Hoeveel water het jou liggaam elke dag nodig?

(Foto: Pixabay)

Water is ʼn belangrike strukturele komponent van jou vel, kraakbeen, weefsel en organe. Elke deel van die menslike liggaam is van water afhanklik, daarom is dit belangrik om seker te maak dat jy die hoeveelheid water drink wat jou liggaam nodig het om optimaal te funksioneer.

Ons liggame bestaan uit 75% water – die brein uit 85%, ons bloed uit 90%, ons spiere uit 75%, niere uit 82% en bene uit 22%.

Die bewegingspesialis Pieter Albertyn het gesê die funksionaliteit van ons kliere en organe sal uiteindelik verswak as hulle nie met voldoende skoon water gevoed word nie.

Volgens Albertyn verloor die gemiddelde volwasse liggaam sowat 2,5 liter water per dag by wyse van sweet, asemhaling en uitskeiding.

“Simptome van die liggaam se verswakking begin voorkom wanneer die liggaam 5% van sy totale volume water verloor het. ʼn Gesonde volwassene sal in so ʼn geval moegheid en algemene ongemak ervaar, maar vir ʼn baba kan dit tot ernstige dehidrasie lei. Vir ʼn bejaarde persoon sal ʼn 5%‑verlies van water tot ʼn abnormale liggaam-chemie lei.

“Mense kan gewoonlik simptome van veroudering soos plooie, lusteloosheid en disoriëntasie sien. Aanhoudende verlies van water oor ʼn langer tyd sal lei tot vinnige veroudering en ʼn verhoogte risiko vir siektes,” het Albertyn gesê.

As jy nie jou liggaam genoeg hidreer nie, sal die selle water uit jou bloedstroom onttrek, wat beteken dat jou hart harder moet werk. Terselfdertyd sal jou niere nie jou bloed behoorlik kan reinig nie.

“Wanneer dít gebeur, sal van jou niere se werk na die lewer en ander organe aangeskuif word, wat kan veroorsaak dat dié organe onder baie druk geplaas word. Dit kan daartoe lei dat mense gesondheidstoestande soos hardlywigheid, droë en jeukerige vel, aknee, bloedneus, blaasinfeksie, hoes, nies, probleme met jou sinusse en hoofpyne ervaar.”

Albertyn stel voor dat jy na jou gewig moet kyk om te weet hoeveel water jy per dag moet drink. Vir elke kilogram wat jy weeg, moet jy ten minste 30 mℓ water drink, byvoorbeeld:

60 kg = 1,8 liter water

70 kg = 2,1 liter water

80 kg = 2,4 liter water

90 kg = 2,7 liter water

100 kg = 3 liter water

Albertyn het gesê bogenoemde is die minimum hoeveelheid water wat ʼn persoon van daardie gewig moet drink. ʼn Tekort of surplus water kan ook nie oorgedra word na die volgende dag nie, so jy moet elke dag dié vereistes nakom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

ChrisE ·

Ek is nie ‘n wetenskaplike of medies gekwilifiseerde persoon nie. Ek glo daaraan dat die menslike liggaam ‘n balans moet handhaaf. (Logiese denke). Om te sê mens moet soveel water per dag drink en dit sal jou gesonder hou of langer laat leef is vir my ‘n bietjie snaaks. Ek is mal oor diere. Wanneer ek in die oggend opstaan is die eerste dinge wat ek doen is om te strek. As ek opstaan nadat ek gesit het strek ek ook. (Nou nie val op die vloer en strek nie). Wanneer ek dors is drink en water. Ek drink glad nie koeldrank skoon nie (gasdranke Coke saam met ‘n branna miskien). Melk drink ek net in tee of in kitskoffie. Kyk na enige dier. Wat doen hy/sy na hy ‘n uiltjie geknip het. Hulle strek. Wat doen ‘n dier wanneer hy dors is. Hy suip water. Die inname van te veel water dink ek kan jou maagsappe verdun wat die spysvertering van voedsel beinvloed. Handhaaf ‘n balans. Luister na jou liggaam. Dit is ook die verskil tussen ‘n dier en ‘n mens. ‘n Dier hou op suip as hy genoeg gehad het.

Koos ·

Daai laaste sin van jou, as party mense maar die diere se voorbeeld kan volg.

Wonder net ·

Ek wil weet, moet dit slegs water wees of is dit vloeistof wat ingeneem moet word? Ek hou regtig nie van water nie, probeer al lank, maar ai, dit bly maar smaakloos. So, as ek ander vloeistowwe bv koffie, melk, vrugtesap drink, tel dit as deel van die hoeveelheid water wat ek moet inneem, of is dit bo en behalwe?

humor ·

Prof Bonsma het n glas water voor sy klas in sy hand gehou en gese ” helder blink deursigtige water en tog is dit ononbeerlik vir plant, dier en mens. Ek glo jou liggaam vertel jouself wanneer en hoeveel water jy nodig het. Dit hang af van jou lewensomstandighede waarin jy jou bevind. In my boerdery dae was ek dikwels met arbeid of jagtogte in die veld en het vanoggend voor vertrek genoeg water gedrink en dan eers vanaand as ek tuiskom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.