Hou só by die drag-voorskrifte vir funksies

Deftig

Het jy al ooit by ’n werksfunksie opgedaag, maar jy is meer deftig as al die ander mense aangetrek? Of jy gaan na ʼn troue en almal dra formele pakke en aandrokke, en jy is verleë in jou kortbroek of rokkie? Deur die regte drag na geleenthede toe aan te trek, sal jy nie net meer selfversekerd voel nie, maar toon jy ook respek vir die gasheer of gasvrou.

Carla Pattison, ʼn beeldkonsultant van Chata Romano, sê dit is belangrik om behoorlik aan te trek na geleenthede toe omdat moeite gedoen word om die drag te bepaal.

“Dit is net goeie maniere en ’n teken van respek teenoor die gasheer of gasvrou as jy moeite doen om die voorskrifte oor kleredrag te volg. Dink maar hoe jy voel as jy moeite met jou voorkoms doen en jou gaste daag op in kortbroeke en plakkies,” het sy gesê.

Pattison het gesê daar is vyf algemene kategorieë vir kleredrag. Sy stel wel voor dat jy by die gasheer of gasvrou seker maak oor wat hy of sy van die drag verwag omdat almal nie altyd dieselfde idee het van wat die drag beteken nie.

Hier is die vyf kategorieë sodat jy wél sal weet wat elke drag beteken:

  1. Formeel

Formeel

“Dit beteken lang aandrokke vir vrouens en ’n swart pak en strikdas vir mans. Daar is baie blink en pragtige materiale, hoëhakskoene en mooi juwele betrokke. Onderbaadjies is ook dikwels deel van die uitrusting vir mans. Hierdie klere sal nie sommer in die dag gedra word nie en is vir glansryke geleenthede bedoel.”

  1. “Smart” of deftig

“Dié uitrusting is professioneel, netjies en is ontwerp om ’n impak te maak. Dit is ’n baie korporatiewe voorkoms. Vir dames sluit dit dikwels ’n snyerspak of ʼn mooi baadjie en ’n rok of romp in. Skoene met hakke en smaakvolle juwele rond die uitrusting af.  Vir mans is dit ’n pak met ’n wit of blou hemp, ’n das en swart skoene. Alles in hierdie uitrusting spreek van professionaliteit.”

  1. “Smart casual” of deftig-informeel

Deftig-informeel

“Die drag is 70% deftige klere‑items en 30% informele items. Die word ook semi-casual of business casual genoem. Die indruk van die uitrusting is netjies en deftig met elemente van meer gemaklike items. ’n Vrou kan byvoorbeeld ’n langbroek dra met platter skoene indien die bostuk, baadjie en bykomstighede meer klassiek of deftig is. Mans dra gewoonlik ’n baadjie maar nie ’n das nie. Hierdie drag is geskik vir geleenthede soos troues, jaareindfunksies en spesiale verjaarsdae.”

  1. “Casual smart” of informeel-deftig

Informeel-deftig

“Hierdie drag is nie dieselfde as smart casual nie. Die klere is 70% informeel en 30% deftig. Die voorkoms is meer gemaklik en ontspanne maar steeds stylvol en netjies. ’n Baadjie is nie nodig vir mans of dames nie, en dames kan dit met ’n trui of serp om die skouers vervang. T-hemde kan gedra word en skoene met of sonder hakke is aanvaarbaar. Denims en chinos is ook gepas. Meer juwele wat die oog vang, word gedra. Die uitrustings is geskik vir ’n kuier met vriende, naweek‑aktiwiteite en inkopies.”

  1. Gemaklik

Gemaklik (Foto: Jaelynn Castillo)

“Die drag is 100% gemaklik maar dis belangrik om steeds versorg, en nie verslons nie, te lyk. Denimbaadjies, jeans en stylvolle tekkies is sleutel‑items vir die drag vir mans. Somerrokkies met sandale of kort broeke is aanvaarbaar vir dames. Hoewel visplakkies ’n gemaklike skoen is, is dit nie aan te beveel vir ’n goed versorgde voorkoms nie.”

 

Wanneer die uitnodig nie vir jou ʼn aanduiding gee oor watter drag gepas sal wees nie, en jy kan nie vir die organiseerders vra nie, stel Pattison voor dat jy eerder bietjie meer deftig aantrek. Die “smart casual”-opsie is ʼn goeie idee, het sy gesê.

“Ek sal my klere so kies dat ek dit minder formeel kan maak deur dalk ’n baadjie uit te trek of my hakskoene vir platter skoene te verruil. Dit kan nie skade doen om ’n ekstra paar skoene of ’n meer informele baadjie of trui saam te neem nie.”

Pattison het gesê by enige geleentheid is dit egter die belangrikste om gemaklik met jou voorkoms en selfversekerd met jou kleredrag te wees.

“Moet nie ’n nuwe mode‑item probeer as jy nie gemaklik daarin voel nie. Kies ’n kleur wat jou komplementeer en maak seker die styl is reg vir jou figuur. ’n Netjiese langbroek en mooi bloes of hemp kan maklik meer stylvol lyk met bykomstighede, ’n mooi paar skoene en ’n handsak wat aandag trek. Wat belangrik is, is dat jy moet goed voel in wat jy dra en dit met selfvertroue moet dra, ” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gebarste hakke en vuil toonnaels ·

Dankie vir die riglyne. Deesdae gaan sommige mense selfs restaurante of winkels toe sonder skoene aan hulle voete.

Oljetter ·

Ons land het besis ‘n groot wakkerskrik nodig wanneer dit kom by persoonlike aanbieding. Die reeks van afstootlikhede strek wyd – van boepens manne in t-hemde, vbroeke wat soos wasgoedmadjies hang en kaalpote tot anties geverf in Lycra. Ai tog – hoe liederlik tog as hulle so uitpeul en oorloop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.