Ingrypend groen: Hoe diep lê jou koolstofvoetspoor?

verantwoordelikheid

Ons, as mense, is nie besitters is nie, maar wel bestuurders of rentmeesters van alles wat die Here aan ons toevertrou het. Ons moet rekenskap gee van dít wat aan ons toevertrou is. Argieffoto.

Voorheen is kransaasvoël-broeipare, ons enigste endemiese aasvoëlspesie, oor die hele Suidelike Afrika opgemerk, maar tans is die getalle uitgedun. VulPro, ʼn organisasie wat aasvoël-bewaring bevorder, gee verskeie redes vir kwynende getalle: Die verlies aan habitat as gevolg van menslike ontwikkeling, kragdrade en elektriese skokke, direkte en indirekte vergiftiging, ʼn tekort aan veilige voedsel, versteuring van broeiplekke en gebruik van liggaamsdele as moetie.

Hierdie is nie ’n geïsoleerde bewys van die mens se negatiewe impak op die omgewing nie.

Rede tot kommer

Bill McKibben is ’n wêreldbekende Amerikaanse omgewingskundige, outeur en stigter van 350.org. Hy is ook ’n Christen met uitgesproke opinies oor Christene en rentmeesterskap en verklaar tong in die kies dat hy een van die min is wat met sukses artikels in die tydskrifte Rolling Stone én Christianity Today gepubliseer het. Hy meen dat die wêreld die ergste reeks omgewingskrisisse – waarvan aardverwarming en klimaatsverandering die grootste en kommerwekkendste is – in die geskiedenis ervaar.

Volgens die “Spesiale verslag oor die opvang en berging van koolstofdioksied” deur die Suid-Afrikaner Fred Goede, een van die leidende outeurs en wetenskaplikes van die Verenigde Nasies se interregeringspaneel oor klimaatverandering, bly die verbruik van fossielbrandstowwe toeneem sedert 1850. “Die vlak van koolsuurgas in die atmosfeer het onlangs vir die eerste keer in ʼn miljoen jaar 400 dele per miljoen verbygesteek,” verduidelik hy. “Die gevolge hiervan is nou duidelik op ʼn globale skaal: Verhoogde seevlak, minder lente-sneeu in die Noordelike Halfrond, minder Arktiese ys in die somer en warmer bo-strome in die oseane.” Die 1 250 wetenskaplikes wat deel vorm van die genoemde Interregeringspaneel bevestig Fred se waarnemings in die vyfde verslag wat in 2014 bekendgestel is.

Die verhaal van lewe en die omgewing, met Jo van As as samestellende outeur, stel dit kaalkop: “In geologiese tyd is ons totale bestaan op aarde bloot ’n oogwink, maar ons invloed op die planeet is enorm. Geen ander spesie het ’n habitat al ooit so verander, gefragmenteer en vernietig, die omgewing so besoedel en ander tot uitwissing gejag nie.”

Die meeste aardbewoners is maar gewone mense met gewone lewens wat in gewone gemeenskappe woon. Tog deel een en elk die bekommernis. Ons voel asof ons hande afgekap is – verál omdat die Bybelse boodskap rondom rentmeesterskap duidelik op elkeen van toepassing is en nié net op wêreldleiers nie.

Gelowiges en rentemeesterskap

Die Oostelike Sinode van die NG Kerk skryf in ’n dokument getiteld “Rentmeesterskap in kort” dat ons, as mense, nie besitters is nie, maar wel bestuurders of rentmeesters van alles wat die Here aan ons toevertrou het. Ons moet rekenskap gee van dít wat aan ons toevertrou is.

Adrio König, gesaghebbende sistematiese teoloog en skrywer, verduidelik in die boek Fokus op die 300 geloofsvrae wat mense die meeste vra die betekenis van “rentmeesterskap”: “Ons het teenoor Hom die verantwoordelikheid om die woonplek wat Hy ons gegee het en waar Hy in gemeenskap met ons wil leef, skoon te bewaar.” Volgens Stephan Joubert, bekende skrywer en die brein agter Ekerk, skuil te veel kerklikes op ’n geestelike lughawe en wag op die volgende vlug hemelwaarts. “God het ons geroep om sy koninkryk oral sigbaar te maak,” sluit hy by Adrio aan. “Sy skeppingsopdrag dat ons sy wêreld moet oppas, geld steeds. Ons moet dit met deernis bewerk. Ons moet dit vir onsself en ons nageslagte mooi en bewoonbaar hou.”

“Daar is geen grense aan besoedeling, uitbuiting en oorbevolking nie,” skryf Adrio verder. “Hierdie krisis kan nie anders nie as om met ’n gesamentlike poging van alle lande aangepak te word. Christene behoort ’n leidende rol hierin te speel.”

Wunderland Kalkar

Vir meer as 30 jaar het die swaard van ontwikkeling van SNR-300, ’n kernreaktor, oor die inwoners van Kalkar, ’n Duitse dorp naby die grens tussen Duitsland en Nederland, gehang. In 1985, kort voor die Chernobyl-ramp, is die projek voltooi en die donkergrys van die beton-snelkweekreaktor het verdoemend uit die landskap verrys – ’n seeroog. Die projek het egter nooit behoorlik in werking gekom nie en in 1991 kry die inwoners toe goeie nuus: Planne om die kernreaktor te bedryf, word finaal laat vaar. Aanhoudende protesveldtogte deur die inwoners word as een van die redes verskaf. In 1995 koop die Nederlander Hennie van der Most die kernstasie en weerveens word die inwoners van die streek verras. Hennie tower die grys gedrog om in Wunderland Kalkar, ’n vrolike pretpark wat almal kan geniet! Kliek hier om meer te lees en na foto’s te kyk.

Ons kan tog iets leer by die inwoners van Kalkar: Elke gewone mens kan deur proaktiewe optrede toetree tot die stryd. Niemand is te klein of te jonk nie. Afgesien van die feit dat klimaatsverandering die enkele grootste krisis is wat voor die mensdom se deur gelê kan word, bevestig Bill McKibben dat die poging om dit te keer, nóg groter behoort te wees as die krisis self. McKibben gee raad in ’n preek getiteld “God’s Taunt”: “But we do have room for faith. The pleasure always of bringing this message to church comes from the hopeful feeling one’s allowed to summon, a feeling one can’t rightfully raise in a science classroom or a policy thinktank. Here we’re allowed to believe that if we do all that we can then God may still be willing to meet us halfway. Let us pray that that is the case, and then let us get to work.”

Behalwe om pro-aktief tot die stryd toe te tree kan gewone mense ook in hul huise en daaglikse roetine die omgewingskrisisse een tree op ʼn slag help beveg. Herwinning, herverbruik, hervervaardiging en vermindering is nie net gonswoorde nie. Dit is ook binne elkeen se bereik om dit toe te pas. En soos McKibben verder sê: “’n Vreedsame revolusie word begin deur gewone mense in hul alledaagse lewens.”

The Artist’s Press

Tamar Mason, ’n kunstenaar, en Mark Atwood, ’n behendige drukkersbaas, is eienaars van The Artist’s Press op Brondal naby Witrivier. “In die kuns-drukkery, gastehuis en ons eie huis ondersoek ons gedurigdeur maniere om ons voetspoor op die omgewing te verlig,” vertel Tamar. “Die keuse om meer omgewingsvriendelik te leef was opwindend en het ons lewens ten goede verander.” Op die vraag of dit dan nie hul lewenstandaard afgebring het nie, antwoord Tamar: “Nee, dit het eerder ons lewenstandaard verhoog. Om omgewingsvriendelik te leef in alles wat ons doen, is prettig en ons spaar sodoende geld.”

’n Besoek aan die The Artist’s Press se webwerf is verstommend! Mark en Tamar se hele eiendom en huishouding word op ’n groen manier bestuur. Die opwinding van so ʼn projek is aansteeklik.

Leef groener:

Son-oonde

Son-oonde gebruik sonenergie om voedsel te kook, op te warm en te pasteuriseer. Dit is relatief goedkoop en gebruik geen brandstof nie. ʼn Mens kan brood bak, vleisgeregte gaarmaak, groente roerbraai en sop en water kook in ’n son-oond – afhangende van die model. Lees meer oor son-oonde by www.sunfire.co.za.

Wonderbag

Die Wonderbag is ’n eenvoudige sak met dieselfde funksie as ’n prutpot. ’n Pot kos word op die stoof tot kookpunt gebring. Dan word die pot in die Wonderbag geplaas en na ’n paar ure is die kos gaar! Die Wonderbag se pryse begin by R230 – ’n klein prys om te betaal vir ’n skoner koolstofvoetspoor.

Erdwurmboerdery

Hoeveel kombuisafval beland elke dag in die asblik? Groente- en vrugteafval, koerantpapier, papierhanddoeke, eierboksies en koffiemoer. Begin ʼn erdwurmboerdery, voer die afval vir die erdwurms en oes die kompos en wurmtee. Volgens Esther Bourke-Wright, tuinboukundige en eienaar van Eco Worm Farms, bevat wurmkompos vyf keer meer stikstof, sewe keer meer fosfor en 11 keer meer kalium as die meeste ander kompos. Boonop verbeter wurmtee die smaak van groente en vrugte en kan dit op plante gespuit word as plaagbeheer.

Hou vars produkte langer vars

IOL skryf dat 9 tot 10 miljoen ton kos jaarliks, volgens dr. Suzan Oelofse van die Raad vir Wetenskaplike en Industriële Navorsing, in Suid-Afrika verlore gaan ten spyte van die feit dat miljoene mense terselfdertyd honger ly. Voedselafval verrot in stortingsterreine en gee metaangas – wat selfs meer skadelik as koolstofmonoksied is – af. Doen jou deel en begin om bederfbare produkte so lank moontlik vars te hou. Een manier om dit te doen, is om nie te veel op ʼn slag te koop nie, maar die regte hoeveelhede. ʼn Ander manier is om GLAD Multi-Fresh Food Storage Bags te gebruik. Hierdie sakkies hou varsprodukte vir langer vars in die yskas. Besoek www.fastmoving.co.za vir wenke.

Hou ʼn klere-uitruilpartytjie     

Klere-uitruilpartytjies is die nuutste gier in sjiek, omgewingsvriendelike idees om jou koolstofvoetspoor te verlig én geld te spaar. Dit kan beskryf word as ʼn herwinningsinisiatief waar klere, skoene, handsakke, boeke, babaklere en dekor-produkte uitgeruil word. Elkeen bring ʼn paar items in ʼn goeie kondisie en ruil dit dan vir ander items. Dit is volhoubaar, prettig en gratis.

Geniet plaaslike produkte

Rowena Tyson bedryf Fountains Herb Farm, ʼn organiese groente-en-kruieplaas buite Witrivier. Fountains lewer elke week groente, kruie en ander tuisgemaakte produkte aan plaaslike handelaars, restaurante en die publiek. Die produkte is kraakvars, van uitstekende kwaliteit en boonop organies. Kyk uit vir ʼn soortgelyke verskaffer van vars produkte in jou omgewing. Tamar bevestig ook: “Ons koop so veel as moontlik plaaslike produkte. Hierdie produkte is varser, boere gebruik minder verpakking en in die proses ondersteun ons sommer die plaaslike ekonomie. As produkte nie in ons omgewing beskikbaar is nie, koop ons so ver moontlik Suid-Afrikaans.”

Bêre jou dakrak in die motorhuis

Volgens Weg!Ry is dit meer koste-effektief om ’n dakrak tussen vakansies af te haal. ’n Dakrak is baie swaar en kan ’n voertuig tot 15% swaarder op brandstof maak.

Vir meer idees:

Laai die Nedbank Green Living Guide af.

Liezel Lüneburg

Meer oor die skrywer: Liezel Lüneburg

Ek is ’n ma. Eerstens. Dit beteken: kok, sieketrooster, huiswerkhulp, tuinwerker, taxi-bestuurder, bewaarder-van-sedes-van-die-kleinspan, taakbouer, dissiplineerder, vrou, gesondheidswerker, huishoudster, bakker, dagboek-op-bene en bidder. Maar ook ’n nie-praktiserende prokureur met ’n LLD-graad in Kinderreg en nou vryskutjoernalis. ’n Goeie boek is onweerstaanbaar. Ek is ewe lief vir internasionale musiek, ’n goeie kunsfliek en die kruietuin langs my lieflike Laeveld-stoep. Kook is ook lekker. En braai. Net nie die gewone braaipraatjies nie...

Deel van: In diepte, Karmenaadjies

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Elsabe ·

GOD het die mens – vir wie HY so lief is hier op aarde geplaas – en ja – definitief is ons slegs rentmeesters – alles behoort aan HOM, en moet ons met groot verantwoordelikheid omgaan met waaroor ons aangestel is, maar dit gaan my verstand te bowe HOE jy kan verklaar dat jy in die ENIGSTE LEWENDE en MAGTIGE GOD glo…. maar nog steeds aan die doemprofete wat aardverwarming verkondig enige plek kan gee in jou denke!! Wat laat voorgenoemde mense dink dat GOD sal toelaat dat die mens waarna Dawid in PSALMS 8:5 verwys SY skepping ruineer voordat HY SY doel daarmee bereik het? Dit is niks minder as ‘n godlasterlike klap na die VADER.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.