Internasionale kankerdag: ‘Stamselle skenk nes bloed skenk’

Sunflower Fund

Foto: Facbook/Sunflower Fund

Daar is soms nog ʼn wanpersepsie oor die skenk van stamselle. Baie mense is onder die indruk dat ʼn groot, dik naald êrens in jou lyf gedruk word om stamselle te verkry – dit is beslis nie meer die geval nie. Volgens Yolandi Pelser van die Sunflower Fund is dit soos bloed skenk.

“Jy kry inspuitings ʼn paar dae voordat jy stamselle skenk sodat jou liggaam ekstra stamselle kan vervaardig. ’n Mens kan dalk ’n bietjie verkouerig voel of lyfseer hê weens dié inspuitings. En dan, soos wanneer jy bloed skenk, word daar ʼn naald in jou arm gesit wat die bloed na ʼn masjien vat sodat die stamselle van jou bloed geskei kan word. Die ‘skoon’ bloed word weer in jou liggaam teruggeplaas deur ʼn naald wat in jou ander arm is.” Volgens Yolandi duur dié proses ongeveer 4 tot 6 uur en jy kan dadelik weer normaalweg voortgaan.

Die Sunflower Fund, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Beenmurgregister, is verantwoordelik vir die instandhouding van dié register. Volgens Yolandi is daar ongeveer 70 000 mense wat geregistreer is en die kans dat jy ʼn versoenbare weefseltipe het, is een uit 100 000.

Stamselle is broodnodig vir siektes soos leukemie. In sommige gevalle is stamselle die enigste behandeling wat die pasiënt ʼn kans op lewe bied. Wat interessant is, is dat ’n mens net een keer in jou leeftyd kan skenk.

Skenkers moet tussen 18 en 45 jaar oud wees. Op die ouderdom van 60 word jy van die register verwyder. Volgens Yolandi is daar baie faktore wat bepaal of jy op die register mag kom. In sommige gevalle word mense dadelik afgekeur:

  • As jy medikasie gebruik wat jy nie vir twee weke kan los nie.
  • As jy plate of skroewe in jou liggaam het.
  • As jy ʼn rugoperasie gehad het.

Die aanvanklike toetse kos ongeveer R2 000 en, indien moontlik, moet ’n skenker dit verkieslik self betaal. Die Sunflower Fund verkies dat ’n skenker die eerste toetse self betaal omdat hul geld beperk is, maar moenie dat dit jou keer om te registreer nie. As jy nie dié bedrag het nie, word jy op ʼn lys geplaas en sodra die Sunflower Fund die nodige geld kry, sal die fonds vir die toetse betaal.

Wat as ek nie ʼn mediese fonds het nie?

Die pasiënt (persoon wat die stamselle benodig) is self verantwoordelik vir alle koste. Al wat hulle benodig, is jou tyd en bereidwilligheid.

Hoe om te registreer:

  • Skakel die tolvrynommer 0800 121 082 en beantwoord ʼn paar vrae.
  • Gaan na jou naaste bloedbank en laat trek twee buisies bloed.
  • Die Sunflower Fund sal jou bel as jy ʼn moontlike skenker is sodat jy vir verdere bloedtoetse kan gaan.

Dit kan jare duur voordat jy genader word. Wanneer jy ’n versoenbare weefseltipe het, kan dit steeds maande duur voordat jy stamselle skenk. Volgens Yolandi gaan dit nie net oor die pasiënt wat stamselle benodig nie, maar ook die skenker se gesondheid.

Besoek gerus die Sunflower Fund se webwerf vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.