Hulpgids vir mense in nood

Foto: Maroela Media

Die doel van die handleiding is om kennis oor maatskaplike sake aan te vul, die gemeenskap in staat te stel om swaarkry te verlig en seker te maak hulpbehoewendes ontvang die staatshulp waarop hulle geregtig is. Foto: Maroela Media

Die welsyn-nood in Suid-Afrika is hoog. Met ʼn ekonomie wat sukkel om te groei, is die tekort aan werk een van ons land se grootse uitdagings. Ongelukkig spruit daar uit dié tekort ander maatskaplike probleme, soos alkohol- en dwelmmisbruik, gesinsgeweld en misdaad – ʼn wêreld wat maatskaplike werkers baie goed ken.

Met streng wetgewing en min ondersteuning van die regering, is daar ʼn magdom struikelblokke vir nie-regeringswelsynsorganisasies. ʼn Gebrek aan kennis is ook ʼn probleem – hulpbehoewendes is nie altyd bewus van die hulp wat beskikbaar is nie en daarom het Solidariteit Helpende Hand ʼn hulpgids vir maatskaplike werk saamgestel.

Die doel van die handleiding is om kennis oor maatskaplike sake aan te vul, die gemeenskap in staat te stel om swaarkry te verlig en seker te maak hulpbehoewendes ontvang die staatshulp waarop hulle geregtig is.

Verskeie rolspelers, soos die DA-LP, Gordon Mackay, Flip Buys, voorsitter van Solidariteit Beweging en advokaat Jacques Basson het Dinsdag die bekendstelling in Pretoria bygewoon.

Isabel Faurie, maatskaplike werker by Solidariteit en samesteller van die gids, sê uit haar ervaring het sy waargeneem mense is onkundig oor die hulpbronne wat beskikbaar is in hul gemeenskap.

“Hierdie handleiding vervang geensins professionele intervensie, raad of vakkundige advies nie. Dit is ook nie bedoel om ʼn kliniese omgewing te skep nie, want niks kan empatie en interaksie vervang nie. Hierdie handleiding is bloot ʼn beginpunt vir mense om vas te stel hoe om vorentoe te beweeg. Ons wil hoop gee vir mense en ons doen dit deur hulle te bemagtig,” sê Faurie.

Die handleiding is in hoofstukke verdeel en handel onder meer oor die beskerming van kinders, alkohol en dwelmmisbruik, SASSA toelaes, onderhoud, egskeiding en regshulp. Aan die einde van elke hoofstuk is daar ook relevante kontakbesonderhede. Faurie sê die handleiding is saamgestel sodat Jan-Alleman dit kan verstaan en enige persoon toegang tot die inligting het.

Elke spreker het die belangrikheid van nie-regerings welsynsorganisasies beklemtoon en Mackay het gesê die DA ondersteun dié inisiatief wat op ʼn belangrike tyd gekom het.

“Landsburgers moet hul regte ken, maar ook openbare verteenwoordigers en politici. Ons moet weet wat mense se regte is, seker maak ons verstaan dit en dat dit afgedwing word. ”

Marieta Kemp, Direkteur van die Suid-Afrikaanse Vroue-Federasie, het gepraat oor die uitdagings wat maatskaplike werkers het en het daarop gewys dat een maatskaplike werker verantwoordelik is vir ongeveer 60 huisgesinne. “As ons gaan kyk na wat die Kinderwet bepaal, is daar ʼn tekort aan ongeveer 52 000 maatskaplike werkers.”

Die Maatskaplike Hulp Handleiding is beskikbaar in harde kopie sowel as elektroniese formaat in Afrikaans en Engels. Kry die handleiding hier of besoek Helpende Hand se webtuiste vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jath van der Westhuizen ·

Sover my kennis strek, het daar tot dusver nog nie so ‘n tipe handleiding bestaan nie. Ek was vanoggend by die bekendstellingsgeleentheid. Baie geluk, Solidariteit Helpende Hand, met nog ‘n briljante inisiatief.

Geluk ·

Baie dankie vir die handleiding. Sal julle asseblief volgende n handleiding skryf oor hoe ons onsself kan verdedig teen aanvallers, misdaad en grondbesetters?

Des ·

daar het mense al gevra maar maroela gee min praktiese raak vir beveiliging, beeld doen wel, kyk na hulle website vandag se berig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.