’n muskeljaatkat sy prooi aan die nek beetkry en dan die bloed uit die slagaar drink. Haai regtig? Grieselrig, maar tog waar, het dit gou geblyk.

My nuuskierigheid het my navraag laat doen by my boerevriende wat jaar ná jaar sien hoe ongediertes onder hulle vee maai. Hulle het vertel dat hulle dooie lammers waarvan die slagaar binnegedring is in die veld kry. “Dis rooikat se werk, oom, ek het dit met my eie oë gesien en as hy genoeg tyd het, sleep hy die lam onder die renosterbossies in en steek hom mooi weg en kom vreet later,” vertel Gielie driftig. “Ja, dit is so,” bevestig Danie en voeg by, “’n groot, honger rooikat sal ’n ooi ook vang en gaan wegsteek!”

Uit ’n onverwagte oord is meer lig op die interessante saak gewerp. In ’n allerhandegoeterswinkel koop ek mos ’n paar muwwe boeke wat G.C. en S.B. Hobson desjare geskryf het en begin ná 60 jaar om weer Buks, die ratelstorie, te lees. Heel aan die begin word vertel van ’n rooikat wat ’n bloubokkie gevang het, sy bloed gedrink en toe gaan wegsteek het. Aan die einde word vertel van ’n luiperd wat ’n swartwitpenskalf gevang, die bloed gedrink en toe die kalf gaan wegsteek het. ’n Mens kon seker nie langer twyfel aan die bloeddorstigheid van die katfamilie nie.

Weg van die katte en terug by die muishonde – veral die kommetjiesgat. Ek wou gaan hoor wat vriend Salmon oor die ongediertetjies te vertelle had. ’n Mens moenie op hoorsê staatmaak nie. Laat ’n man wat weet, praat. Ek vra hom toe wat hy van die spesifieke soort muishond weet. Soos altyd was hy gewillig en gereed om storie te vertel soos net hy kan.

“Man, ek kan ok maar net vertel wat ek gehoor het – wat ’n jong my vertel het. Jare terug het ’n oujong dorp toe getrek en ek het maar sy hoenders oorgeneem en op hok gesit. Toe ek een oggend daar kom, sien ek dat die haan so bedremmeld en dronkerig rondstaan. Ek roep toe die staljong en sê vir hom as hy die haan wou hê, kon hy hom kry. Baie bly is hy toe met die haan daar weg.

“Net die volgende oggend was daar weer ’n bedwelmde hoender. Terwyl ek staan en wonder oor die vreemde verskynsel, kom die jong daar aan en hy sê toe vir my dis die kommetjiesgatmuishond se werk en dat hy nog al my hoenders gaan kom haal. Ek laat hom toe verduidelik waarom hy so sê. ‘Oubie, die muishond kan mos sy agterent laat blom en dan kom sit hy vroegoggend met sy agterent teen die draad en as ’n hoender dan dink dis iets te ete, pik hy aan die blom en dan knyp sy agterent die honder se bek vas en hy sleep die hoender weg. Oubie, kyk hoe deurmekaar is daai hoender se nekvere en kyk daar sit vere aan die draad vas. Ja, dis hoe hulle maak, Oubie!’”

Ek het Salmon so staan en kyk en toe gaan hy ernstig en verwonderd voort: “Oosie en toe ek kyk, toe’s die hoender se nekvere deurmekaar en toe ek draad toe kyk, sit die vere aan die draad. Alles presies soos die jong gesê het! Ek weet nie of dit waar is nie, maar man, Oosie, daar sit die vere aan die draad en die hoender se nekvere is deurmekaar!” Hy’t sy kop skeef gedraai en ernstig na my staan en kyk, en ek het kopskuddend na hom staan en kyk. Hoe sal ’n mens nou weet? Maar een ding het ek geweet: Salmon sallie vir my liegie. Hy’t vir my presies vertel wat die jong hom vertel het.

Net die volgende Sondag ry ons na buurman Danie toe en op pad lê daar toe ’n dooie ding, wat ons nie ken nie, in die pad. Seker maar raakgery, maar nog vars en die vel ongeskonde. Met die gedagte om die vel te benut, laai ek die ongedierte op om sommer by Danie te hoor watse ding dit is. Hy’t hom net so ’n kyk gegee en gesê dat dit ’n uitgegroeide kommetjiesgatmuishond is – so 70 cm van neus tot stertpunt. Ek draai toe die ongedierte om op sy rug en daar sien ek sowaar al rondom sy uitlaatholte die kommetjie. So ’n vlesige kommetjie met gespierde rand. So groot dat ’n gholfbal lekker daarin sal pas. Wat hy alles met die gespierde kommetjie sou kon doen, sal ek nie kan sê nie. Ek onthou net wat Salmon vertel het en dalk het die staljong toggie geliegie.

Net verlede week is ek aan die goue oues in Ou Meule-tehuis voorgestel en hulle is meegedeel dat ek voortaan vir hulle stories sou vertel en na hulle stories sou luister. Hulle was heel opgewonde oor die vooruitsig. Ek het vir hulle gesê dat ek baie daarna uitsien, maar dat ek eers van hulle wou weet of hulle my iets van kommetjiesgatmuishonde kon vertel. ’n Statige tante het dadelik gesê sy weet van die ongedierte, maar die tantetjie langs haar, seker maar dowerig, wou van die statige tante weet waaroor dit gaan. ’n Verduideliking is gegee waarna die tantetjie hard en duidelik vir my gesê het: “Ja en hy het ’n kommetjie!” Die twee het toe met mekaar begin praat en glo my, dit was omtrent ’n gegiggel en gelag terwyl hulle kort-kort na my kant toe gekyk het. Eendag gaan ek nog hulle storie hoor …

En so is dit. So bepaal die natuur dit. Die een se dood is die ander se brood. En sekerlik is dit ook so dat die een se hoender, gans of eend die ander se vleis is. En as ek lekker wil eet, slag ek MY hoender en as die ongedierte lekker wil eet, vang hy ’n hoender. Die probleem is net, dis nie SY hoender nie, maar MY hoender. Of hy nou sy aanloklike blom of sy ongelooflike vernuf om ’n hok binne te dring, gebruik het, dit bly MY hoender!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

neelsie ·

Lekker om ons kultuurerfenis so te beleef.
Baie dankie , dit is heerlike leesstof, ontspanne en positief.

'Ta Ali ·

Oompie, dat jy met hoenderbloed in jou are op so ‘n hoenderonbarmhartige plek moet bly, is hartverskeurend. My innige simpatie met die verlies van jou verevriende in die verlede , ook die wat in die toekoms nie tot wasdom gaan opgroei nie. Jy sal moet vrede maak met die eiers en die klaar geslagde hoedertjies op jou naaste supermark se rak.

humor ·

Hier in Namibie in n klein dorpie het ons bykans al die ongediertes waarvan geskryf word. Net nog n aantal slangspesies by. Teen hulle almal is daar raad. maar daar is een ding waarteen ons nie raad het nie en dit is werkloosheid en n draadtang.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.