In gesprek met die hoof van suidelikste skool in Afrika

Skoolhoof van Zoetendal Akademie in L’Agulhas, Yolanda de Waal, en lid van die beheerraad Jean Kriel. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Yolanda de Waal is die skoolhoof van Zoetendal Akademie in L’Agulhas, die suidelikste dorp in Afrika. Sy is nie net passievol oor haar roeping nie, sy is begeesterd.

“Hier rus ons ons kinders toe, nie net op die akademiese-, sport- en kultuurgebied nie, maar ook met lewensvaardighede wat hulle in hul latere volwasse lewe goed te pas sal kom. Ek is dankbaar om saam met my aan stuur van sake, ’n entoesiastiese beheerliggaam en ’n span baie spesiale onderwysers te hê wat hard werk om ’n skool van uitnemendheid vir die kinders van ons gemeenskap te bied.”

“Zoetendal Akademie se leuse is nie verniet Kennis en Eer nie.  Hier word elke kind gelei om sy of haar volle potensiaal te ontgin.  Wanneer ’n kind hier by ons skool uitstap, besef die kind sy of haar eie waarde.  Ons is trots daarop dat Zoeties ’n Christelike onderbou het en Christelike beginsels handhaaf.”

Die skool kry sy naam van die Zoetendal, ’n Hollandse skip van 448 ton wat op 23 Augustus 1673 by die teenswoordige Struisbaai gesink het en waarvan die anker by die Skeepswrakmuseum op Bredasdorp te sien is. Van sy nederige begin in 1997 met sewe kinders, het Zoetendal Akademie gegroei tot ’n skool wat vandag met 74 leerlinge spog.  Yolanda is vir die afgelope 17 jaar by die skool betrokke en hou die afgelope 10 jaar die leisels as hoof.

“Ons is ’n onafhanklike skool. Vroeër jare is alle skole wat nie aan die staat behoort het nie, privaat skole genoem. ’n Onafhanklike skool is ’n privaat skool wat onafhanklik van die staat deur ’n beheerliggaam bestuur word terwyl ’n privaat skool bestuur kan word deur ’n eienaar of privaat organisasie (niewinsgewend of winsgewend). Die verskil lê grootliks in die bestuur van so ʼn skool. Onafhanklike skole word bestuur volgens hul eie Grondwet wat parallel aan die Skolewet loop.”

Klasse word vanaf voorskools (graad RR en R) tot by gr. 7 aangebied. Die voorskoolse kinders het tot 12:30 klas en die ouer kinders tot 14:30.

“Hoewel ons oorwegend Afrikaans is, word klasse ook in Engels aangebied. Ons het tans selfs twee Zimbabwiërs en twee Xhosa-kinders wat al vlot Afrikaans leer praat het! Ons het sewe onderwysers. Omdat ons relatief klein is, is die onderwyser-tot-kind-verhouding sowat 1:10. Dit strek tot voordeel van die kind, want daar kan nou individuele aandag aan elke leerder gegee word.

“Ons glo dat ’n gesonde liggaam ’n gesonde gees huisves en ons twee jaarlikse driekamp-byeenkomste is ’n hoogtepunt op ons sportkalender. Dit behels swem in die getypoel, ’n fietswedren en dan hardloop op die grasperk al langs die see. Ons eerste byeenkoms is ’n kleuresportbyeenkoms en die tweede driekamp ’n interskole driekamp waaraan skole uit die omgewing kom deelneem.”

Die “dapper” skooltjie aan die suidpunt van Afrika spog met twee professionele sportafrigters: Piet Grobler, rugbyafrigter, het 10 jaar lank professioneel gespeel – onder meer in Frankryk en vir die Bulle, die Leeus en die Valke. Philip van den Heever is ’n professionele tennisafrigter wat die kinders wys hoe om ’n raket te laat praat. Daar word ook meegeding in atletiek, netbal, minikrieket en skaak en deelnemers gee altyd goeie rekenskap van hulself.

Op die kultuurkalender is die jaarlikse opvoedkundige skooltoer (vir leerders van gr. 1 tot 7) en die jaarlikse skoolkonsert, waaraan elke kind deelneem, groot hoogtepunte. Leerders neem ook met groot welslae aan die Overberg Eisteddfod en Santam-kunskompetisie deel. Die jaarlikse Entrepreneursdag vir gr. 4- tot 7-leerders bring elke keer groot opgewondenheid.

“Ons kinders is uitskieters. Jy kan ’n Zoetie altyd uitken. Hy of sy beland gewoonlik op die leerlingraad van ’n senior skool of onder die top10 op akademiese gebied. Sommiges bereik groot hoogtes in die later professionele lewe.

“Natuurlik is daar uitdagings ook. Ons moes onlangs bykans R30 000 betaal om deur Umalusi geakkrediteer te word. Dit was ’n lang proses, baie bloedsweet en trane, ten einde te verseker dat die skool aan nasionale standaarde vir onafhanklike skole voldoen en gehalteonderrig te verseker.”

Dit kos ’n ouer R1 450 per maand om sy kind by Zoeties te laat skoolgaan.

“Dit is dus uiters belangrik dat ons skool se fondse aangesuiwer word deur geldinsamelingsprojekte soos, onder meer, ons proe-aand en hengelkompetisie wat jaarlikse instellings geword het. Ons is ook dankbaar vir plaaslike besighede wat ons geldinsamelingsprojekte getrou ondersteun.”

Maar wat is De Waal, die skoolhoof, se raison d’être? 

“Hier voel ek ek kan iets vir die kinders beteken. Die kinders is so gelukkig hier, hulle wil nie huis toe gaan nie! Ons onderwysers glo dat elke kind hier vir ons gestuur word en dat dit ons roeping is om hierdie kind te leer en te lei sodat hul God se plan vir hul lewens kan vervul. Ons is so bevoorreg om elke week se werksaamhede met ’n Christelike boodskap in die saalperiode op Maandae te kan begin, dit Dinsdag tot Donderdag uit te brei met skriflesing en gebed en Vrydae met CSV-lofprysing. En watter voorreg is dit nie om hier op die wonderskone suidpunt met goeie plattelandse waardes te kan bly nie!”

En die toekoms?  Yolanda het groot planne.

“My visie is dat Zoetendal Akademie toenemend ’n veilige hawe vir ons kinders hier op die suidpunt moet wees en hulle die selfvertroue moet kry om enigiets aan te pak wat hulle wil. As ek so na die groeikurwe van ons getalle kyk, is ons familietjie besig om vinnig uit te brei. Ons is juis nou besig met aanbouings. (Elke kind het selfs sy eie baksteen kom inmessel).

“Die nuwe gebou wat oorspronklik bedoel was vir ’n saal, sal heel moontlik ook van volgende jaar af gebruik moet word vir klaskamers.”

En haar droom?  “Juffrou” Yolanda kry ’n glinstering in haar oog.

“Ons droom van sportgronde wat heel moontlik binnekort gaan realiseer en dan, wie weet, dalk word ons eendag ’n hoërskool.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ronel de Bruyn ·

Wel gedaan!! Ons kort meer sulke skole!! Of sulke skole wat hoërskole word. My kind is tans in ‘n CVO skool wat ook net to Gr 7 gaan. As sy verder in n CVO skool wil aanbly is dit ver van die huis af, so na Gr 7 is dit maar weer hoofstroomskool…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.