Is liefde regtig moontlik sonder ’n vrye wil?

keuses-paadjie-gras

Foto: Free-Photos/Pixabay.com

Deut. 30:19: “Vandag gee ek aan jou die keuse tussen lewe en dood, tussen seën en vloek. Ek roep die hemel en die aarde as getuies vir die keuse wat jy gaan maak. Mag jy tog die lewe kies sodat jy en jou nageslag mag lewe!”

Die lewe bestaan uit keuses. Daar is baie dinge waaroor ons nie beheer het nie, maar wié ons is en waar ons is, is grootliks die gevolg van ons eie keuses. God het nie ons lewe byvoorbaat soos ‘n willose robot of rekenaar geprogrammeer nie.

Nee, natuurlik het God ‘n volmaakte plan vir ons lewe en word ons opgeroep om dit te soek. Helaas is die realiteit dat Sy plan vir ons lewe dikwels verydel word – deur onsself of deur ander. As beelddraers van God is ons, soos die engele, uniek in Sy skepping deurdat Hy ons as morele wesens geskape het wat die reg het om vrye keuses uit te oefen – ja, selfs téén sy wil in.

Bogenoemde Skrifvers maak hierdie feit duidelik. God wil vir ons lewe en seën gee. Tog gee Hy aan ons die reg om te kies tussen lewe en dood, seën en vloek. Hy dring by ons aan om reg te kies, maar Hy dwing ons nie. Hy kán nie, met respek gesê, want ons reg om self te kies, het Hy in ons skepping as Sy beelddraers vasgelê. Hy sou ons as’t ware “ontmens” as Hy hierdie skeppings-gegewe van ons sou wegneem.

Adam en Eva het verkeerd gekies – met katastrofiese gevolge. Dit het sedertdien deel van die menslike natuur geword – tot ons eie smart en skade.

Dit is een van die diepste misteries van die lewe dat God die mens as ‘n vrye morele wese geskape het. Dit kan van geen dier gesê word nie. ‘n Dier word gelei deur sy instinkte en natuurlike drange. Diere is nie morele wesens wat God kan weier en vir Hom “nee” kan sê nie. Daarom kan ‘n dier nie sondig nie. Sonde is altyd ‘n wilsdaad.

As ons menslik daaraan dink, lyk dit amper of God ‘n risiko geloop het deur die mens met ‘n vrye wil te skape. Dit was die enigste plek in die skepping waar dinge verkeerd kon loop. Die mens kon letterlik téén God se wil gaan, vir God “nee” sê. Soos Adam en Eva reeds in die tuin gedoen het. En soos mense vandag steeds doen.

Miskien kan dit die grootste mag van die mens genoem word – die feit dat ‘n klein, eindige mensie vir die almagtige en oneindige God “nee” kan sê! Onthou jy hoe Jesus, die Seun van God, eenmaal oor Jerusalem geween het en gesê het: “Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie!” (Matt. 23:37) “Ek wou, maar julle wou nie.”

Waarom sou God so ‘n risiko loop? Is dit dalk omdat Hy ‘n God van liefde is wat in so ‘n “vrywillige” verhouding met die mens wil staan? Om lief te hê, impliseer immers ’n keuse.  En om te aanbid – wat is dit meer (of minder) as om uitdrukking van jou liefde vir God te gee? Is liefde regtig moontlik sonder ‘n vrye wil?

Om te sondig of om lief te hê – beide is ‘n wilsdaad.

Gebed:

“Here, help my asseblief om keuses te maak wat tot U eer strek. Amen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

linda limbo ·

Dis so so waar
jyt nie altyd beheer oor dinge wat gebeur maar
jy’t wel beheer oor jou reaksie daarop
Here met alles om ons asb help ons om alles te doen tot U eer
dankie maroela ………………… ♥♥♥♥

John ·

Elke keuse het ‘n gevolge. En die Hemelvader is nie aan ons onderdanig nie… Op ‘n dag gaan hy die’ bolletjie aarde tot verantwoording roep. Daar is natuurlik ‘n lewe na hierdie een en die vraag oor waar ons liefde gele het gaan dan ter sprake kom. Mens kan nie maar net besluit of ek Hom liefhet en dis dit nie. Respek en vrees vir hierdie Heilige Opperwese is kardinaal. Hoekom sou knielende magtige wesens volgens die Bybel voor Sy troon ‘Heilig, Heilig’ se as ons aardlinge Hom sommer kan jy en jou en dan eendag vergoed wil word? Wie dink ons is ons? Is liefde ‘n mag waarmee ons onderdanigheid aan ons bewerk?

Jericho ·

Goeie artikel!

Gaan lees gerus die wonderlike boek: Beleef God of in Engels Experiencing God geskryf deur Blackaby. Dit het my hele lewe kom verander en ek kan vandag sê ek het waarlik ‘n verhouding met God.

Frans C ·

Ons is in die eerste plek biologiese wesens,met biologiese drange en natuur.Die skeppingsverhale is nie die eerste geskryf en in die Bybel opgeneem nie.Trouens dit is redelik duidelik dat die eerste skeppingsverhaal geskryf is deur die Joodse bannelinge so tussen 586-539 vC.
Hulle het dit geskryf as teenvoeter vir die baie Babiloniese skeppingsverhale met baie gode,wat soms instryd met mekaar is.Dus een SKEPPER met een gevolg nl die tot standkoming van ons heelal,met alle sigbare en onsigbare dinge.

Hierdie skepping wa nie ‘n kitsskepping nie,want diere is eers oor ‘n lang tydperk ‘mak’
gemaak.Honde afstammeling van wolwe,is eers so’n 12000 jaar gelede deur jagters
mak gemaak,deur klein diertjies te vang en groot te maak.Skape en bokke,beeste en varke tussen 9000 en 7000 vC.
Die skeppingsverhaalskrywers het dus mak diere geken.Wanneer Jesus dus van ‘n wedergeboorte praat en na ‘n nuwe mens verwys dan vind ‘n wonderwerk deur die werking van die Heilige Gees plaas,dit omvorm my gedagte en denke en bring die
menslike (biologiese) sy met struikel en opstaan onderbeheer,

Dit stel my instaat om lief te hê want liefde is diens en word ons dienaars soos Jesus ‘n dienaar vir sy dissipels was by die laaste maal en word die ‘ek’ binne my kleiner en die gestalte van Christus groter.

Mark ·

En wat van beskawings voor kennis bybel?? Hoekom het Egiptenare en Sumefians ver bo almal uitgestyg. Ps…elke era nuwe godsdiens…trace jou beskawings terug en sien delf. Laastens, na gebed se jy amen in elke taal. Loer wies Amen in Egiptiese gides. Lekker lees!

Frans C ·

Mark
Die Bybel is duidelik.As jy reken dat jy volgens die wet lewe,sal jy volgens die wet geoordeel en gestraf word.Daarom was daar iets soos ‘n sondebok.

Jy het dus iemand nodig wat die straf wat voortspruit uit ongehoorsaamheid en nie nakoming van die wet kan dra en na die voltrekking daarvan,die dood kan oorwin en lewe en namens jou as ‘n advokaat en middellaar voor die regter in die finale oordeel kan staan en jou kan vrywaar van ‘n ewige dood,dws ‘n permanente skeiding van jou Skepper.

Dit is net in die Christelike godsdiens wat jy so iemand sal vind en in geen ander godsdiens nie,Daarom is dit net Jesus wat in Johannes 4 kan sê:maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ‘n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.