Hoenderstories

hoenders

Foto: Klimkin/Pixabay.com

As ek my weer kom kry, skryf ek oor hoenders. Dis ʼn familieding. My ouma, haar kinders, kleinkinders en agterkleinkinders, my neefs en niggies. Almal het die Maritzding: Ons vrek almal oor hoenders. Terug uit die vreemde, na ses maande hier op Vergenoegd, het die werf vir my net te stil geraak en ek het begin navraag doen waar ek hoenders in die hande kon kry. Nog nooit was hoenders so skaars nie. In my soektog na hoenders het ek ook met mense te doene gekry – mense wat my lus gemaak het om ʼn storie te skryf.

Toe jong vriende hier by ons kom kuier, bekla ek toe my hoendersoeklot by Wilhelm en tot my verbasing vertel hy my toe dat hy twee skougehalte Sussexhane het waarvan hy ontslae wou raak want hy wou oorslaan na Rhode Island Reds toe. Baie dankbaar en opgewonde sê toe vir hom hy moet my net kans gee om hok te bou en dan sou ek hulle by hom oorneem.

ʼn Paar dae later het ek my hane in die hok gehad, maar wat ʼn jammerte dat die spoghane nou so met mekaar opgeskeep moes sit. Dou voor dag se sonore kraaiery was al plesier wat hulle beskore was. Dis toe nou waar my soektog na henne begin het, maar dit was gou duidelik dat wors in ʼn hondehok ʼn mooi ene was. Dit was ʼn soektog wat nogal ʼn paar mooi storietjies opgelewer het. Hier op Riversdal was gʼn hoenderhen te kry nie en toe ons ʼn slag Albertinia toe ry, het ek daar navraag gedoen maar nee, niemand weet waar ek henne kon kry nie. Seg ek toe vir my geduldige Saamryertjie ons kon maar net sowel op Herbertsdale gaan soek en dan kyk ons sommer of ons die bekende oompie wat so musiekmaak en sing kon raakloop. Ons vat toe die pad. Nogal mooi wêreld maar glo my: Nie ʼn inkelte hen op die dorp nie en die musiekoompie was ook iewers vir ʼn “konsirt”.

Ons kry toe grondpadlangs koers terug huis toe en net buite Riversdal ry ons toe by volkshuise verby waar ek hoenders sien rondloop het. Ek draai toe in en vra vir ʼn vriendelike vrou wat onder ʼn boom sit en boontjies kerf, of hulle nie henne het wat hulle aan my kon afstaan nie. “Ja”, seg sy, “as meneer hulle kan vang, kan meneer seker ʼn paar kry.” Nouja, probeer jy nou losloophoenders vang … Kyk, losloophoenders laat tarentale mos na beginners lyk as dit by vlieg kom. Ek wou toe weet of die goed nie as dit donker is gevang kon word nie. “Die hoenders slaap oral hoog in die bome in, maar meneer kan maar kom probeer.” Dit was oorgenoeg vir my om my soektog te laat voortsit.

Toe ons die dorp uitry plaas toe, het ek opgemerk dat daar hoenders op die skutmeester se grondjie skrop en skarrel. Ek het daar ingery en ʼn baie mooi bont hen raakgesien. Ore in die nek sit ek toe af na die man toe. Ek ken hom goed en ek val toe sommer met die deur in die huis: “Ou Herman, ek sien jy het so ʼn mooi bont hen. Wil jy haar nie maar aan my afstaan nie?” Hy wou niks weet nie en vertel toe dat dit sy enigste Bosvelder hen is wat oorgebly nadat oor die twintig van sy henne wat giftige kos ingekry het, gevrek het. Seker uit jammerte uit het hy toe gesê dat hy ʼn Koekoekhen aan my sou afstaan. “Maar”, vertel hy verder, “ daar na Kruisrivier se kant toe is daar manne wat Bosvelders en Koekoeke het. Gaan probeer hulle.” Hy teken toe op die grond met ʼn besemstok haarfyn die pad daarheen. As ek by Gabri van Eeden, die ou met die Koekoeke, verby is, is dit net nog ʼn entjie verder en dan lê Koos Jordaan, die Bosvelderman, links teen die bult uit. Hy’t ook vertel dat een van die manne so ʼn snaakserige stappie het omdat hy ʼn stroke gehad het en ek het afgelei dit was Koos, die ou met die Bosvelders.

Met Herman se GPS in my kop, het ons koers gekry Kruisrivier toe. Net verby Gabri se afdraaipad, het ons by ʼn man verbygery wat kiertsregop op ʼn perdekarretjie oppad was. Toe die entjie na Koos toe te lank geraak het, het ons omgedraai en besluit om by die man op die perdekarretjie kers op te steek. So met die stilhouslag het die man met die boerehoed op, gevra of hy kon help. “Ja,” seg ek, “Herman Conradie sê vir my hier iewers boer ʼn man wat Bosvelderhoenders het. Hy sê dis ʼn ou met so ʼn snaakse stappie omdat hy ʼn stroke gehad het.

Hy was merkbaar onthuts. “Ek is die man wat jy soek, maar Herman se voet (gat)! Ek het gʼn stroke gehad nie! Dis ʼn ander ou, hier anderkant, wat die stroke gehad het! Sê jy vir Herman ek gaan hom foeter (moer) as ek hom weer sien!” Hy vertel toe verder dat hy al sy Bosvelders vir sy seun gegee het en dat hy net tien henne en ʼn haan vir sy vrou uitgehou het maar dat die ongediertes alreeds ses van die henne vrekgemaak het. Al sy Koekoeke het hy aan Gabri verkoop. Baie vriendelik het hy ons vir koffie en kuier genooi en dan kon ons sommer by Kallie hoor van hoenders. “Hy’s maar taai oor sy hoenders, maar jy kan probeer,” het hy bygevoeg. Ons is toe vooruit en ʼn ruk later het ons hom by die huis ingewag. Intussen het sy vrou en die honde uit die veld uit by ons aangesluit.

Dit was ʼn lekker plaaskuier en ons het ons het lang murgbene uitgestamp. Twee manne wat van kleinsaf vrek oor hoenders, het baie te vertelle gehad. Kallie het ook kom koffie drink en na die oumanne se stories geluister. Ek het baie mooi gevra of hy dan nie ʼn paar henne aan my wou afstaan nie. “Nee, jis oom, ek sou graag wou maar my werf en krale moet nog eers wemel van die hoenders. Die muskeljaatkatte en die valke vang so dat my henne verniet broei. As ek eendag baie het, kan ons weer praat,” het my laat besef dat ek steeds wors in ʼn hondehok soek.

Daar was ʼn skielike wending in die soekery. Toe ons hoor Landbouskool Oakdale se pere en kwepers is reg, is ek en my vlytige Inlêertjie vort om van die vrugte te gaan koop. Toe dit by die betaalslag kom, vra ek vir die dame of hulle nie dalk, synde ʼn Landbouskool, ʼn paar henne te koop had nie. “Nee,” seg sy, “maar oom kom of oom gestuur is! Ons trek dorp toe en ons soek ʼn huis vir ons hoenders. (Let wel, ʼn HUIS!) Oom kan hulle kry! Vier henne en twee hane!” Ek sê toe vir haar sy’s ook daar of sy gestuur is en aanvaar toe met vreugde die aanbod.

Toe ek vir haar vra om my net kans te gee om hok te bou het sy my net so half skeef aangekyk – so asof sy wonder. Dalk aan ʼn huis? Wat ek nie wis nie, was dat haar hoenders vry rondgeloop het – ʼn voorbeeld van vreedsame naasbestaan. Die hok is gebou en die hoenders is gaan haal, maar toe, met almal saam in een hok, herhaal ʼn stuk geskiedenis homself en ʼn rassistiese bakleiery, waarskynlik oor kleur, bars toe los.

Die swart hoenders pik die arme wit hen dat die vere waai en sy durf nie naby die kos kom nie en die swart en rooi hane se skielike veglustigheid laat hulle tot bloedens toe veg. Ek het die spulletjie so staan en kyk en toe besef ek: Dis swart teen wit en wit teen swart en die arme swartbont haan is te swart en die witbont haan nou weer te wit! Dalk wou elkeen net sy kleim afsteek of dalk afveg. Foeitog, die arme goed!

Nog groter gevegte het onverwags uitgebars. Na ʼn ruk het ek die twee hokke oopgemaak met die hoop dat daar behoorlike sosiale verkeer sou plaasvind terwyl hulle die wye vryheid van die werf had. Moenie glo nie. Die Koekoekhenjaloesie was verstommend. Met witwarm veglustigheid het sy die ander henne verjaag. Seker maar maar bang dat hulle haar Sussexhaan sou verlei … Met al die beweegruimte tot haar beskikking, het die wit hen al haar opgekropte woede teen die swart henne laat uitbars!

Aan die ander kant het die Bosvelderhaan die Sussexhaan boosaardig verniel tot hy hangvlerk skuiling gaan soek het. Ek het hom terug hok toe geneem waar hy sy tweede asem herwin het. Toe ek weer sien, het die twee hane mekaar deur die ogiesdraad getakel en tot bloedens toe geveg terwyl hulle mekaar aan die kamme en lelle beetgekry het. Dit was die begin van baie hoenderrusies, maar dis ʼn ander dag se storie.

Maar, ek is ʼn man met planne: ʼn Waarheids- en Versoeningskommisie. Hoofkommisaris Sekretarisvoël, met Sprinkaanvoël, Hadeda, Veldpou, Hamerkop en Tarentaal as kommisarisse en Uil as raadgewer. Verder ʼn Amnestiekomitee, bestaande uit Slangnekreier, Kolgans en Tortelduif.

Wie weet. Dalk loop dit uit op ʼn Vergenoegd Hoender Grondwet wat onder andere gaan bepaal dat gʼn hoender ooit President sal wees nie … Sê nou maar die hok word nie klaar gebou nie. Sê nou maar net hy laat van sy henne in die brandweerpoel versuip!

Intussen kraai my hane my elke oggend wakker en die henne lê nie eiers met gele nie, maar met oranjes. Hulle lê so lekker want hulle eet so lekker. En wie weet, dalk kom hoenderkoalisies tot stand wat kan lei tot vreedsame naasbestaan. Iets soos: “As jy my henne los, sal ek joune los!” Of, “Hou op om net op my te pik, daar’s ander henne ook!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

John ·

Johan, ek wil jou nou nie in die gesig vat nie, maar man, los die boerdery en begin skryf. Jy hoef nie stories te loop vang nie. Na so ‘n soetetjie laataand, vang die stories jou en hou jou besig tot hanekraai…

Louise ·

Johan
Ek is self deur so n hoendersoektog. Moes my pragtige swart Austrolopehaan weggee toe hy oud en erg knorrig begin raak het. Die ou hane moet weet wanneer om uit te tree.

neelsie ·

Wat n lekker storie.
Positiewe leesstof met n kinkel….het my laat terugverlang na ons jeugjare op die plaas.
Sien nog die hoenderhok langs die kraal met die hoenders wat rustig wei tussen die melkkoeie.

tw ·

Ai dit was nou regtig lekker om die stuk te lees. Was sommer spyt toe dit klaar is. DU SO VOORT!!

Plattelander ·

Ai Johan , jy het my dag gemaak! Nou so lekker gelag, ek voel sommer beter-het sommer so vanself ‘n paar name ingelees in jou verhaal, wat 10 @ 1 jou oogmerk was-dis baie snaaks en topgehalte humor. Hou ons gerus gereeld op hoogte van hoe dit daar op jou plaaswerf gaan! Groetnis van huis tot huis.

Denise ·

Oulike storie ek het net so gesoek na henne hane het ek te veel na maande se gebel en rondvra het ek nou henne wat maar skaars is hier by ons op die platteland!!!! Ek het net n probleem my henne wil nie le nie en tog voer ek hulle lemeel!!!

Magdalena ·

Welgedaan Johan- jy mag maar skryf! !!! Ek het voor my geestesoog gesien hoe ek as kind vir die hoenders stories lees. Ek kom self van Riversdal af….ek het jou storie baie geniet. Bly geseènd ek kyk uit vir jou volgende storie

Carin ·

Gaan soek die naaste eierplaas en vra om laat weet te word wanneer die henne vervang word. Koop die henne wat uitgegooi word. Meeste van hulle het nog lank se eierlê in hulle maar moet nou net eers verveer voordat hulle weer begin lê

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.