Hofsketse: Dié kunsvorm lank nie dood nie

hofsketskunstenaar

Jaco van Vuuren. Foto: Maroela Media

Hofsketskunstenaars is nie meer so volop soos destyds nie, maar die kunsvorm word beslis nog waardeer. Jaco van Vuuren is só ʼn kunstenaar wat ook in die hof was tydens die Oscar Pistorius-verhoor en die Boeremag-saak.

Dié kunstenaar sê sy sketsloopbaan het begin nadat hy advokaat Jaap Cilliers by ʼn funksie gevra het of die advokaat ʼn hofskets sou wou hê. “Advokaat Cilliers het vir my ʼn datum en die plek van die hof gegee – dit was toe die Wouter Basson-verhoor.” Daarna het al meer mense vir sketse gevra en Jaco het hom as kunstenaar gevestig.

Jaco meen die belangrikheid van ʼn sketskunstenaar is om so vinnig moontlik emosie vas te vang op papier. “Ek dink nie daar is ʼn groot verskil tussen vandag en destydse hofsketskunstenaars nie – ek probeer ʼn bietjie meer emosie vasvang.”

Vir Jaco is dit belangrik om eg te wees en so akkuraat moontlik te skets wat hy sien. “Daar is soveel emosie vasgevang in ʼn hof, veral as dit ʼn ernstige saak is. Mense dink dalk dis net ʼn klomp mense wat vir lank stil sit, maar as jy sit en die mense waarneem, die gevoel van die hof kry, is daar soveel emosie wat ʼn mens kan vasvang.”

ʼn Skets van een persoon kan hom tussen 25 en 35 minute vat, maar dit hang ook van die omstandighede af. Jaco meen vroue is die moeilikste om te skets omdat hulle fyner gelaatstrekke het. Mans gee eintlik nie om hoe hulle op ʼn skets lyk nie. “Jy skets ʼn vrou ʼn klein bietjie anders as ʼn man – met ʼn bietjie meer sensitiwiteit,” skerts Jaco.

Wanneer Jaco vir ʼn publikasie werk, het hulle die reg op sy sketse, maar Jaco hou die oorspronklike sketse wat hy in sy ateljee bêre. “Hoewel ek soms vir publikasies werk, word die meeste van my werk verkoop – dit is opdragkuns van mense wat vra dat ek hulle skets.”

Jaco was vir 14 jaar die kunskurator van die Sandton Civic-galery toe hy ʼn beurs van die Duitse regering ontvang het om daar te gaan studeer. Dis in daai tyd dat hy besef het hy moet op die regte plek uitkom en die ding doen waarvoor hy gemaak is.

“Ek kom uit ʼn kunstige familie waar hofsketskunstenaars soos Springbok-rugbyspelers was – hulle was die beste, die vinnigste en die akkuraatste. Ons het hulle vreeslik bewonder – daai liefde was al van baie vroeg af daar.”

Besoek gerus Jaco se Facebook-blad om van sy sketse te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.