‘Ice Bucket’-uitdagings: Deurbraak vir MNS

Bill Gates se Ice Bucket-uitdaging (Foto: Facebook)

Bill Gates se Ice Bucket-uitdaging (Foto: Facebook)

Die webwerf Health het Woensdag berig wetenskaplikes het ʼn beduidende deurbraak in navorsing oor motorneuronsiekte (MNS) gemaak nadat meer as bykans R1,4 miljard vir navorsing met die Ice Bucket-uitdagings ingesamel is.

Dié ontdekking het te doen met ʼn sogenaamde NEK1-geen wat wetenskaplikes in die toekoms in staat sal stel om te verstaan hoe en waar dié ongeneeslike siekte sy oorsprong het.

Wetenskaplikes het vandeesweek in die joernaal Nature Genetics gesê verdere ondersoek oor dié NEK1-geen sal navorsers dalk op die regte pad sit met die oog op behandeling en moontlike kure. Die NEK1-geen kom egter net in 3% van mense met MNS voor. Wetenskaplikes sê die navorsing dui daarop dat daar meer gene is wat die risiko inhou om die siekte te veroorsaak.

Die MinE-projek, wat daarop gemik is om MNS te verstaan en om uiteindelik ʼn kuur daarvoor te kry, is een van die grootste begunstigdes van die geld wat ingesamel is.

Die projek is in 2013 deur die Nederlandse entrepreneur Bernard Muller gestig nadat hy in 2011 met MNS gediagnoseer is.

“Ons doel is om die DNS van minstens 15 000 MNS-pasiënte te toets en te ontleed om agter die kap van die byl te kom oor die verwoestende siekte,” het die MinE-projek op sy webwerf geskryf.

“Die Ice Bucket-uitdaging was een van die suksesvolste veldtogte op sosiale media nóg. Dit was die enigste manier waardeur ons genoeg geld sou kon insamel om navorsing oor die siekte te doen. Dit het benewens geld vir navorsing oor dié siekte ook bewustheid daaroor gekweek,” het Muller gesê.

Sally Lig, uitvoerende hoof van die MNS-vereniging, sê die navorsing is ʼn stap in die regte rigting. “Ons is dankbaar vir almal se volgehoue pogings om antwoorde te kry.”

Bron: The Guardian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.