Irene-Louise van Wyk oor vrouedag: Vroue is saam kragtiger

Irene-Louise van Wyk (Foto: Verskaf)

“Vroue is saam gelukkiger, kragtiger en magtiger.”

Dit is die kruks van vrouwees vir die popsangeres Irene-Louise van Wyk wat die heel eerste Dag van Vroue-KRAG! in November by die Rockwood-teater in Parkview in Pretoria reël.

Vir Van Wyk is vrouwees iets wat haar na aan die hart lê en daarom het sy besluit om onder haar Speaker’s Profile-bestuursagentskap vir sprekers ’n unieke vrouedag van stapel te stuur. “Ek het gevoel daar is nie genoeg vrouedae nie. Dag van Vroue-KRAG! is nie net nog ’n vervelige konferensie nie, maar ’n prettige dag om vrouwees te vier,” vertel sy.

Van Wyk het aan Maroela Media vertel sy wil met dié vrouedag vroue motiveer en opnuut inspireer. “Ons leef in ’n hartseer, donker tyd in die wêreld. Dit is tyd dat vroue weer hul geluk moet terugvat. Met Dag van Vroue-KRAG! wil ek hê die vroue moet vir ’n kort rukkie die wêreld se dinge in hul lewe opsy skuif en net ’n oomblik van dankbaarheid ervaar.”

Altesaam elf sprekers gaan elk ’n praatjie van tussen 10 en 15minute lewer wat fokus op ’n verskeidenheid van onderwerpe wat vroue van oud tot jonk se harte gaan aanraak. “Elke spreker raak een of ander teer punt in die vrou se lewe aan. Om net ’n voorsmakie te gee: Quinne Brown gaan praat oor die keuses wat vroue moet maak; Leandie du Randt gaan fokus op die uniekheid van vrouwees en hoe jy gemaklik in jou eie lyf moet voel; en Bertha le Roux gaan praat oor die maskers wat ons as vroue dra,” vertel Van Wyk.

Van Wyk vertel hoe sy as tienermeisie self daarby kon baat om na sprekers soos dié te kon luister. “My tienerjare was moeilik. Ek het self iemand nodig gehad wat vir my sou kon sê dat als oukei gaan wees,” sê sy.

Volgens Van Wyk stap die moderne vrou in 2020 met soveel meer uitdagings en druk van talle kante af. Met dié vrouedag wil sy weer vir vroue moed gee dat hulle nie alleen is nie, maar ’n hele ondersteuningstelsel van vroue het. “Deur iemand anders se kers aan te steek, verdoof jy nie jou eie nie. Vroue moet mekaar ondersteun en gereeld komplimenteer.”

Van Wyk se eersteling is verlede maand gebore en sy staar nou as mamma weer ander uitdagings in die gesig. “Jou prioriteite verander sodra jy ’n mamma word. Wat vir my belangrik is, is om nie jouself in die proses te verloor nie. Jy hoef nie net die mamma-rol of die rol as vrou vir jou man te vervul nie. Jy kan nog steeds terselfdertyd jou eie drome as individu nastreef,” sê Van Wyk.

Van Wyk se droom vir die vrouedag is dat elke vrou as eggenoot, mamma of beroepsvrou soveel geluk die dag sal beleef. “Ek wil hê elke vrou moet 100% daar in die oomblik teenwoordig wees. Die belangrikste van als is dat elke vrou na dié dag beter oor haarself en haar lewe moet voel as toe sy daar aangekom het.”

Van Wyk gaan as gaskunstenaar tussendeur al die praatjies ook ’n draai op die verhoog maak en van haar bekendste treffers soos “Sjampanje”, “Hou Jou Hande Van My Lyf afenVergeet Van Mysing.

Elke vrou wat die dag bywoon, kry ’n spesiale geskenkpak asook toegang tot eksklusiewe opwipwinkels vir oud en jonk. “Elke vrou kan vir R25 die vroueteken met henna-kleurstof op haarself laat tatoeëer ter viering van die dag en vrouwees,” vertel Van Wyk opgewonde.

Vir Van Wyk se pa, Louis van Wyk, is dit vir hom ’n groot eer om die Speaker’s Profile– bestuursagentskap vir sprekers wat hy sowat 43 jaar gelede op die been gebring het aan sy dogter te oorhandig op die Dag van Vroue-KRAG! “Ek is dankbaar en weet die dag gaan iets besonders wees en nou kan ek gaan aftree met ʼn rustigheid in my,” sê hy.

Glanspersoonlikhede soos Leandie du Randt, Quinne Brown, Melinda Bam, Hykie Berg, Daniëlla van Heerden, Elsa Esterhuizen, Bertha le Roux, Melissa Swart, Cindy Swanepoel en Je-Ani Swiegelaar gaan as sprekers die dag inkleur met hul motiveringspraatjies. Vir meer inligting oor dié sprekers besoek Speaker’s Profile se webblad.

Kyk ook Irene-Louise van Wyk se nuutste musiekvideo van haar treffer “Iziiit onderaan die berig. Dié video word Woensdag landwyd op sosialemediaplatforms bekendgestel. “Iziiitis as enkelsnit verlede maand ʼn dag voor haar eersteling se geboorte uitgereik. Lees haar ateljee-onderhoud met Maroela Media oor dié enkelsnit hier.

  • Dag van Vroue-KRAG! vind op 3 November om 13:00 by die Rockwood-teater in Parkview in Pretoria plaas. Kaartjies kos R260 en sluit 11 motiveringspraatjies deur bekende sprekers, ’n vertoning deur Irene-Louis van Wyk, en toegang tot eksklusiewe opwipwinkels en spesiale geskenkpakke in. Bespreek jou kaartjies hier.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Zaks ·

Tyd om aan te beweeg. Nog n nuus kanaal / medium het godsdiens & vrou wees Mal geraak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.